1 Kon 17:8-24

Wat ’n vreemde verhaal!

  • Elia, die profeet van die Here, gaan bly (in opdrag van die Here) by ’n weduwee in Sarfat by Sidon. Sy was met ander woorde nie ’n Israeliet nie, maar ’n Fenisiër, ’n volksgenoot van koningin Isebel, wat vir ’n groot deel van die moeilikheid verantwoordelik was met haar aktiewe bevordering van die Baäldiens. Was daar dan nie ’n enkele Israeliet oor by wie Elia kon skuil nie?
  • Elia eis die laaste bietjie kos op van hierdie verarmde en versukkelde weduwee. Kon hy nie by iemand gaan bly het wat die middele gehad het om hom te versorg nie?
  • Terwyl Elia daar bly, raak die weduwee se seuntjie dodelik siek, op die punt om te sterf. Is dit nou hoe die Here na mense wat Hom dien, omsien?

‘n Tree terug

Ek dink as ons hierdie gedeelte wil verstaan, moet ons net so ’n klein bietjie terugtree, sodat ons die groter prentjie kan sien. Elia is die man wat God geroep het om Israel van die afgodsdiens van Baäl te bevry en na God toe terug te lei. Uiteindelik sou dit op die konfrontasie op die berg Karmel uitloop, waarvan ons in hoofstuk 18 lees. Daar moes Elia man-alleen stry teen ’n horde Baäl- en Asjeraprofete (altesaam 850 van hulle). Hy moes dit doen sonder die steun van ’n enkele Israeliet, want hulle het geweier om kant te kies.

Hoe kon hy dit regkry? Waar het hy die moed vandaan gekry om só ’n uitdaging aan die afgodsprofete te stel?

Geloofshelde word nie oornag gebore nie; hulle word gevorm op ’n pad waarin hulle leer dat hulle die Here kan vertrou, en dís hoe ons die verblyf in Sarfat moet verstaan. God was besig om Elia voor te berei vir groter dinge. Daarom moes Elia eers ontdek dat God mense se harte kan verander, soos Hy die weduwee van Sarfat verander het om hierdie uitlandse profeet te help, ondanks haar eie nood. En hy moes leer om God te vertrou wanneer hy bid, dat God ’n hoorder en verhoorder van gebed is, toe Hy op Elia se gebed die lewe aan die seuntjie teruggegee het.

Ek vermoed dat daar in jou lewe ook dinge gebeur het wat jy nie mooi kan kleinkry nie. Dalk moet jy dan ook net ’n tree terugtree en bid dat God jou die groter prentjie wys; hoe het die goed wat oor jou pad gekom het (goed en sleg) jou gevorm, voorberei vir jou huidige situasie, of jou op ’n nuwe pad gesit? Dít is hoekom Jakobus kan sê dat ons baie bly moet wees as allerlei beproewings oor ons kom (Jak 1:2). Want dít wat oor ons pad kom, wat God toelaat in ons lewens, gebruik Hy om ons te vorm en toe te rus vir later.

Moenie iemand anders soek om dit te doen nie

Ek verbaas my telkens as ek hierdie verhaal lees, en ook die verhaal van die weduwee se offer by die skatkis (Mark 12:41-44). Ons sal maklik sê, siestog, die arme vrou het niks, vra liewer iemand anders. Ons dink soms oor onsself ook so: Hoekom vra die Here nou juis van mý iets? Is daar nie iemand anders nie? Maar dis nie hoe ons God in die Bybel leer ken nie. Moenie rondkyk en iemand anders soek as God ’n saak op jou hart lê nie. Want as Hy iets van iemand vra, voorsien Hy ook die uitkoms. Augustinus het daarom gebid: “Here, gee wat U vra, en vra dan net wat U wil.”

En dan, net as dit lyk of dinge nou goed loop, word die vrou se kind tot die dood toe siek. En die eerste afleiding wat die vrou maak, is dat dit God se skuld is, dat sy gestraf word oor haar sonde (vers 18). Is dit hoe jy ook oor siekte en teenspoed dink? Dat God besig is om jou te straf, of dat iemand anders wat teenspoed het, se sonde maak dat dit alles gebeur met hom of haar?

Interessant dat Elia die vrou glad nie antwoord op haar verwyt nie. Daar kom tye wanneer ’n mens nie moet praat en redeneer en prekies afsteek nie, maar eerder doen. Wanneer jou stille teenwoordigheid, jou daar wees, jou praktiese ondersteuning meer beteken as woorde. In ’n ander mens se krisis moet ’n mens nie alte slim probeer wees en verduidelik en raad gee en preek nie. Elia stry nie met die vrou nie, maar doen iets: hy gaan bid vir die siek kind.

Koninkrykstyd

Ons is nou in die Koninkrykstyd van die kerklike jaar; die tyd waarin ons nadink oor hoe die kerk, hoe ek en jy, God se koninkryk in die wêreld kan laat kom. Elia wys ons dat dit gebeur, daar waar God se kinders God se teenwoordigheid in ander se lewens indra, sodat die weduwee uiteindelik sê: “Nou weet ek dat u ’n man van God is …”

God se koninkryk in die wêreld kom daar waar God se kinders God se teenwoordigheid in ander se lewens indra

Jou nood voor God

Net ’n laaste aantekening oor ons Skrifgedeelte: ’n mens kan jou verbaas oor hoe Elia met God praat toe hy voor God kniel oor die kind: “Here my God, wil U nou oor hierdie weduwee by wie ek bly, ’n ramp bring deur haar kind te laat sterf?” Vir my vroom gemoed is daar ’n verwytende klank in sy gebed. En tog antwoord die Here hom! Want God is nie ’n koue, afgetrokke, harde God nie. Hy het in Christus Jesus ons Vader geword, ’n God wat omgee vir sy kinders, ’n God wat hoor as ons bid, want ons benoudheid ken.

Moenie bang wees om jou hart voor Hom uit te stort nie! Moenie huiwer om na Hom te gaan met jou vrae en frustrasies en onstuimige gemoed nie. Hy is in Christus jou Vader. Hy verstaan jou nood. Een van die mooiste tekste in die Bybel is Psalm 103:14, waar die psalmis bely dat God weet waarvan ons gemaak is. Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: