1 Konings 21

’n Mens kan jou nogal verwonder dat Nabot weier om ’n stuk grond aan die koning te verkoop. Hy moes sekerlik die gevolge van sy weiering besef het. Hy het tog in die tyd geleef toe koningin Isebel links en regs mense doodgemaak het. Jy kan gerus 1 Kon 18 en 19 lees om te sien hoe goddeloos Isebel was. ’n Mens se grond is tog nie jou lewe werd nie! Dis tog wat die polisie dikwels vir mense sê as hulle beroof word: moenie jou verset nie. Werk saam met die rower. Jou motor of jou selfoon of jou beursie kan vervang word; jou lewe nie.

Maar Nabot het nie só oor die saak gedink nie, want sy grond was nie syne om weg te gee of te verkoop nie. Dit was erfgrond, en daarom was dit die Here s’n. Hy het dit maar net vir die Here bestuur. In Levitikus 25:23 het God dit uitdruklik verbied dat ’n Israeliet sy erfgrond mag verkoop: Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My.

Jy sien, Nabot was nie sommer net ’n koppige ou man wat Agab nie sy sin wou gee nie. Hy was ’n gelowige, en sy weiering spruit uit sy opregte en diepe eerbied vir God en sy gebod. Daarom weier hy, want hy moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense, selfs al is dit die koning.

As ons vra: waaroor gaan hierdie hoofstuk? Wat is die boodskap wat 1 Kon 21 vir ons wil oordra? lê die antwoord waarskynlik o.a. hier. Hierdie gebeurtenis vra van ons: Wat maak jy met dít wat God aan jou gegee het? Is jy ’n goeie rentmeester van God se seëninge? Pas jy dit noukeurig op? Gebruik jy dit tot God se eer?

Hierdie vraag sny natuurlik baie wyd. Dit gaan dan o.a. oor jou geld en jou goed: leef jy só met jou geld en jou goed dat die Here daardeur geëer word? Want jou geld en jou goed is nie joune om daarmee te maak wat jy wil nie. Dis gawes wat die Here in sy groot ruimhartigheid vir jou leen, sodat jy daarmee kan leef, ander daarmee kan dien, en bowenal vir Hom daarmee kan verheerlik. Dis tog die beginsel agter ons dankoffers: alles wat ons het, is die Here s’n, en daarom gee ons aan Hom ’n deel daarvan terug.

Maar dis nie net ons geld en ons goed wat die Here s’n is nie. Dis ook ons talente, ons kragte, ons liefde, ons tyd, ons woorde. Die vraag wat hierdie gedeelte vra, is: leef jy só dat alles wat jy het, die Here verheerlik? “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God,” skryf Paulus in 1 Kor 10:31.

Agab het nie só oor die saak gedink nie. Vir hom was Nabot se vroomheid ’n groot ergernis. Dis interessant dat die Bybel in sy veroordeling van Agab verwys na die feit dat die land nie Israel s’n is nie, maar die Here s’n wat Hy aan hulle gegee het. Vers 26 sê: “Agab het afskuwelik opgetree deur die afgode te dien net soos die Amoriete wie se besittings die Here aan die Israeliete gegee het.”

Die res van die hartverskeurende verhaal ken jy. Ontstellend hoe maklik Isebel die korrupte stadsvaders kon organiseer om Nabot en sy hele gesin (2 Kon 9:26) uit die weg te ruim. En Agab laat haar begaan, want so kon hy sy sin kry: Nabot word met klippe doodgegooi, en Nabot se grond word syne.

Hoe gebeur dit dat ’n mens só deur jaloesie gedryf word dat jy bereid is om te moor? Ek dink die antwoord lê presies hier: as jy nie goed verstaan dat wat jy het, of wat ander het, gawes uit God se hand is nie. Hy gee dit vir ons in sy genade, en ons is alleen maar rentmeesters daarvan, wat dit mag gebruik en geniet, maar altyd met erkentlikheid en verantwoordelikheid teenoor Hom, nie met besitlikheid nie. Jakobus het al gesê (4:1,2): “Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ’n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle.”

Ons sukkel nou maar een maal om bly en gelukkig te wees oor die son wat op ’n ander val. As jou familie of bure se kinders beter presteer as joune; as jou kollega voor jou bevordering kry; as jou vriend ’n meisie het en jy nie; as jou vriendin ’n mooier figuur as jy het ; as dit beter gereën het op jou buurman se plaas – dan krap dit maar hier binne. En dis dan dat jy bitsig teenoor daardie een reageer, of met smaak ’n skinderstorie oor haar oorvertel, of baie vrolik voel as hy teenspoed het.

Liewe gemeente, is dit nie ’n saak waaroor ons ons voor God moet verootmoedig nie? Dat ons nie ons gawes en goed in erkentlikheid teenoor God geniet en gebruik nie? Dat ook óns, wat God liefhet, helaas so dikwels nie mekaar liefhet nie, maar net aan onsself dink?

Lees nou 1 Kon 21:27-29

Weet julle wat het my getref van hierdie hoofstuk? Die ongelooflike genade van God. Kyk, Agab was ’n slegte ou. Ons het iets van sy aard in hierdie hoofstuk gesien. En daarom was Agab die koning wat in die OT steeds as die toonbeeld van ’n slegte koning voorgehou is, net soos Dawid die maatstaf vir ’n goeie koning was. Die Bybel sê van hom (1 Kon 21:25): “Daar was nooit iemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie.”

En wat maak God met hierdie slegte, goddelose koning? Hy kom waarsku hom by monde van sy profeet Elia. En as Agab hom in berou voor God verootmoedig, vergewe die Here hom! Hoor wat sê God (vers 29): “Het jy gesien Agab het hom voor My verootmoedig? Omdat hy hom voor My verootmoedig het, sal Ek die ramp nie tydens sy lewe laat plaasvind nie.”

Ongelooflik. Ongelooflik dat God nie sy rug op Agab gedraai het nie. So is God. Genadig. Hy los nie mense in hulle sonde nie. Daarom het Dawid in Ps 30:6 vol verwondering uitgeroep: “Waarlik, sy toorn duur net ’n oomblik, maar sy goedheid lewenslank.”

Daarom kan ons, sondaars, selfgesentreerde, besitlike, eiesinnige, na-ywerige sondaars, vanoggend in God se teenwoordigheid leef. Want deur Jesus se bloed is ons nie meer sondaars nie, maar verloste kinders van God.

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: