https://youtu.be/OffWW3HC7R0

Ons lewe in ’n wêreld waarin ons gebombardeer word met nuus. Want behalwe die skindernuus wat so dikwels ongevraagd by ons ore uitkom, is daar nog die ander nuus ook, die nuus wat ons oor die radio en op TV en in koerante te siene kry. Nuus wat jou inlig oor wat om jou gebeur, nuus wat jou dikwels depressief laat. Slegte nuus oor moord en doodslag en ’n swak ekonomie en Covid-19 …

Die Bybel weet natuurlik ook van hierdie dinge, en die Bybel waarsku ons dat daar, namate die wederkoms van die Here Jesus nader kom, al meer sulke soort nuus ons ore sal bereik. Maar die Bybel ken ook ander nuus. Die nuus dat God ons liefhet, en hierdie wêreld liefhet, hartstogtelik liefhet, en daarom nie aan onsself oorlaat nie. Die goeie nuus, noem Paulus dit: die evangelie (vs 1). Nuus wat jou nie platdruk nie, maar hoop gee, blydskap gee, en vastigheid onder jou voete te midde van al die slegte nuus wat ons noodgedwonge ook kry.

Paulus vat dié nuus mooi saam in vers 3 en 4: Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.

Hierdie goeie nuus oor Jesus Christus vorm die hart van die geloof, sê Paulus. Die boodskap van Christus se kruisdood en opstanding is die anker waaraan ons moet vashou in ’n wêreld wat baie ánder dinge as goeie nuus verkondig, want hierdie nuus kan jou red (vers 2).

Wat moet ons met die evangelie doen? Wat maak ’n mens met hierdie goeie nuus?

Paulus sê ons moet daaraan vashou. Ons moet vasklou aan die berig oor wat God gedoen het: dat Hy sy Seun na die wêreld toe gestuur het om die wêreld, om jou en my, te kom red. Dit is die boodskap wat jy so goed ken, wat jy vir jou kinders ingeprent het toe hulle nog klein was, die boodskap wat ons in die Sondagskool geleer het, en wat ons dié naweek weer herdenk. Christus het vir ons sondes gesterf; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek.

Aan hierdie boodskap moet jy vasklou, sê Paulus. As jy aan iets anders vashou, het jy tevergeefs tot geloof gekom. Geloof vra dat ek en jy die boodskap van God se verlossing in die Here Jesus met albei arms moet omhels. Nét hierdie evangelie kan jou red. Nie jou goeie lewe nie; nie jou lang gebede nie; nie jou kerkbesoek nie; nie jou hulp aan die armes nie; nie jou eerbare lewe nie; nie jou dankoffer nie. Net die evangelie kan jou red.

Het jy die goeie nuus mooi gehoor? Laat ek dit weer lees: Christus het vir ons sondes gesterf; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek.

Christus is opgewek. Hy leef! Dís die goeie nuus. Dat ons nie maar net ’n wyse profeet wat lank terug gelewe het, se leringe navolg nie. Want dan kon ons net sowel Moslems gewees het, of Boeddhiste, of Confucianiste. Die stigters van hierdie godsdienste was wonderlike mense, wyse mense, maar hulle het gesterwe, net soos ons almal eendag sal sterwe. MAAR CHRISTUS LEEF! Hy is op die derde dag opgewek.

Die evangelie is nie net ’n boodskap nie. Nie maar net ’n klomp verhale wat ons aan mekaar moet vertel of reëls wat ons moet nakom nie. Nee, die evangelie is voor alles ’n Persoon: Jesus Christus is die Evangelie. Hoor weer wat sê Paulus as hy die evangelie aan ons vertel: Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus …

Daarom vier ons vandag Paasfees as die belangrikste fees in die kerk. Ons vier fees omdat ons Here leef. Omdat Hy die sonde en die dood oorwin het. Dit kon Hom nie vashou nie, want Hy is sterker as sonde en dood. En daarom is die tweede ding wat ons met die evangelie moet doen: ons moet Hom navolg. Nie net vashou aan die boodskap dat God ons liefhet en gered het nie, maar ook agter Hom aanloop.

Die Paasevangelie vra nie net van ons om ’n paar goed met ons harte te glo nie. Dit vra veral dat ons ’n nuwe koers sal inslaan: dat ons agter Jesus sal aanloop. Dat ons Hom sal navolg in sy liefde vir mense, in sy weiering om toe te gee aan die verleidings van Satan, in sy volkome gerigtheid op God en gehoorsaamheid aan sy wil.

Nou dink jy heel waarskynlik: maar dis ou nuus. Ons weet dit tog al lankal. Maar die moeilikheid is dat ons dit nie leef nie. Ons is baie meer aangegryp deur Jesus se dood as deur sy opstanding. Ons is baie meer aangegryp deur sy sterwe vir ons sondeskuld, as wat ons gewillig is om met vreugde sy navolgers te wees, nuut te lewe, oorwinnend te lewe. Ons steek in ons geloofslewe vas by die kruis. Ons ween oor ons sonde, ons bely ons skuld oor en oor en oor en oor.

Die Paasevangelie roep ons vanoggend op om óp te staan van ons knieë en jubelend agter Jesus, die Oorwinnaar oor sonde en dood, aan te loop. Om in sy krag op te hou om te skinder, om in sy krag nuut te gaan lewe in my verhouding met my eggenoot, of my kind, of my skoonouers, of my kollega, of my buurman. Om in sy krag die verkeerde verhouding wat ek vertroetel, op te gee. Om in sy krag deel te word van ’n gemeentelike aksie vir die bejaardes, of die jeug, of die sending. Om in sy krag jou aan te meld. Om op te hou sê jy kan nie op die kerkraad dien of by daardie saak inskakel nie, want dié een of daardie een hou nie van jou nie. Om in Christus se Naam reg te maak met mense waar daar dinge skort …

Paulus het dit beleef. Daarom kan hy jubelend uitroep: Deur die genade van die Here is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie … (vs 10).

Jesus Christus het opgestaan. Dit is die evangelie. En in Hom het u en ek óók opgestaan. Dit is óók die evangelie. Kom ons lewe dan soos opgestane mense. Kom ons volg ons Here met vreugde.
Amen.

Skakel die kantoor
%d bloggers like this: