Saul, die eerste koning van Israel, is seker een van die mees tragiese figure in die hele Bybel. Hy was ’n man wat soveel belofte getoon het, ’n man deur die Here self uitgekies en begenadig, maar op die ou end, lees ons, pleeg hy selfmoord, ’n bang mens wat deur die Here verlaat is.

Ons maak Saul maklik af omdat die Bybel ons so leer. Maar as ’n mens daardie verhaal lees, ontdek jy dat Saul ’n baie besondere mens was, baie gewilder as wat Dawid ooit was. Saul het ’n baie spesiale plek in die volk se hart gehad, in so ’n mate dat baie Israeliete nooit regtig vir Dawid aanvaar het nie. Dawid moes sy hele lewe lank teen Saul se spook meeding, want talle Israeliete het lojaal aan die huis van Saul gebly. Uiteindelik was dit een van die oorsake dat die ryk in twee geskeur het ná Salomo se dood.

Wat het dan skeefgeloop in Saul se lewe? Kom ons kyk na die verhaal van Saul soos die Bybel dit vertel.

Ons het gelees dat Samuel ’n volksvergadering byeengeroep het sodat die eerste koning aangewys kon word. En toe die lot op Saul val, was hy nêrens te kry nie: hy het weggekruip by die bagasie, want hy was skaam! Die hele volk het gejuig toe hulle hom sien, en hulle sê: Lank lewe die koning! Daar was egter ’n paar skeptiese manne wat gesê het: Hoe sal hý ons red? Maar daaraan het Saul hom nie gesteur nie. Hy wou nie sy gesag as koning op die mense afdwing nie. Hy het besluit dat hy wel deur sy optrede die mense se respek en lojaliteit sou kry.

Dit het ook spoedig gebeur toe Saul die Israeliete teen die Ammoniete aangevoer het tot ’n klinkende oorwinning. En ook hier sien ons vir Saul, die nederige, sagmoedige man. Toe sy aanhangers ná hierdie groot oorwinning wraak wou neem op diegene wat aanvanklik nie Saul se koningskap wou erken nie, het hy hulle gekeer, want, het hy gesê: Dit was die Here wat die uitkoms gegee het. Dit was nie sy eie goedheid nie.

Só begin die verhaal van Saul: ’n nederige man, wat met groot bekwaamheid die volk tot oorwinning aangevoer het, en tog al die eer aan die Here gegee het. Maar ongelukkig het dit nie so gebly nie. ’n Jaar of twee later het dinge begin verander.

Dit het só gebeur: Israel het teen ’n geweldige oormag Filistyne te staan gekom. Saul het die manskappe opgeroep vir die oorlog en met Samuel afgespreek dat hy ook moes kom om aan die Here te offer voordat hulle uittrek om te veg. Maar sewe dae het verbygegaan, en Samuel het nie opgedaag nie. Die manskappe was doodbang, en hulle het een vir een begin dros. En Saul het self paniekerig geword. En toe besluit Saul: Ek kan nie langer wag nie. Teen sy ooreenkoms met Samuel in, maar nog erger, teen die bevel van God in, bring Saul self die offer.

’n Mens kan Saul se paniek nogal begryp. Hy moes magteloos toekyk hoe sy soldate een vir een wegsluip. Hy het seker gedink as hy nog langer wag, bly daar niemand oor nie! Maar aan die ander kant móés hy tog onthou het van Gideon, wat met net 300 man die magtige leër van die Midianiete verslaan het! Dit het tog net ’n paar dekades voor sy tyd gebeur, en het in Israel se geheue omtrent die plek ingeneem wat die Slag van Bloedrivier by ons Afrikaners inneem.

As Saul tog maar net nog ’n paar uur langer gewag het! Want net toe hy klaar die offer gebring het, kom Samuel hoogs ontsteld daar aan. Saul wou homself nog verontskuldig, maar dit het niks gebaat nie. Wanneer ’n mens die bevel van die Here verontagsaam, help dit nie om verskonings te soek nie. Daar kan baie redes wees waarom ’n mens aan die Here ongehoorsaam is, maar dit maak dit nie reg nie. Die Here duld nie ongehoorsaamheid nie. Wanneer Hy ’n opdrag gee, doen Hy dit met ’n rede, en daarom eis Hy absolute gehoorsaamheid. Dis tog waaroor die Eerste Gebod gaan.

Daarom sê Samuel vir Saul, en ’n mens kan die smart in Samuel se hart hoor as hy die oordeel van die Here uitspreek: “Jy het dwaas gehandel. As jy maar die bevel van die Here jou God wat Hy jou gegee het, nagekom het! Waarlik, dan sou die Here nou jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal vir Hom ’n man na sy hart soek. Die Here sal hóm aanstel as regeerder oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie.”

Dit kon so anders gewees het! As Saul maar net sy skuld wou erken het! Dan sou die Here dalk vir hom nog ’n kans gegee het. Soos Hy met Dawid gedoen het na dié se sonde met Batseba (Ps 51). Maar dit het Saul nie gedoen nie. Inteendeel, ons lees later weer hoe hy ongehoorsaam was, sonder dat hy berou gehad het toe Samuel hom ook dáároor moes aanspreek (1 Sam 15; lees dit gerus, veral vers 22-23).

Saul het so goed begin! Hy het soveel moontlikhede gehad! Die Here het soveel groot verwagtings van hom gekoester! Maar Saul het diep teleurgestel, omdat hy sy eie kop gevolg het, omdat hy nie die Here onvoorwaardelik vertrou en gehoorsaam het nie.

Miskien voel jy by die lees van dié verhaal: Maar is dit dan so erg? Die arme man! Is sy straf nie net té swaar nie? Het hy regtig dít verdien?

Ek het nogal baie oor hierdie kwessie gewonder. Wat was Saul se groot probleem? Ongehoorsaamheid is darem ’n te algemene woord. Ek dink ons moet ander woorde byvoeg, soos eiesinnigheid en koppigheid en ongeduld en ongeloof. Dit was alles deel van Saul se probleem. Hy het sy eie kop gevolg en wou nie wag op die Here se leiding nie. Hy wou God dwing om op te tree op ’n tyd en soos hý dit wou hê, en toe dit nie gebeur nie, neem hy die reg in eie hande.

Hierin was hy natuurlik nie alleen nie. Ons het ander voorbeelde in die Bybel van mense wat deur hulle ongeduld en ongeloof groot hartseer oor hulleself gebring het. Dink maar aan Abram en Sarai wat nie wou wag op God se belofte van ’n eie nageslag nie, en toe kom Hagar in die prentjie, en word Ismael gebore, met al die ellende wat dit gebring het. Of Aäron en die Israeliete wat nie wou wag tot Moses van die berg Sinaï afkom met God se bevele nie, en toe sommer hulle eie god gemaak het in die vorm van die goue kalf.

“Wag op die Here,” skryf die psalmdigters oor en oor. Lees gerus Ps 130. Dinge gebeur nie op jóú tyd en soos jý besluit dit moet nie. Die dinge gebeur soos die Here dit besluit en reël. “Wag op die Here, want by Hom is troue liefde. By Hom is die verlossing seker.” (Ps 130:7).

Dis mos ’n belofte waaraan ons kan vashou! Dís die God met wie ek en jy elke dag kan leef.

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: