Ek dink nie ek is verkeerd as ek sê ons lewe in tye waarin dit toenemend moeilik is om te weet wat is reg en wat is verkeerd nie. Daar was ’n tyd toe ons almal presies geweet het wat is sonde en wat nie. Ons het reëls gehad oor dans en dobbel en Sondagsheiliging; ons het geweet dat apartheid reg is en gays verkeerd. Ons het presies geweet, en die sinodes en predikante het dit baie netjies vir ons uitgespel.

Vandag is ons glad nie meer so seker oor baie dinge nie. Ons weet darem nou dat apartheid sonde is. Oor die hele gay-saak – ek hoef julle nie te vertel hoeveel verdeeldheid en stryery daaroor is nie. Party mense sê dobbel is sonde, en ander koop ewe lustig hulle Lotto-kaartjies. Die winkels is op Sondae oop en ons lidmate stap daar rond met die winkeltrollies. Baie Christen-paartjies beskou dit klaarblyklik nie meer as sonde om soos man en vrou saam te woon sonder om te trou nie.

En dan is daar natuurlik nog die ander groot kwessie wat nou in die nuus is: die liberale teoloë wat allerhande vrae vra oor die Persoon en werk van Jesus; wat beweer dat Hy net ’n goeie mens en groot profeet was maar nie God self nie. Mense wat sê ons kan nie sê Jesus is die enigste weg na God nie. Aan die ander kant weer is daar die Kairos Netwerk wat beplan aan ’n eie sinode binne die NG Kerk vir reformerende gemeentes. En ons lees verder van al meer Afrikaners wat by vreemde gelowe aansluit, soos Boeddhiste.

In Timoteus se tyd was dit ook nie so glashelder om te weet wat is reg en wat is verkeerd nie, want daar was dwaalleraars wat die gemeentelede verwar het met die soort goed wat hulle verkondig; in vers 1-5 verwys Paulus daarna. Dié mense het geleer dat alles wat tot die aarde behoort en alles wat lekker is, uit die bose is en daarom so ver moontlik vermy moet word.

Wat is die kerk se taak in sulke tye waarin daar talle stemme opgaan, vreemde stemme wat mense kan verwar?

Paulus se raad aan Timoteus is heelwat makker as wat ’n mens sou dink. Ek sou gedink het hy sal vir Timoteus sê hy moet mense wat dwaalleringe verkondig, uit die kerk skop en soos die pes vermy, want hulle kan jou net op ’n dwaalspoor laat beland. Maar dis nie wat hy sê nie. Hy sê wel Timoteus moenie met hulle in ’n stryery betrokke raak nie: Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly (vs 7). Maar dit is hoegenaamd nie die kern van sy raad nie.

Kom ons kyk wat sê hy, want dit is raad wat ons almal maar kan hoor wanneer ons wil weet hoe gemaak in ons eie dag:

∙ Timoteus moet die regte leer (soos hy dit in vs 3-5 uitspel) aan die gemeente voorhou (vs 6). Die woordjie voorhou vertel iets van die gesindheid waarmee Timoteus die evangelie moet bring: nie arrogant en uit die hoogte nie, maar in nederigheid. Petrus stel dit só in 1 Pet 3:15,16: Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Ons Christene skep maklik die indruk dat ons al die antwoorde het en dat ons presies weet wat is reg. Ongelukkig klink dit dikwels na beterweterigheid en neersien op ander.

∙ Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe (vs 7). Die woordjie oefen impliseer inspanning en toewyding in jou geloofslewe, en die woord liewer sê waar jou prioriteit moet lê: in plaas van op ander te fokus, kyk liewer na jouself. Die Here Jesus het by geleentheid gesê ons moet eers die balk uit ons eie oog uithaal voordat ons ander links en regs kritiseer (Matt 7:5), dis iets hiervan wat Paulus vir Timoteus leer: moenie so besig wees om ander te wil reghelp dat jy jou eie geestelike lewe afskeep nie.

∙ Wees vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid (vs 12). Paulus skryf op ’n ander plek (1 Kor 9:27): Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie. Ek dink dit is ongelukkig hier waar die kerk dikwels faal in sy roeping: ons eie lewens is nié so dat ander hulle aan ons sal steur nie. Ons is dikwels self liefdeloos, kleingelowig en onrein in die alledaagse lewe, in ons gesprekke en in ons optrede teenoor andere. Hoekom sal mense dan ag gee op die kerk en hulle aan ons steur?

∙ Timoteus moet hom daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee (vs 13). En dan voeg hy by (vs 15): Lê jou op hierdie dinge toe, leef daarin … Maak die Skrif so deel van jou lewe soos eet en slaap. Want uiteindelik is dit net die Bybel wat ons denke en optrede kan vorm onder leiding van die Gees. Miskien is dit een van ons probleme as kerk. Ek weet nie hoeveel van ons lidmate meer getrou die Bybel lees nie. Kan ek vra: lees jy nog jou Bybel? Ek vra nie of jy stiltetyd hou nie. Ek vra nie of jy ’n Bybeldagboek lees nie. Ek vra of jy nog jou Bybel lees. Want dít is die Woord van God wat die lamp vir ons voet is en die lig op ons pad. Niks kan die Woord van God in jou lewe vervang nie. Lees en leef die Bybel.

Ek het netnou gesê Paulus se raad aan Timoteus oor die dwaalleraars is heelwat makker as wat ’n mens sou dink. Maar om dit te volg, is nie so maklik nie. Voordat ons die wêreld kan reghelp en die koers vir hulle agter Christus aan kan wys, moet ons self eers die pad baie goed ken. Om in ’n verwarrende tyd Christen te wees; in ’n tyd waarin daar nie glashelder antwoorde op al ons vrae is nie; om in só ’n tyd vir die wêreld ’n wegwyser na Christus te wees, vra dat ons self agter Hom sal aanloop; dat ons in beskeidenheid en met integriteit die liefde van Christus sal uitleef.

In die woorde van Paulus in vers 16: Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.

Skakel die kantoor
%d bloggers like this: