Die jaar het sommer met ’n sug begin. COVID-19 het ons almal in sy greep. Dit is deesdae nie snaaks om mense te hoor kla nie. Ek dink dit was nog maar altyd so, maar ek meen tog dat ons klagtes die laaste tyd al hoe meer word. Ons kla oor so baie dinge; Covid, die rassepolitiek, Eskom, grondonteiening sonder vergoeding, die vervalle infrastruktuur … En dis maar net vir starters, soos die Engelsman sal sê. Met die verkiesing wat wag, gaan dit nog baie erger word. En dan is daar natuurlik nog die gewone soort bekommernisse en sorge ook, soos my kind wat siek is, die werk wat te hoë eise stel, die brandstofprys, of watter ander beproewing ook al.

Dit is een manier om na ons situasie te kyk: om al jou probleme en sorge raak te sien, en daaroor moedeloos en depressief te word, en te begin kla as jy die geleentheid kry. Maar daar is ’n ander manier ook om na jou situasie te kyk, en dit is wat die Woord ons vandag wil leer: Dat ons moet raaksien dat die lewe God se skool is, ’n skool waarin ons geleer word om van onsself af weg te kyk, na God op te kyk, en die mense rondom ons raak te sien.

Dit is wat Paulus hier skrywe. Hy skryf (v8) van die verskriklikste moeilikhede wat hy in die provinsie Asië ondervind het. Dit swaar wat hy moes verduur, skryf hy, was so erg dat dit ver bo sy kragte gegaan het, sodat hy selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Hy sê dit het vir hom gevoel of die doodvonnis klaar oor hom uitgespreek is (v9). Maar – en dit is wat ons vanoggend moet raaksien – Paulus mor en kla nie daaroor nie. Hy sê dit het gebeur om hom te leer dat hy nie op homself moet vertrou nie, maar op God (v9,10).

Daar, in sy diepste nood, het iets met Paulus gebeur. Hy het ontdek dat hy op God kan vertrou. Dat God hom nooit sal los nie, al gaan dit ook hóé swaar. Dat dit waar is wat Jesus gesê het aan sy dissipels by sy hemelvaart: Ek is by julle, al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matt 28:20). Daarom loof hy God in hierdie paar verse. Hy skrywe (v3,4): Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid uitkoms gee. In elke moeilikheid help Hy ons.

Maar daar het nog iets met hom gebeur. Omdat hyself so swaar gekry het, het sy oë oopgegaan vir die swaar en die nood van ander, het hy deernis, medelye met ander in nood gekry. En het daar een groot begeerte in hom geleef, en dit is om hierdie wonderlike vertroosting wat hyself van God ervaar het, met ander te deel, dat hulle in hulle nood dit ook kan ondervind. Hy sê hier: In elke moeilikheid help God ons. Daarom kan ons ook weer ander help wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig …

Sien jy hoedat Paulus se moeilikhede vir hom ’n leerskool was, waarin God hom geleer het om nie net op Hom te vertrou nie, maar om ook teenoor ander barmhartig te wees? Om ’n oog en hand en hart vir ander te kry?

Dalk sit jy ook op die oomblik in ’n noodsituasie, en voel dit vir jou jy gaan dit nie maak nie. Dalk is die uitdagings van die lewe vir jou een te veel. Dalk is dit ’n siekte waarmee jy baklei, en jy vrees jy gaan die stryd verloor. Dalk is dit ’n verhoudingskrisis waarin jy vasgevang is. Dalk is dit jou geldelike probleme wat vir jou onoplosbaar lyk.

Wat maak ’n mens as jy in ’n krisis kom? Die maklikste is natuurlik om by almal wat wil hoor en nie wil hoor nie, daaroor te kla. Of te sug en te sê dit lyk vir jou God stel nie eintlik in jou nood belang nie. Maar Paulus wys hier vir ons dat daar ’n beter manier is: dat jy wéér sal kyk, dieper sal kyk, op sal kyk, en God se hand, God se sorg, God se teenwoordigheid in jou krisis sal raaksien. En dat jy dan nie net sal opkyk en Hom dank nie, maar ook om jou sal kyk, en sal raaksien dat daar ander mense is wat ook in die nood is; ander mense vir wie jy iets kan beteken. Want ongelukkig is dit so dat ons maklik te veel op onsself ingestel is; dat ons so bewus is van ons eie probleme en swaarkry dat ons God en ander miskyk in ons lewe. Dan leef ons by die nood van ander verby en raak hulle swaar ons nie regtig nie. Jy luister net met ’n halwe oor hoe hulle vertel van hulle swaar, want jy wil eintlik eerder vertel van wat alles in jóú situasie sleg is.

Op ’n manier wat ons nie altyd waardeer nie, is God in ons nood teenwoordig, júís dan, en gebruik Hy ons beproewing om ons te vorm. Want nood leer bid, sê die spreekwoord. Nood leer ons opkyk. Nood leer jou om nie so op jouself ingestel te wees nie, en ’n oog te kry vir ander wat swaarkry. Nood maak mens sag, broos, genaakbaar, sodat jy deernis en begrip kan ontwikkel vir ander in nood. Nood druk ons, brei ons, vorm ons, sodat ons al meer na ons hemelse Vader begin lyk. Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid uitkoms gee. Ons nood, leer die Woord ons, is God se leerskool, sodat ons ook kan leer om ons oor ander te ontferm.

Kom ons kyk daarom met ander oë na die uitdagings wat op ons wag, en na ons eie swaarkry. Kom ons bid dat God dit mag gebruik om ons te vorm, sodat ons barmhartig sal wees soos Hy. Dit is immers die eis van die Woord in Luk 6:36: Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.

Die Woord daag ons vanoggend uit om nie moedeloos op ’n hopie te gaan sit en onsself jammer te kry nie. Nee, ’n Christen se antwoord op swaarkry is om op te kyk en moed te skep, en rond te kyk en jou hande en hart oop te maak.

Nie moaners nie, maar bemoedigers. Dís jou en my roeping.

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: