Ek het lank gewroeg oor die vraag of ek nie dalk vandag ’n ander preek moet maak nie, in die lig van die krisis in ons land. Maar uiteindelik besluit om tóg oor hierdie gedeelte te preek. Ek dink dit kan ons in hierdie tyd help.

Hierdie verhaal is byna soos ’n sprokiesverhaal, nie waar nie? Dikwels, in ’n sprokie, kom ’n feetjie of ’n ding na die ouers as ’n nuwe prinsie of prinsessie gebore is, en dan gee die goeie fee vir dié baba een of ander wonderlike geskenk: skoonheid, ’n lang lewe, ’n liewe geaardheid …Daar was die afgelope week in die  sprokies van Grimm wat nou oor die radio voorgelees word, mos juis ook die sprokie van die towervis, en die man wat aanmekaar teruggaan na hom omdat die vrou net iets beters wil hê.

Wat is jou wens vir jouself, vir die toekoms? Gesondheid? Geluk? Rykdom? Invloed? Of dalk vroomheid? Wat wens jy oor jou lewe? Vir die land? Wat bid jy as jy voor God stil word?

’n Klompie jaar gelede het die Amerikaanse teoloog/skrywer die land laat regop sit met sy boekie oor Jabes se gebed (1 Kron 4:10). Dalk onthou jy dit ook. Skielik wou almal dit bid: Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie. Hierdie gebed was so gewild, omdat dit presies inpas in ons moderne mense se verbruikersmentaliteit…. Vir ons gaan dit ongelukkig in die eerste en laaste plek oor my en my behoeftes. God moet my seën sodat ek lank en gelukkig kan leef.

Maar dis nie wat ons in die Evangelie leer nie. Vergelyk dit ’n bietjie met Paulus se gebed in Fil 3:10,11: Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Meer nog: vergelyk dit met die gebed wat Christus vir ons geleer het, die Ons Vader: Dit gaan in die Ons Vader-gebed eerstens oor God – sy Naam, sy koninkryk, sy wil, en dan eers oor ons – ons daaglikse brood (LW nie rykdom ens nie), ons verhouding met God en met ander, en versoekings.

Wat bid jy vir jouself en jou mense?

Die jong koning Salomo (20 jaar oud) het die kans van ’n leeftyd gehad. Hy het pas koning geword, en toe hy as nuwe koning die Here gaan aanbid, gee die Here vir hom hierdie ongelooflike aanbod (vers 7): “Vra wat Ek jou moet gee.” En uit God se reaksie op Salomo se versoek is dit duidelik dat God geen voorskrifte of voorwaardes met hierdie aanbod gehad het nie. Enige iets!

God noem later self die lysie van goed op wat Salomo sou kon vra: Rykdom, besittings, aansien, oorwinning oor die vyande, ’n lang lewe … Klink vir my ’n bietjie na die goed waarvoor Jabes gebid het, nie waar nie?

Maar Salomo vra nie vir ’n lang lewe en rykdom en vrede en geluk nie. Hy bid vir wysheid en kennis sodat hy die volk reg kan lei (vers 10).

Jy sien, hy vra nie dinge vir homself en vir eie gewin nie. Hy verstaan dat hy ’n roeping het, ’n plek in God se groot plan met sy volk, en daarom vra hy dinge ter wille van God se volk, dat hy hulle reg kan regeer, met wysheid en insig.

Miskien moet ons maar weer na ons lysies van begeertes en wense vir onsself en ons mense kyk. Ek moet bely dat my drome en aspirasies vir myself en my mense baie dikwels meer soos dié van Jabes lyk as wat dit soos Salomo s’n lyk.

Nouja, julle weet almal wat van Salomo se versoek geword het. God antwoord soos net Hy in sy ruimhartige en oorvloedige genade kan antwoord. Salomo kry wysheid en insig soos niemand voor of ná hom gehad het nie. Om die koningin van Skeba hieroor aan te haal: “Ek het nie geglo wat hulle vir my gesê het nie totdat ek gekom en myself oortuig het. Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is oor u groot wysheid nie. U het alles wat ek gehoor het, ver oortref. Hoe bevoorreg is u mense en hoe bevoorreg is hierdie amptenare van u dat hulle gedurig in u diens staan en u wysheid aanhoor! Geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys het …” (2 Kron 9:5-8)

Boonop oorlaai God hom met rykdom, sodat die Kronieke-skrywer opmerk (2 Kron 9:22,26): “Koning Salomo het al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid … Silwer het hy in Jerusalem so alledaags soos klippe gemaak en seders soos die wildevyebome in die Laeveld.”

God het natuurlik intussen nie verander nie. Sy oorvloedige gawes is daar vir ons ook. Daarom kan Jakobus in 1:5 skryf dat as een van ons wysheid kortkom, ons dit van God moet bid, want Hy gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.

Wat bid jy in hierdie dae? Bewaring, beskerming, veiligheid? Natuurlik kan ons daarvoor vra. Dis tog deel van God se sorg, sy daaglikse brood. Maar as ons daarby vassteek en net daarvoor bid, gaan ons nie ons roeping as gelowiges in hierdie land kan nakom nie. Salomo het gevra vir dié dinge wat hom in staat sou stel om sy roeping en verantwoordelikheid in God se koninkryk na te kom.

Die vraag is net: is dit vir jou ’n prioriteit?

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: