Een van die misteries van die lewe is die feit van sonde, en ek gaan nou nie vir julle laat hand opsteek om te sê wie het, of het nie sonde nie.

Hulle vertel mos van die dominee wat die Sondag oor Sonde gepreek het, en toe vra hy dat as daar iemand in die kerk is wat sonder sonde is, moet hy of sy opstaan. Toe staan daar ’n man agter in die kerk op, en die dominee was so half uit die veld geslaan, want sy hele betoog was dat ons almal sonde doen. Daar is eintlik twee weergawes van dié storie. In die een weergawe sê die man hy het maar in solidariteit met die dominee opgestaan, want hy het nie gevoel dat die dominee al een moet wees wat staan nie. Die ander weergawe sê die man het gesê nee, dis nie hy wat sonder sonde is nie; hy staan eintlik op namens sy vrou se oorlede eerste man.

Sonde is ons almal se probleem. Niemand is te goed om dit vry te spring nie, selfs nie koning Dawid nie. Dit is nogal merkwaardig dat hierdie verhaal in die annale van Israel bewaar is, want Dawid was dié koning aan wie alle ander konings gemeet is, die man na God se hart. En tog vertel die Bybel die verhaal sonder om doekies om te draai. Al die grusame detail word oopgevlek, tot ’n mens later siek voel. Dawid, hoe kón jy so laag daal?

Dis onverstaanbaar. Dawid het van beter geweet; móés van beter geweet het. En dit nogal met een van sy top-offisiere se vrou, en ’n ander top-offisier se dogter, die kleindogter van Agitofel, sy raadgewer.

Kyk, hy kon waarskynlik nie help om Batseba te sien bad nie (dalk was dit haar plan en het sy met hom geflirt – wie weet?) So sy sonde het nie gelê in die feit dat hy haar kaal gesien het nie. Dis wat daarná gebeur het, waarin sy sonde lê. Maarten Luther het gesê jy kan nie keer dat ’n voël oor jou kop vlieg nie, maar jy kan beslis keer dat hy in jou hare nes maak. Jakobus (1:14ev) skryf hieroor: “Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.” En dis wat Dawid gedoen het: hy begeer haar, en reageer daarop: hy verneem wie dit is, hy laat haar haal, hy slaap by haar, hy probeer sy sonde wegsteek deur haar man te laat kom in die hoop dat hy by haar slaap sodat niemand sal weet nie, en uiteindelik vermoor hy die man. Hy móés sy spore doodvee, want volgens Lev 20:10 was wat hy gedoen het, ’n doodsonde. Tóé was dit anders as hoe dit deesdae gaan.

Kom ons sê dit weer: wat Dawid in hierdie hoofstuk aanvang, is onverstaanbaar. Maar dis die aard van sonde, nie waar nie: dat jy wéét dis verkeerd, jy wéét jy gaan jouself blootstel vir probleme, en tog doen jy dit! Dis die misterie van die sonde, dat ons dink die (kortstondige) plesier wat ons daaruit kry, kan opmaak vir die probleme wat dit veroorsaak.

En moenie jouself bluf nie: sonde bring ellende, of jy dit wil weet of nie. Sonde verwoes lewens. In hierdie verhaal is Uria se lewe letterlik geneem; Batseba se huwelik is tot niet en haar lewe verwoes; Dawid se vrede was hierna vir goed uit sy huis weg. Jy moenie dink jy kan sonde doen en daar sal geen gevolge wees nie. Dis gewoon dwaas om so te dink.

Die laaste sin in die hoofstuk (11:27c) plaas die hele hartverskeurende verhaal in goddelike perspektief: “Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.” Daarmee sê die Bybelskrywer vir ons: dis nie net dwaas om sonde te doen nie; dit vernietig nie net alles en almal om jou , én jouself nie. Dit is verkeerd in die oë van die Here.

Wat maak ’n mens nou met só ’n hartverskeurende gedeelte in die Bybel?
∙ ’n Mens kan seker jouself verlekker het dink: ag, Dawid het gesondig, so ek kan ook maar. Maar dan hou jy nie rekening met die laaste sin in hierdie hoofstuk nie.
∙ Verstandiger sal wees om te sê: as dit met Dáwid van alle mense kon gebeur, wie is ek om te dink ek kan nie val nie? Versoekings kan enige een van ons oorval, en wie meen hy staan, moet oppas dat hy nie val nie – só waarsku Paulus in 1 Kor 10:12. Daarom moet ’n mens elke dag van vooraf weer na God vlug, dat Hý jou beskerm teen sonde en versoekings (vgl Efes 6:10ev: “Vind jou sterkte in die Here en in sy geweldige krag.”). God het mos vir Kain al gewaarsku in Gen 3: “Die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.”
∙ As ’n mens nie die versoeking van die begin af in die kiem smoor nie, kry die sonde as ’t ware ’n lewe van sy eie. Dis wat Jakobus bedoel het, en ons sien dit ook hier. Die situasie ruk later heeltemal handuit. Hierdie hoofstuk waarsku ons: Oppas! Dis lewensgevaarlik! Moenie!
∙ Ek dink ons moet ook deeglik kennis neem daarvan dat dit sinloos is om jou sonde te probeer verdoesel. Ons sien hier dit maak alles net ’n duisend keer erger. Wat met owerspel begin het, eindig met moord op Urija; Joab word betrek, en baie ander onskuldiges verloor óók hulle lewe in die geveg. Buitendien, God weet daarvan. Hy weet alles, ook dit wat jy in die geheim doen of sê.
∙ Natuurlik veroordeel God nie net die verkeerde wat ons doen nie, en help Hy ons ook nie net om teen die sonde te stry nie. Nee, Hy neem ons sonde op Hom en dra dit in ons plek, dra die straf daarvoor in ons plek, en sterf daarvoor in ons plek. Iemand het gesê eintlik behoort daar ’n bordjie buite die deur van die kerk te staan: “SLEGS SONDAARS”.

Skakel die kantoor
%d bloggers like this: