https://youtu.be/YRSa0xT1BMQ

Sommer net so terloops, ons lees hierdie selfde verhaal ook in 1 Kron 21. Die eerste vers verskil egter in die twee vertellings. In 2 Sam 24 lees ons dat die Here Dawid aangehits het om ’n sensus te hou, en in 1 Kron 21 staan daar dat dit Satan was wat Dawid aangehits het. Hier het ons ’n voorbeeld van hoe verskillende skrywers dieselfde gebeurtenis vertolk. Die skrywer van die Kronieke-boeke het die duiwel se vingerafdrukke gesien in wat gebeur het, maar die skrywer van 2 Samuel het geglo alles wat gebeur, moes by God verbykom, en daarom sê hy dit was God.
Maar dit net so terloops. Die Bybel is ’n interessante boek!

Ek wil hê jy moet ’n oomblik jou oë toemaak, en dan dink jy oor jou lewe. Dink aan alles wat jy “joune” kan noem – jou drome en ideale, jou eggenoot en gesin, jou werk, jou talente, jou ontspanning, jou vriende … Vorm ’n prentjie daarvan in jou kop.
Dink nou vir ’n oomblik oor die vraag: Waar pas God in dié prentjie in?

Dis oor dié vraag wat die verhaal wat ons saam gelees het, gaan: oor waar God inpas in mense se denke en lewe en wêreld. Om dit te verstaan, moet ons ’n oomblik teruggaan na waar Israel vandaan kom. Israel het die land waarin hulle gewoon het, as ’n geskenk van God ontvang. Toe hulle destyds in die land ingekom het, het hulle dit nie met mag en vernuf ingeneem nie. Dit was ’n geskenk van God. Daarom het die Jordaan, wat in vloed was, gaan staan sodat hulle kon deurtrek om in die land te kom. Daarom het Jerigo se mure omgeval sonder dat hulle ’n vinger gelig het. Want uiteindelik was die land Gód s’n, en het Hy dit aan hulle gegee om in te woon. Dit was nie hulle s’n om mee te maak wat hulle wou nie.

Daarom ook was die koning iemand wat Gód aangewys het. Dawid het nie sy pa opgevolg as koning van Israel nie. Dawid is deur die Here gekies en gesalf, aangestel en toegerus, om koning te wees van God se volk. Hy was wel koning, maar die eintlike Eienaar van die mense was God, nie Dawid nie.

En nou, aan die einde van sy roemryke regering, laat Dawid die mense tel. Hoekom? Om te sien hoe ’n groot koning hy is; hoeveel mense hy onder sy gesag het; hoeveel onderdane hy het. Dít was Dawid se sonde: dat hy oor Israel begin dink het as sýne. Sý land, sý mense, sý onderdane. Iewers het God se gawe in sy eie kop opgehou om ’n geskenk te wees, en het hy daarop beslag gelê, het hy gedink dis syne. Hý het immers die koninkryk bestendig deur sy militêre vernuf. Hý het Israel se vyande verslaan; iets wat niemand voor hom kon regkry nie. So het hy geredeneer. Dís hoekom die Here hom straf, en duisende van sy onderdane met die pes omkom: omdat hy op God se mense beslag wou lê.

Die Israeliete het dieselfde gedoen. Hulle het gedink dis húlle land, en hulle kan self besluit wie hulle koning moet wees. Daarom het hulle vir Dawid, die gesalfde koning van die Here, verwerp en agter Absalom aangeloop, sodat Dawid in die staatsgreep uit Jerusalem moes vlug (2 Sam 15-20). En dis hoekom die pes die vólk tref, en nie vir Dawid nie, want hulle het die Here se keuse van ’n koning verwerp en wou hulle eie kandidaat hê.

Dis hoekom ek sê: hierdie verhaal gaan oor die vraag waar God inpas in mense se lewens. In jou en my lewe. Watter rol speel Hy in jou denke, in jou wêreld, in jou lewe en drome en besluite en begroting? In jou gebede en aanbidding? Gaan dit oor Hom? Of gaan dit oor wat jý wil hê?

Natuurlik gaan dit oor God. Dis tog hoekom ons aan die kerk behoort, nie waar nie? Omdat ons bely dat God Heer is oor ons hele lewe. So, daar is nog ’n vraag wat hierdie verhaal voor ons lê: hoe wys jy dit dat jou lewe oor God gaan? Hoe sê jy vir God dat jy Hom bely en eer as die Here van jou hele lewe?

Dawid help ons baie in hierdie gedeelte. Want die pes stop net buitekant Jerusalem, en Dawid gaan na Arauna, die eienaar van die dorsvloer waar die pes gestop het, om die grond by hom te koop, sodat hy daar ’n offer aan die Here kan bring om dankie te sê vir sy genade dat Hy die pes na net ’n dag, en nie drie dae nie, gestop het. Dan sê Arauna vir hom: Vat sommer die dorsvloer verniet, en vat sommer my beeste waarmee ek gedors het, en gebruik dit as ’n offer. Ek gee dit alles vir jou present. En dan sê Dawid hy wil dit nie verniet hê nie, want hy bring nie offerandes aan die Here sy God wat hom niks kos nie.

Mag ek vra: Wat kos jou offers aan die Here jou? Hoe vat dit aan jou beursie? Aan jou tyd? Aan jou energie? Aan jou drome? Aan jou lewe en prioriteite?

Daar is twee vrae waarmee hierdie gedeelte ons konfronteer:
1. Hoe pas God in jou lewe in? Hoeveel kopspasie gee jy aan Hom?
2. Wat kos jou dankbaarheid jou?

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: