Eksodus 3:1-15

Ons het elkeen ’n naam, en ons voel almal baie besitlik oor ons naam. Ek onthou vandag nog baie goed iets wat gebeur het toe ek nog ’n student aan die Kweekskool was. Ek was nie baie lus vir die klas nie, en toe dag ek ek gaan die dosent vra of ons kan gaan koffie drink, eerder as dat ons in die klas sit. Ons het dit ’n koffieklas genoem.
Daar het ’n toffie op die dosent se tafel gelê, toe wys ek na die toffie en sê vir die dosent toffie rym vir my met koffie, so nou het ek sommer lus geraak vir koffie, of ons nie maar kan gaan koffie drink nie.
Toe sê die man vir my: Ja, maar Thom rym vir hom met dom, so ek moet sit, ons gaan klas hê.
Almal het gelag, maar ek het baie seergemaak gevoel. Want hy het my naam gebruik om my belaglik te maak, en dít was vir my baie, baie sleg.

’n Mens moenie grappies oor iemand anders se naam maak nie, want ’n mens se naam is deel van wie jy is en van hoe jy oor jouself dink.

Die ding is, jou naam is deel van jou identiteit. Dis hoekom ’n grappie oor my naam nie vir my snaaks was nie. En hoekom ons so heftig reageer as daar aan name getorring word.

Maar: as óns so sensitief en jaloers oor name is – God ook! Want sy Naam is eintlik Hyself. Sy Naam sê Wie Hy is. Sy Naam is: “Ek is wat Ek is.” Ek is altyd daar, was altyd daar, sal altyd daar wees, en sal altyd dieselfde wees. Ek is nie ’n wispelturige God nie. Soos Ek vir Abraham en Isak en Jakob God was, is Ek steeds. Ek is wat Ek is.

As Jesus, die Seun van God, mens word, noem Hy Homself óók “Ek is”, en kom gee Hy daarmee nuwe inhoud aan God se Naam. Ek is die ware wynstok. Ek is die lig vir die wêreld. Ek is die ingang. Ek is die goeie herder. Ek is die weg, die waarheid en die lewe. Ek is die opstanding en die lewe. En later, op Patmos, sê Hy: Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Lewende.

Die derde gebod gaan oor God se Naam. God se Naam is Hyself. Ons mag nie sy Naam ligtelik oor ons lippe neem nie. Hy gee nie sy Naam vir ons om ons nuuskierigheid te bevredig nie, of sodat ons ’n woord het wat ons kan uitroep as ons skrik of gewig aan ons woorde wil gee nie, of waarby ons kan sweer as ons bang is die mense sal ons nie glo nie. Hy gee sy Naam vir ons sodat ons met Hom kan praat in die gebed, sodat ons sy lof kan besing, en sodat ons oor Hom kan getuig en vir ander van Hom kan vertel.

Miskien moet ek op dié punt net ’n oomblik stilstaan sodat ons oor die vraag kan nadink: Hoe gebruik jy God se Naam? Praat jy nog gereeld met Hom? Het jy al vandag met Hom gepraat? Hom geloof in die week wat verby is? Het jy in die week van verby is, met iemand anders oor Hom gepraat? Want as ons dit nié doen nie, minag ons mos sy Naam, dan nie?

’n Ander aspek wat ons nie mag vergeet as ons oor God se Naam praat nie, is die feit dat ons onsself “Christene” noem. Daarmee sê ons ons glo in Jesus Christus. Ons dra met ander woorde Jesus se Naam met ons saam. En dis nogal ’n groot verantwoordelikheid!

Daar is min dinge wat my so kwaad kan maak, as wanneer iemand praat van “julle Thoms”, want dis meestal nie in vleiende terme wat mense so praat nie. “Julle Thoms is almal so,” is genoeg om my rooi te laat sien.

Dink ’n bietjie hoe God moet voel oor die goed wat mense oor “julle Christene” kwytraak. En – en dis die hartseer – ongelukkig is die goed wat mense oor “julle Christene” sê, nie altyd sonder grond nie. Die goed wat ons doen, die manier waarop ons veroordelend na ander kyk en van ander praat, die meerderwaardige manier waarop ons ander se standpunte afkam, die liefdeloosheid waarmee ons soms optree, is alles redes hoekom die benaming “Christen” lank nie meer die eretitel is wat dit in Antiogië was nie. Hoe het die Indiese leier Ghandi nou weer gesê? Hy het gesê hy hou baie van Christus, en hy sou graag sy volgeling wou wees, maar as hy na Christene kyk, stel hy nie meer belang nie.

Om God se Naam nie te misbruik nie, is baie meer as om weg te bly van uitdrukkings soos “Oh my God!” of “Nee, liewe Here, man!” Dit vra van my dat ek God sal eer en trots maak in die manier waarop ek oor Hom praat en met Hom praat, en in die wyse waarop ek leef.

Kom ons eer Hom dan in ons lof, in ons gebede, in ons getuienis en in ons lewens, sodat Hy met trots na ons kan kyk en sê: Julle is Myne!

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: