Wat, dink julle, sal jou ma maak as jy die splinternuwe koppies wat sy gekoop het, vat en stukkend gooi teen die vloer?

En dit is presies wat Moses hier gedoen het. Hy het die twee plat klippe wat die Here vir hom gegee het, waarop die Here sy wet gegraveer het, gevat en dit stukkend gegooi. Ek het altyd, toe ek klein was, gewonder hoekom Moses dit gedoen het. Dit was mos ’n uiters kosbare besitting! Die Here het immers sy wet met sy eie vinger daarop geskrywe, sê 31:18. En wat doen Moses? Hy het dit skaars gekry, toe gooi hy dit flenters.

Nou staan hier in ons teksvers dat Moses, toe hy die goue kalf en die dansery sien, woedend geword het en die twee plat klippe in sy hand flenters gegooi het teen die voet van die berg. En daarom het ek altyd gedink dit was omdat hy kwaad geword het. Hy het dit mos ’n ander keer ook oorgekom, toe hy so kwaad geword het vir die morrende en klaende volk dat hy nie met die rots gepraat het sodat daar water moet uitkom, soos die Here gesê het hy moet doen nie, maar dat hy sommer die rots twee maal geslaan het met sy staf (Num 20). En julle weet mos dat die Here hom daaroor gestraf het, sodat hy nie die Beloofde Land kon ingaan nie, maar dood is voordat hulle oor die Jordaan getrek het.

Maar hier lees ons nie dat die Here met hom ontevrede was omdat hy die plat klippe stukkend gegooi het nie. En later, toe hy weer na die Here opgeklim het en God vir hom twee nuwe plat klippe met sy wet daarop gegee het, het die Here ook nie met hom daaroor gepraat of met hom geraas omdat hy dit stukkend gegooi het nie (Eks 34:1).

Daar was ’n baie goeie rede waarom Moses die klippe stukkend gegooi het. Dit was nie sommer ’n onbesonne daad wat Moses uit woede en frustrasie gedoen het nie.

Miskien sal dit ons help om mooi te verstaan hoekom Moses dit gedoen het, as ons ’n oomblikkie kyk na wat hierdie twee klippe presies was. In die tyd waarin Moses geleef het, was daar nog nie iets soos papier nie. As mense iets wou aanteken, veral iets baie belangriks, het hulle dit op ’n plat klip uitgekap, sodat dit behoue kon bly. Veral ooreenkomste en kontrakte is so op plat klippe, of ook kliptafels genoem, ingegraveer. Wanneer daar dan bv ’n ooreenkoms tussen twee konings aangegaan is (’n verdrag gesluit is), is hierdie verdrag op twee kliptafels gegraveer, sodat elkeen van die konings of partye wat die verdrag sluit, ’n afskrif van die ooreenkoms kan hê. Ons doen dit vandag nog. As jy ’n kontrak met iemand sluit, word die kontrak in duplikaat opgestel sodat albei ’n afskrif kan hê, ’n bewys dat die ooreenkoms aangegaan is. Bv as jy by die winkel iets gaan koop, dan druk die kasregister twee strokies uit van die goed wat jy koop: een gee die kassier vir jou as bewys dat jy betaal het, en die ander bly in die kasregister.

Dit is wat hier gebeur het. God het ’n ooreenkoms of kontrak met sy volk Israel gesluit. Ons noem hierdie ooreenkoms die verbond. En die voorwaardes vir sy verbond, sy ooreenkoms met sy volk, is op twee plat kliptafels geskrywe. Dit was die wet van die Here of Tien Gebooie (Eks 20).

Ons praat mos altyd van die eerste en die tweede tafel van die wet: Die eerste tafel het die eerste 4 gebooie op, wat handel oor liefde vir God, en die tweede tafel het die laaste 6 gebooie wat handel oor ons liefde vir ons naaste, daarop. Dit kom nou van hierdie twee tafels wat Moses by hom gehad het, omdat mense gedink het die eerste 4 gebooie is op die een klip geskryf, en die ander 6 gebooie op die ander een. Maar eintlik is dit nie reg nie. Die twee kliptafels wat Moses by hom gehad het, was twee afskrifte van dieselfde wet. Op albei klippe het die volledige Tien Gebooie gestaan. Die een kliptafel was die Israeliete se afskrif, en die ander een God s’n.

Nou moet ons dit mooi verstaan: Hierdie twee plat klippe met die Tien Gebooie daarop, was die bewys van die ooreenkoms wat God met sy volk aangegaan het. Dit was die kontrak waarin God vir sy volk sê: “Ek is julle God wat julle uit Egipte verlos het. Ek het julle lief en sal vir julle sorg.” En dan vereis Hy in dieselfde kontrak van sy volk: “Julle moet My liefhê en my gebooie gehoorsaam.”

Moses het as ’t ware namens die volk Israel hierdie verbond met die Here daar op die berg gesluit. Moses het namens die Israeliete daar op die berg aan God belowe dat hulle Hom sal liefhê en gehoorsaam. Maar wat gebeur terwyl hy op die berg is? Die Israeliete het die goue kalf gemaak en dit aanbid.

Toe Moses van die berg afkom en sien wat gebeur, het hy net geweet: Daar kan nie sprake daarvan wees dat daar ’n ooreenkoms tussen die Israeliete en God kan wees terwyl die volk afgode maak en dien nie! Die heel eerste stipulasie van die kontrak sê immers dat hulle geen ander gode mag hê of dien nie. Maar voordat die Israeliete eintlik die kontrak wat die Here met hulle wou sluit, kon aanvaar, het hulle al klaar hulle rug op God gedraai!

Dáárom gooi Moses die kliptafels stukkend. Want die ooreenkoms wat op die klippe neergeskryf is, bestaan nie. Die Israeliete het kop uitgetrek. Hulle het nie die verbond wat God met hulle wou sluit, aanvaar nie – hulle het God verwerp en ’n afgod gemaak. Dis soos ’n man wat ’n motor wil koop, en die agent stel die koopkontrak op, maar as die man moet teken, trek hy kop uit. Al wat jy dan kan doen, is om die kontrak op te skeur en weg te gooi, want die kontrak is nie geldig nie. En dis presies wat Moses hier gedoen het: Hy gooi die kontrak, die kliptafels, stukkend, want die ooreenkoms tussen God en die volk is tot niet.

Want ’n mens kan nie wil sê die Here is jou God, en die Here Jesus het met sy bloed jou sondes afgewas, en terselfdertyd lewe jy soos jy wil en jy steur jou nie aan die Here nie. Jy kan nie sê die Here is jou alles, maar jou geld of jou vriende of jou sport weeg eintlik swaarder as jy besluite neem nie.

Dit het die Israeliete ook daardie dag uitgevind toe Moses die kliptafels stukkend gooi. Op die einste kliptafels het daar nie verniet gestaan dat die Here onverdeelde trou aan Hom eis nie. Die Here duld dit nie om net ’n gedeelte van ons hart en ons liefde te hê nie. Hy wil ons hele hart hê. Net dit is goed genoeg. Jy behoort òf met jou hele hart aan Hom, òf glad nie. Daar is nie ’n tussen-in pad nie.

Die eerste gebod kom nie net ter sprake wanneer ’n mens ’n afgodsbeeldjie in jou huis het nie, of wanneer jy met ’n ander godsdiens soos Boeddhisme deurmekaar raak nie. Calvyn het oor die eerste gebod geskryf dat die mens ’n afgodsfabriek is. Enige iets, hoe onskuldig ook al, kan in jou hande en jou hart ’n afgod word wat uiteindelik vir jou meer beteken as God self.

Ek is seker nie een van ons wil lewe los van die Here se sorg en liefde nie. Kom ons kom dan ons kant van die ooreenkoms na: Kom ons lewe vir die Here!
Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: