Here ons God

Toe die kerkklokke vanoggend so vrolik begin lui het, het dit ons herinner daaraan dat daar vanoggend ’n erediens is. En daarom het ons met vreugde opgekom na u huis, om hier vir U te kom aanbid. Dankie dat U ons met uitgestrekte arms ingewag het, Here. Dankie dat ons, toe ons die kerk ingestap het, kon weet: U is hier. Dit is u huis hierdie. En daarom, Almagtige God, dankie dat ons hier in u huis die rus en vreugde kan beleef van mense wat tuis gekom het in die teenwoordigheid van hulle hemelse Vader.

O Vader by wie ons geborgenheid gevind het, ons aanbid U!

Ons aanbid U, Here Jesus, U wat vir ons geword het die krag van God en die wysheid van God, U wat die Weg en die Waarheid en die Lewe is, U wat ons Verlosser is, maar ook ons Vriend, ons Hoof en Heer, U wat ons oudste Broer geword het op Golgota! Dankie dat U vir ons kom leer het hoe om te lewe, dat U vir ons die pad wat uitloop op die hemelstad kom voorleef en voorloop het, en dat ons kan volg in u voetstappe.

O Seun van God, U wat in die volheid van die tyd gekom het sodat ons gered kan word en kan lewe, ons aanbid U!

O Heilige Gees, ons dank U dat U op Pinksterdag uitgestort is op die kerk, dat U vandag nog in die kerk is en in ons harte woon, dat U gekom het om ons in die hele waarheid te lei, dat U gekom het om ons aan Jesus Christus vas te bind, sodat ons in verbondenheid met Hom die lewe kon vind. Dankie vir u Woord, die Bybel, wat U geïnspireer het en tot vandag toe nog gebruik om u kerk te lei. Wil U dit tog vandag ook doen, in hierdie erediens, sodat ons in u Woord die wysheid van God mag ontdek.

O Heil’ge Gees, ons bid U weer
– Gees van ons Vader en ons Heer –
maak van ons hart u woning!
O Gees van God wat in ons skyn;
die donker in ons laat verdwyn –
kom vul u tempelwoning!
Kom, Heer, ons Heer;
en versier ons met u deugde, gee ons vreugde.
Heer, U is die hoogste vreugde.

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: