Esra 9:4-10

Almal wat by die gedagte aan die opdragte van die God van Israel vreesbevange was oor dié troueloosheid van die mense uit die ballingskap, het by my kom staan. Ek het maar net verslae daar gesit, tot die tyd van die aandoffer toe. Maar teen die tyd van die aandoffer het ek daar opgestaan waar ek my met my geskeurde klere verootmoedig het, op my knieë geval en my hande in gebed uitgestrek na die Here my God. Ek het gebid:

“My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog. Van die tyd van ons voorvaders af tot vandag toe is ons bestaan vol oortredings teen U. Dit was deur ons sondes dat ons, ons konings en ons priesters in die mag van heidenkonings oorgegee is. Ons is doodgemaak, gevange geneem, geplunder; smaad het oor ons gekom en dit is nou nog daar.

“Nou, ‘n kort oomblikkie, het daar vir ons genade gekom van die Here ons God. Hy het die klompie van ons laat vrykom en ons hier in sy heilige plek vastigheid gegee. Ons God het ons weer laat lewe, ons ‘n oomblik laat asem skep na ons slawerny. Ons was slawe, maar ons God het ons nie slawe laat bly nie. Hy het die Persiese konings goedgesind gemaak teenoor ons, en hulle het ons die kans gegee: ons kon die tempel van ons God opbou, ons kon hom uit sy ruïnes laat herrys, ons het ‘n toevlug gekry hier in Juda en Jerusalem.

“Maar wat kan ons nou sê, ons God, na dié dinge? Ons het u gebooie oortree.”

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: