Vandag is die derde Adventsondag. Dit beteken dat ons nou halfpad met die Advent is; daarom het ons ook vandag die pienk kers opgesteek om te sê: die wagtyd is oor die halfpadmerk. Dié dag se tema is daarom ook: vreugde, en dit is ook waarom hierdie besondere teks vir die 3e Advent voorgeskryf word. Paulus sê ons moet bly wees.

Dis nogal nie so ’n eenvoudige opdrag soos dit klink nie, soos jy waarskynlik aan jou eie lyf kan voel. Huisdokters sal vir jou kan vertel dat die knellendste probleem waarmee hulle te kampe het, die feit is dat so baie van hulle pasiënte voel dat die lewe nie meer die moeite werd is nie. En veral hier aan die einde van die jaar wanneer ons almal moeg en op is, en ons nerwe maar dun. Om dán bly te wees, is nie ’n grap nie. Dis harde werk.

’n Baie bekende Amerikaanse prediker, Charles Spurgeon, was in sy latere jare professor aan ’n Amerikaanse kweekskool. In sy preekkunde-klasse het hy vir sy studente geleer dat hulle gesigte moet saampraat as hulle preek. As hulle oor verlossing en die hemel preek, moet hulle gesigte iets van die hemelse heerlikheid en blydskap uitstraal, het hy gesê. En as hulle oor die hel preek, het hy gesê – nouja, dan kan hulle maar lyk soos hulle altyd lyk. Hulle gewone gesigte goed genoeg.

Hoe lyk jóú gesig, broer en suster? Kan mense in jou gesig iets van die blydskap sien wat ons deel is as kinders van God?

Miskien moet ek hier aan die begin sê: dit gaan nie in dié opdrag van die Here om vrolikheid nie. Daarvoor is daar natuurlik óók plek in ons lewe voor die Here. Maar hier gaan dit nie om vrolikheid nie. Want vrolikheid is afhanklik van die omstandighede waarin jy is. Daarom beveel die Bybel aan die Israeliete dat hulle op die groot jaarlikse feeste vrolik moet wees voor die Here. En ’n mens sou sekerlik kon sê dat dit ook iets is wat die Here in die komende Kersfeestyd van ons verwag: om vrolik te wees, want ons vier dan fees.

Maar vrolikheid gaan verby wanneer die fees oor is. Ek bid van harte dat jy nie, soos Koos Kombuis ’n jaar of wat gelede geskryf het, beplan om die dag ná Kersfees met ’n “hang-over” wakker te word nie. Maar natuurlik is ons met Kersfees vrolik; help die geskenke en die saamwees en die saam kuier en saam eet en alles wat met Kersfees saamgaan, ons om vrolik te wees.

Maar dis nie wat Paulus in gedagte gehad het toe hy ons opgeroep het om bly te wees nie. Hy het geweet dat bly-wees juis nie soos vrolikheid is nie. Dis asof hy ons kan hoor terugpraat as hy ons oproep om bly te wees. Daarom voeg hy by, nadat hy geskryf het: “Wees altyd bly in die Here!”, nog ’n sinnetjie: “Ek herhaal: Wees bly!”

Jy sien, partykeer kan jy met die eerste oogopslag nie mooi verstaan waaroor jy nou eintlik bly moet wees nie. Wanneer jou kar breek, wanneer jou bankbestuurder bel, wanneer jou kinders jou teleurstel, wanneer die dokter slegte nuus het, wanneer die rapport nie goed is nie, wanneer daar probleme by die werk is, dan, sê Paulus, moet jy maar ’n slag diep asem haal, op jou tande byt en weer ’n slag kyk; mooi kyk, en raaksien dat die Here in jou lewe teenwoordig is. En bly wees in die Here.

Ons blydskap lê nie in onsself nie. As ’n mens mooi na hierdie teksvers kyk, sien jy dat die hele oproep om bly te wees, ingebed is in die wete dat die Here teenwoordig is. In vers 3 skryf Paulus van die boek van die lewe, wat onwillekeurig sy gedagtes rig op die wete dat die Here weer kom, en daarom breek die blydskap in sy brief deur. Die Here kom weer! En in die volgende vers, vers 5, sê hy: Die Here is naby. Hy is by ons. Daarom is die blydskap waartoe hy ons oproep, nie vrolikheid nie, maar blydskap in die Here. Want as jy weet dat jou lewe opgevang is in die wonderlike sorg van die Here, kan jy ophou om jou moeg te maak oor wat ander mense sê en doen, kan jy ophou om besorg te wees oor wat môre gaan gebeur of nie gaan gebeur nie. As die Here naby is, maak dit mos nie regtig saak nie!

Dit is presies die betekenis van Kersfees: die fees van Immanuel, God by ons. Daarom sê die engel aan die skaapwagters van Betlehem: “… ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap …” (Luk 2:10). Want in die teenwoordigheid van die Here, en oor sy nabyheid, kan ’n mens nie anders nie as om bly te wees.

Daarom is hierdie blydskap in die Here nie ’n blydskap omdat dit goed gaan met jou huwelik, of in jou werk, of jou verhoudings, of met jou gesondheid nie – daaroor kan ’n mens natuurlik ook bly wees. Maar dis nie ’n blydskap omdat nie; dis ’n blydskap ondanks. Ondanks dinge in my lewe wat nie is soos ek dit graag wil hê nie, want ek weet: die Here sorg, omdat ons weet, soos Paulus aan die Romeine (8:28) skryf, dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hy liefhet. Alles wat gebeur, is nie goed nie, maar in God se hande word selfs die kwaad opgevang en buig Hy dit om totdat vir ons ten goede word. In Rom 12:12 skryf hy: Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. En in 1 Tess 5:16-18 sê hy: Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

(Terloops, Paulus is in die tronk terwyl hy hierdie brief skryf. Dis nie ’n klomp teorie wat hy vir ons oordra nie; dis iets wat hyself beoefen het. Dink maar aan Hand 16, toe hy en Silas in die tronk in Filippi was, stukkend geslaan en geboei, en hulle sing lofliedere! Dít is hoe blydskap in die praktyk lyk.)

Die ding is, as ons bly wil wees in hierdie Kerstyd, kan ons nie armpies gevou sit en wag dat dit oor ons moet kom, of dit in die bodem van ’n bottel drank gaan soek soos Koos Kombuis nie. Ons sal ons doelbewus daarop moet instel om ’n 2e keer te kyk, en ons sal daarvoor moet bid. Want dis ’n blydskap wat die Here self aan ons gee, na die mate wat ons ontdek hoe die Here sorg, en dat ons op pad is na Hom toe. Dis ’n blydskap wat jy al meer ontvang hoe verder jy vorder op die pad van heiligmaking. Want is blydskap dan nie die tweede aspek van die vrug van die Gees (Gal 5:22) nie?

Mag jy in hierdie Kerstyd werklik die blydskap van die Here beleef!

Amen.

Skakel die kantoor
%d bloggers like this: