Galasiërs 4:3-3-11 en 5:1-12

Eergisteraand het ons gelees hoe Paulus met die leiers in Jerusalem gaan vergader het en hulle gehelp het om te verstaan dat Christenskap nie beteken jy moet ’n Jood word nie. Hy vertel dat daar teenkanting teen hierdie insig van hom en Barnabas was, en dan draai hy nie doekies daaroor om nie (Gal 2:4): Hulle werklike doel was om ons lewe in die vryheid wat Christus Jesus vir ons verwerf het, dop te hou sodat hulle weer slawe van ons kon maak. In die woorde van ons teksvers (5:1): Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees.

Die begrip “om vry te wees” wat Paulus hier gebruik, het ’n baie definitiewe betekenis in sy tyd gehad. Want in sy dae het jy twee soorte mense gekry: die vryes, en die slawe. En terwyl die vryes talle regte in die stad gehad het, ook die reg om sy stem te laat hoor in vergaderings, het die slawe geen regte gehad nie. ’n Slaaf was nie sy eie baas nie, kon nie sy eie besluite neem nie, het geen stem gehad nie. Hy moes net bevele gehoorsaam en maak soos sy baas sê, hoe onbillik of onregverdig die bevele ook al was. En nou sê Paulus: in die godsdienstige lewe kry jy ook hierdie twee soorte mense: die vryes en die slawe. Die Galasiërs, sê hy in 4:8, was ook slawe voordat hulle tot geloof gekom het: slawe van nikswerd afgode. Maar toe het die Here Jesus hulle verlos, hulle vry gemaak, vry van die houvas van die sonde, vry van die greep van die Bose oor hulle lewens. Nou is hulle nie meer slawe nie, maar kinders van God (4:7).

Die tragedie waaroor hierdie hele brief eintlik gaan, is dat die Galasiërs hierdie nuutgevonde vryheid prysgegee het. Die Galasiërs het nie gelewe soos vry mense nie. Hulle lewenswyse, hulle ingesteldheid het nie gepas by hulle status as kinders van God, as vrygekooptes nie. Hulle is soos slawe wat vrygekoop is, maar telkens weer teruggaan en die slawekettings om hulle vasboei. Hulle is soos slawe wat nie hulle vryheid verstaan nie, en daarom weier om afskeid van die boeie te neem.

Wat was dan verkeerd? Paulus sê hulle het bloot die een slawerny met ’n ander een verruil. Waar hulle vroeër slawe van nuttelose afgode te wees, het hulle nou slawe van die wet geword. Hoor wat skryf Paulus: Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs … (4:9-11)

Het jy gehoor wat Paulus hier sê? Hy vrees dat sy harde werk aan hulle dalk tevergeefs was! Hy vrees dat hulle verlore kan gaan! Nie omdat hulle weer in ongeloof teruggeval het nie, maar omdat hulle weier om soos vry mense, soos Godskinders, te lewe! Omdat hulle nie die vryheid wat God hulle geskenk het deur die verlossing in Christus Jesus vir hulleself toe-eien nie! Omdat hulle alte godsdienstig was! Omdat hulle allerhande godsdienstige dae en maande, feesgeleenthede en jare gevier het!

In jou goed-bedoelde godsdienstige ywer kan jy ’n armsalige slaaf van jou godsdiens word. Dan is jy nie langer vry nie, maar vasgevang in jou godsdienstige reëls en regulasies: jy mag nie dit en jy moet dat. Ek onthou hoe ek as kind nie op Sondae fiets mag gery het nie, en ook nie geswem het of bal geskop het nie. Ons mag nie kaart gespeel het of speletjies soos Ludo of Monopoly waar daar ’n dobbelsteentjie gebruik is nie – ons mag wel skaak en dambord gespeel het, want daar was nie geluk op die spel nie. Kan jy dink dat my pa – hy is nogal ’n predikant – só verspot kon wees?

’n Diaken uit my eerste gemeente het baie sterk oor rook en drink gevoel. Hy het een aand sy vrou uitgeneem vir ete en toe ’n glasie wyn bestel, en sy gewete het hom só gekwel dat hy ná die vakansie dit by my kom bely het. Hy het vir my gesê dit walg hom om die motor van die lidmaat wat ’n sigaret-verteenwoordiger is, Sondae voor die kerk te sien staan. In sy ywer vir die heiligheid van God het hy homself só vasgewikkel in ’n klomp selfgemaakte wettiese reëls dat die vryheid van Christus vir hom niks beteken het nie. In plaas daarvan dat hy soos ’n koningskind in vreugde voor sy hemelse Vader lewe, sit hy soos ’n slaaf en tob. Paulus sou sê hy trek ’n streep deur die verlossing van Christus, want hy probeer met die nakom van allerhande reëls vir God behaag. Hoor hoe skerp stel hy dit in 5:4: Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur.

Broer en suster, ons kan nie met die nakom van ’n klomp reëls in God se goeie boekies kom nie, en ons hoef ook nie! Niks wat ons doen, kan ons red nie. Ons is tog klaar gered! Jesus Christus het ons gered toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het! Ons word vrygespreek, nie omdat ons allerhande goed doen nie, maar omdat ons in die geloof aan Christus vashou. Hý het ons vryheid voor God verwerf.

Dit is natuurlik nie ’n nuwe tema wat Paulus hier aanhaal nie. Dis die boodskap van die ganse Bybel! In Lev 26:13 lees ons bv: Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het sodat julle nie meer sy slawe hoef te wees nie. Ek het die juk wat julle moes dra, gebreek en julle vry gemaak. Die 1933-vertaling vertaal hier: “Ek het julle regop laat loop.” Ons is vry om regop te loop! Nie langer ’n slaaf nie, nie langer bevrees, skaam, bang nie, maar regop, fier voor God en die mense. Ons is immers koningskinders, losgekoop uit die kloue van die bose en die mag van die sonde deur die bloed van ons Here Jesus!

Kom ons lewe dan in oorgawe voluit! Ons is vry, werklik vry. Dít is die evangelie.

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: