Die gedeelte wat ons saam gelees het, speel af 25 jaar nadat Abraham uit Ur van die Galdeërs weggetrek het na die Beloofde Land. En nou, uiteindelik, na al die jare se wag, nadat Abraham en Sara al moed opgegee het, uiteindelik gebeur daar die wonder: Isak word gebore. In ’n sin is dit die hoogtepunt van Abraham se lewe, die gelukkige uiteinde van ’n spannende verhaal, ’n verhaal wat by Gen 11:27 begin het, en ons op ver paaie geneem het: van Ur af deur Haran na die land Kanaän, en daarvandaan weer na Egipte, waar Abraham vir die mense gejok het oor sy vrou, dat sy sy suster is, om so sy bas te red. Die verhaal vertel van die stryd tussen Abraham en Lot se veewagters, en hoe die twee uiteindelik van mekaar af weg is; hoe Abraham by meer as een geleentheid vir Lot moes red, totdat Lot uiteindelik uit Sodom moes vlug. Die verhaal vertel ook vir ons van God se belofte aan Abraham, dat hy die vader van ’n menigte nasies sal word; maar Sara raak nie swanger nie, en Abraham en Sara begin te twyfel. Op die ou end probeer hulle self God se beloftes waar maak as Abraham by Sara se slavin Hagar ’n seun het, Ismael. Maar hierdie stuk ongeloof het verskriklike hartseer in die huis gebring. En dan, elke keer as Abraham begin moed opgee, herhaal God weer sy belofte dat Hy ’n seun sal hê: Isak. ’n Mens kan sê hierdie belofte-woord van God loop soos ’n goue draad deur die geskiedenis van Abraham, dit het sin gegee aan sy bestaan.

En nou, uiteindelik, ná 25 jaar se wag, na 11 hoofstukke waarin ’n mens leer om saam met hierdie eensame egpaar uit te sien na die beloofde seun, leer om hulle twyfel en wanhoop so goed te begryp, uiteindelik gebeur dit. Sara het ’n seun, Isak! God het tog nie sy belofte vergeet nie. God het woord gehou.

As ek nou hierdie gedeelte van die Bybel moes skryf, dink ek ek sou op hierdie punt nogal heel liries geword het. Dis mos darem ’n groot oomblik, en ek sou wou hê dat die Bybel-lesers dit baie beslis moes insien. Ek sou nie net ewe droog geskryf het dat Sara swanger geword het en ’n seun in die wêreld gebring het nie. Ek sou darem die geboorte baie meer dramaties en uitbundig aangekondig het.

Maar die Bybel doen dit nie. Ewe rustig en bedaard staan dit hier:
Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het. Hy het sy belofte aan haar nagekom. Sy het swanger geword en in Abraham se ouderdom vir hom ’n seun in die wêreld gebring. Dit het gebeur op die tyd wat God vir Abraham beloof het.

Waarom vertel die Bybel hierdie uiters belangrike gebeurtenis in Abraham en Sara – maar ook in die hele Israel – se geskiedenis so feitelik en ondramaties? Daar is ’n baie goeie rede daarvoor: Die Bybel wil al die klem laat val op die feit dat Isak gebore is presies net soos die Here belowe het. Die Bybel wil as ’t ware vir ons sê: Waaroor is jy so opgewonde en verlig? Het jy dalk getwyfel en gedink dat God miskien nie sy belofte gestand sal doen nie? Natúúrlik doen God altyd wat Hy sê!

Daarom herhaal die Bybel dit drie maal dat Isak se geboorte presies volgens God se belofte was (vs 1 en 2):
Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het. Hy het sy belofte aan haar nagekom. Sy het swanger geword en in Abraham se ouderdom vir hom ’n seun in die wêreld gebring. Dit het gebeur op die tyd wat God vir Abraham beloof het.

God hou sy woord! Hy doen wat Hy beloof het. Gen 21:1-7 is in die Bybel op hierdie manier opgeteken as teken en getuienis van God se trou en waarheid. Ten spyte van Abraham en Sara se ontrou – hulle knoeiery, hulle moedeloosheid, hulle twyfel en wanhoop, hulle sonde – ten spyte daarvan bly God getrou en maak Hy sy beloftes waar, gaan Hy voort met sy plan vir hierdie wêreld, soos hy al in Gen 12:3 vir Abraham aangekondig het: dat in hom al die volke van die aarde geseën sal wees.

As God in elk geval doen wat Hy beloof het, as Hy op die koers bly waarop Hy besluit het, waarom moes Abraham dan so lank wag op die vervulling van die belofte? Waarom het Hy hulle deur 25 jaar van vertwyfeling en selfs wanhoop laat worstel? Daar was ’n goeie rede: Abraham (en ons) moes leer dat God se trou nie verwar mag word met menslike volharding of deursettingsvermoë nie. Dáárom moes Abraham en Sara so lank wag – totdat hulle moed opgegee het, totdat dit menslik gesproke te laat was, totdat dit absoluut duidelik geword het dat net ’n wonder van God nog sy belofte kan waar maak – toe gebeur dit!

God se trou is baie groter as onsself. Drie maal staan dit hier dat dit onmoontlik was dat Sara swanger kon word:
Sara het swanger geword en in Abraham se ouderdom vir hom ’n seun in die wêreld gebring (vs 2).
Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak gebore is (vs 5).
Sara het gesê: “Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara seuns aan haar bors sal voed? Ek het in sy ouderdom ’n seun in die wêreld gebring” (vs 7).

God doen die onmoontlike! Dit is juis die wonder van God se werk – dat God dit wat geen mens kon droom of verwag of selfs kon dink nie, berei het vir sy kinders. Dit sien ons op die ongelooflikste by die geboorte van Christus, en later weer by Christus se opstanding uit die dood. God doen die onmoontlike om sy verlossing vir ons te bewerk. God doen ook die onmoontlike aan Sara: sy word moeder van die beloftekind, Isak.

Ook vandag nog doen God wondere: ook aan jou en aan my. As ons nie meer verder weet nie, as ons hoop verloor het, as daar menslik gesproke geen moontlikheid meer is nie, dan is daar nog steeds hoop: God kan! Hy kan jou dra in versoekings, Hy kan jou krag gee as jy nie meer verder kan nie, Hy kan uitkoms bring as alles hopeloos lyk: in jou huwelik, by jou werk, met die opvoeding van jou kinders, met die oplossing van ’n probleem. God kan wondere doen. Dit wil Gen 21 ons leer.

Maar meer nog: God kan nie net nie, Hy wil ook. Want God bly altyd getrou. Hy hou sy woord, soos Hy dit aan Abraham beloof het en gedoen het. Hy hou ook sy woord aan ons, as Hy sê dat Hy ons nooit sal begewe en verlaat nie, dat Hy met ons is, al die dae van ons lewe, dat ons veilig in sy hande is, dat Hy ons die ewige lewe gee, sodat ons nooit verlore sal gaan tot in alle ewigheid nie, en dat niemand ons uit sy hand kan ruk nie.

God hou sy woord, selfs al is ons dit nie waardig nie. Dit het Abraham en Sara agtergekom. En so is God vandag nog. Ons kan op Hom vertrou. Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: