“Soen my, soen my weer en weer!”

Nee, liewe gemeente, hierdie aanhaling kom nie uit ’n moderne hygroman nie. Dit staan in die Bybel, in Hooglied 1:2. Dis nie net die wêreld wat weet van die liefde en hartstog nie. Die Bybel weet ook daarvan, of miskien moet ek eerder sê: Die wêreld van vrye seks en pornografie en dié klas dinge weet juis nié van die liefde nie. Maar Gód weet. Hy weet alles van die liefde tussen ’n man en ’n vrou. Hy weet hoe mooi dit kan wees, hoe verruklik, hoe dit jou skoon uitasem van opgewondenheid kan maak. In die verse wat ons vanoggend gelees het, kom hierdie opgewondenheid onoortreflik deur. Die liefde is mooi, dit laat jou hart vinniger klop, dit slaan jou asem skoon weg. En dis reg so, want dis hoe God bedoel het dat dit moet wees.

Was dit dan nie Hý wat gesê het dis nie goed dat die mens alleen is nie, Hy sal vir hom iemand maak wat by hom pas? En toe vir Eva na Adam toe gebring het? (Gen 2:18 e.v.)

Ek het iewers hierdie verhaaltjie gehoor:

Adam loop alleen in die paradys rond. Hy kyk na al die nuwe dinge om hom en vergaap hom aan alles. Iewers diep in sy hart voel hy ’n effe eensaamheid want hy het niemand om mee te praat nie.
Toe hoor hy skielik ’n stem wat sê: “Ek gaan vir jou ’n vrou gee.”
“Wat is dit?” vra hy.
“Iemand soos jy, basiese vorm is dieselfde, net hier en daar ’n bietjie ronder en sagter. Die hare is langer, die vel gladder, en so ’n paar ander modifikasies.”
“Wat gaan die vrou doen?”
“O, sy gaan vir jou lief wees en gesels met jou, kos maak, wasgoed was, kinders groot maak, telefoon antwoord, gras sny, kar was, huis verf, koerant aandra, en …”
“Sjoe, dit klink goed! Wat gaan dit my kos?”
“’n Arm en ’n been!”
Toe antwoord Adam: “Dis bietjie rof, wat kan ek kry vir ’n rib???”

God het sulke groot ideale vir die huwelik gehad! Maar die moeilikheid is, ons is soos Adam in die grappie. Ons is huiwerig om ons alles te gee om dit te laat werk. En dan lol dit.

Daarom sê hulle die liefde is ’n stukkie hemel wat op die aarde geval het en jou hel gee. Baie huwelike is ongelukkig so. Een skrywer sê as ’n mens na die huwelike in die algemeen kyk, moet ons sê daar is baie mense wat getroud is, maar daar is nie baie wat ’n huwelik het nie. Koos du Plessis het daarvan gesing: “Van die vurige hofmaak hoor ons later in die hofsaak.” En nou lees ek dat die bekende prof Christina Landman met die oplossing vir ongelukkige huwelike gekom het. Seks voor die huwelik moet verpligtend gemaak word, sê sy. Dan sal jy nie te laat ontdek jy moes nooit met die betrokke persoon getrou het nie.

Dalk het prof Landman dit tong in die kies gesê. Ek hoop so, want dis werklik nie die boodskap van die Bybel nie. Die boodskap van die Bybel is juis: Seks as ’n opwindende en noodsaaklike deel van ’n intieme liefdesverhouding hoort in die huwelik, en net in die huwelik, nie daarbuite nie.

Dit is die hele boodskap van die boek Hooglied. Hooglied is ’n versameling liefdesliedere, en party van hulle is nogal taamlik eroties daarby. Maar die raamwerk waarbinne hierdie liedere pas, is die huwelik. Buite (en voor!) die huwelik mag dit nie. Daarom roep die meisie in vers 7: “Vroue van Jerusalem, ek smeek julle en ek roep die ribbokke en die takbokke in die veld tot getuie: moenie die liefde wakker maak en aanvuur voor die tyd daarvoor ryp is nie.” Daarom verlang die man en meisie in hierdie lied wat ons gelees het, so na mekaar, want hulle is nog nie getroud nie. Die man sê in vers 14 sy meisie is soos ’n duif in die klipskeure, in die skuilplek teen die krans – veilig maar onbereikbaar, want hulle is nog nie getroud nie. Hy kan haar maar net op ’n afstand bewonder.

Die oplossing vir ons land se huweliksprobleme is nie verpligte voorhuwelikse seks nie – die hemel behoede ons! Nee, die oplossing is dat ek en jy weer God se resep moet volg: dat ons die huwelik as heilige band tussen man en vrou weer in ere sal herstel.
∙ Dat ons wat getroud is, sal werk aan ons huwelike en so as man en vrou met mekaar sal leef dat mense sal sê: maar só ’n huwelik kan net wonderlik wees.
∙ Dat julle wat nog nie getroud is nie, julleself sal oppas en rein sal bly totdat julle eendag getroud is.
∙ En dat julle wat nie langs die pad ’n lewensmaat gekry het nie of julle lewensmaat verloor het, só sal leef dat julle nie ander se huwelike in gevaar sal stel nie.

Dan sal ons huwelike wees soos God dit bedoel het: ’n stukkie paradys.

Mag die Here self ons hiermee help.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: