Genesis 27

In die Bybel is daar ’n hele paar hartverskeurende verhale van gesinne wat uitmekaar geskeur word deur sonde. Adam en Eva se gesin, Jakob se gesin, Dawid se gesin …

So daar is genoeg verhale in die Bybel wat vir ons vertel dat gesinne nie noodwendig gelukkig is nie. En daar is ook genoeg verhale wat vertel dat gelowige ouers ook nie noodwendig weet hoe om hulle kinders goed groot te maak nie.

Isak en Rebekka is hiervan ’n sprekende bewys. Dat hulle albei gelowige mense was, hoef ons nie eers te beredeneer nie. In Gen 25 lees ons hoe Isak tot die Here gebid het toe Rebekka nie swanger word nie, en dat die Here sy gebed verhoor het. En toe sy ’n tweeling verwag, het Rebekka ook die Here gaan raadpleeg.

Gelowige ouers, dus. En hulle was boonop lief vir mekaar. Isak en Rebekka is een van die min egpare waarvan ons dit spesifiek lees – van Isak sê die Bybel: Hy was baie lief vir haar en sy was vir hom ’n groot troos ná die dood van sy ma (Gen 24:67). En in Gen 26:8 lees ons dat Abimelek, die koning van die Filistyne, eendag deur die venster gesien het hoe Isak vir Rebekka liefkoos. ’n Ouerpaar wat nie net gelowig is nie, maar ook lief vir mekaar.

’n Mens sou dink dis ’n wenresep. Hoe op aarde het dit gekom dat die gesin uitmekaar kon spat, ten spyte van die ouers se geloof en hulle liefde vir mekaar? Hoekom is daar vandag gesinne waar die ouers lief is vir die Here en vir mekaar, maar die gesin werk nie?

Ek besef dat ek nou op dun ys is, en dat dit gevaarlik is om eenvoudige antwoorde te gee vir baie ingewikkelde probleme. Maar ek dink tog ons kan uit hierdie hartverskeurende verhaal ’n paar probleme uitlig.

1. Waardeer elkeen se uniekheid

Die heel eerste ding wat ek hier raaksien, is dat Isak en Rebekka elkeen ’n witbroodjie gehad het. Esau was Isak se seun, en Jakob weer was sy ma se kind. Esau was ’n jagter, en in Isak se oë kon Esau niks verkeerd doen nie. Selfs toe Esau sy eersgeboortereg vir ’n pot lensiesop verkwansel het en só sy rug op God se beloftes aan Abraham en sy nageslag gedraai het, selfs toe het Isak nog vir Esau voorgetrek. Dis asof Esau bo kritiek verhewe was! Jakob was vir hom te sag. Maar Rebekka was nie anders nie. Jakob was haar kind, en van Esau se wilde streep het sy weer niks gehou nie.

As ’n mens moeilikheid in jou huis wil hê, moet jy een kind begin voortrek. Jakob het nie sy les geleer nie, want later het hy weer op sý beurt sy seun Josef voorgetrek, met hartverskeurende gevolge.

2. Doen dinge saam

Ek mag dalk nou te veel in die verhaal inlees, maar ’n mens kry nie die indruk dat die gesin dinge saam gedoen het nie. Esau het sy gang gegaan, en Jakob syne. Isak besluit op sy eie dat dit tyd is om sy oudste seun te seën, en Rebekka vind toevallig daarvan uit.

Dit lyk na ’n gesin wat nie kohesie het nie. Ek ken nog sulke gesinne, waar elke lid van die gesin sy eie ding doen en hulle min aan mekaar het. Die ma maak die kos en sit dit op die tafel. Sy roep die gesin. Elkeen kom, skep vir hom of haar ’n bord kos uit, en dan gaan hulle elkeen ’n eie koers in. Pa gaan lees koerant. Boetie speel rekenaarspeletjies. Sussie kuier op Facebook of WhatsApp en Ma kyk sepies. Van saamwees en saamdoen verstaan hulle min.

Ek lees ’n tyd gelede ’n artikel wat in Time Magazine verskyn het: The Magic of the Family Meal. Daarin staan o.a. navorsing toon dat hoe meer dikwels gesinne saam eet, hoe kleiner is die kans dat die kinders sal rook, drink, dwelms gebruik, depressief raak, eetsteurnisse en selfmoordneigings ontwikkel, en hoe groter is die kans dat hulle goed op skool sal vaar, sal uitstel voor hulle seksueel aktief raak, hulle groente eet, groot woorde sal ken en goeie tafelmaniere sal hê.

’n Gesonde en gelukkig gesin vra méér as gelowige ouers wat vir mekaar lief is. Dit vra harde werk: tyd saam deurbring, dinge saam doen, mekaar waardeer. God weet dit. Daarom het Hy in die Tien Gebooie hierdie gebod ingesit, wat ons dwing om nuut na mekaar in die gesin te kyk. Jesus het ook die Gelykenis van die Verlore Seun vertel om ons iets te laat verstaan hoe God voel oor gesinne wat uitmekaar spat. En een van sy laaste woorde aan die kruis was om te sorg dat sy ma versorg is.

Mag die Here jou help om só in jou gesin te belê.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: