Wat is die prentjie wat jy in jou kop kry as jy aan Josef dink?

  • sy drome, of sy koningskap, sy heldhaftigheid …

Dís nie die man, of dalk moet ek eerder sê tiener, van wie ons in Gen 37 lees nie! Ons lees dat hy ’n verwaande, grootpraterige mannetjie was, ’n regte ou pappa-se-seuntjie, wat voor sy broers geloop en spog het oor sy drome en hoe hy eendag oor almal sal baas wees, en by sy pa weer het hy stories aangedra oor alles wat sy (half)broers aangevang het.

Kom ek sê dit sommer reguit: ek hou nie van die Josef van wie ons in Gen 37 lees nie.

Wat dink julle van ou Jakob?

  • Jakob het al die verkeerde keuses gemaak – vier vrouens, ’n blatante witbroodjie – geen wonder sy huis is ’n oorlogsveld nie!

Ek hou ook nie van Jakob nie! Hy is ’n sprekende voorbeeld van die soort pa wat ons nie behoort te wees nie. Laat my nogal dink aan ’n ander man met dieselfde naam …

En dan is daar natuurlik Josef se broers. Ek sou nog ’n bietjie simpatie met hulle gehad het, want hulle het darem regtig aan die kortste ent getrek in die huis, en dis heeltemal te verstane dat hulle nie van Josef gehou het nie, maar toe gaan staan hulle en verkoop vir Josef as ’n slaaf. En asof dit nie genoeg is nie, stuur hulle Josef se bloedbevlekte klere vir hulle pa, dat hy sy eie afleiding moet maak. En dan probeer hulle ewe skynheilig hulle pa troos. Ek wonder nogal wat hulle vir hom gesê het om hom te probeer troos.

Dís nou die mense wat ons in Genesis 37 ontmoet. As dit nou ’n sepie was, sou ’n mens kon sê dit het al die bestanddele vir ’n heerlike dramatiese reeks. Dis net, hierdie is nie ’n sepie nie, en die mense is nie sepie-karakters nie. Dis regte mense van vleis en bloed, en – so haas die verteller hom om ons te herinner – dis nie sommer enige mense nie. Dis die familiegeskiedenis van Jakob. Dis die verhaal van God se mense, die mense wat Hy gekies het om ’n verskil in die wêreld te maak, die mense van wie Hy gesê het: Julle moet tot ’n seën wees (Gen 12:2).

En die ergste van alles is, dit lyk of God afwesig is! Of Hy Hom onttrek het van die gesin en besluit het om hulle te los omdat daar geen salf aan hulle te smeer is nie. Die hoofstuk eindig met hierdie hartverskeurende woorde van Jakob (vs 35): “Ek sal bly treur oor my seun tot ek by hom in die dood is.” Of wag, nee dit is nié die laaste woorde in die hoofstuk nie. Daar is nog ’n vers wat ons vertel dat Josef verkoop is aan Potifar, wat aan die farao se paleis verbonde was as hoof van die lyfwag. God is nie afwesig nie! Hy hou sy oog op Josef. Daarom verdwyn Josef nie in die massas in Egipte nie, maar beland hy in die omgewing van die farao se paleis.

Partykeer voel dit vir ’n mens of God jou vergeet het. Jy bid, maar dit is nie asof God jou hoor nie. Alles loop verkeerd, en jy sien nie uitkoms nie. Dis seker hoe Josef gevoel het. Die Bybelverteller wil ons gerusstel dat Josef nie uit God se gesigsveld verdwyn het nie, al lyk dit miskien so en al het dit beslis vir Josef so gevoel. Dit is ’n tema wat soos ’n goue draad deur die hele Josef-verhaal loop: dat die Here by Josef was, selfs in sy donkerste nood.

Hoor dit vanoggend, liewe gemeente: Selfs in tye wanneer jy niks van God se teenwoordigheid ervaar of kan sien nie, is Hy daar om jou op te pas. Dis in sulke tye dat ’n mens moet vasbyt in die geloof, dat jy moet glo dat Hy daar is vir jou, al skree alles om jou dat dit nie waar kan wees nie.

Jesus het ook so ’n tyd geken. Ons dink vandag spesifiek daaraan as ons die nagmaal vier: daar, toe Hy aan die kruis gehang het, het Hy uitgeroep (Matt 27:46): “My God, my God, waarom het U My verlaat?”

As ’n mens so na die mense van Gen 37 kyk, kan jy dalk lus kry om te sê jy verstaan hoekom dit lyk of God afwesig is, want hoekom sal Hy Hom met so ’n treurige lot ophou? Dalk lyk dit of Hy afwesig is omdat ’n mens Hom op geen manier in een van hierdie mense kan sien nie!

Hoe kan so ’n treurige klomp vir die nasies tot ’n seën wees? Ek moet eerlik wees, ek sien niks van God se beeld in hulle optrede teenoor mekaar nie. Maar onthou dan, die verhaal begin hier, dit eindig nie hier nie. Hulle is nie juis bruikbare instrumente in God se hand soos hulle hier in Gen 37 lyk nie, maar – en dit moet ons mooi raaksien in hierdie verhaal – dit is nie hoe hulle eindig nie. Langs die pad verander hierdie harde, wrede manne, en sien ’n mens hoe langer hoe meer vir God in hulle; word hulle algaande instrumente wat God se seën vir ander bring.

Dís die wonder van God se pad met ons: Hy vat ons net soos ons is, krom en skeef en onbruikbaar. Hy sê nie: Kom na My toe, almal wat volmaak en sonder sonde is nie. Nee, Hy sê: Kom na My toe, almal wat stukkend en vol sonde is, en Ek sal julle rus gee! Ook vanoggend se nagmaal is nie vir volmaakte mense nie, maar vir sondaars soos julle en ek.

God roep ons net soos ons is. Maar – en dit moet ons ook baie goed hoor vanoggend – as jy na God toe kom, gaan Hy jou nie los soos jy is nie. Hy gaan met jou besig bly, aan jou skaaf en snoei, totdat jy die beeld van Jesus begin vertoon. Daarom mag ’n kind van God nooit sê: “Ek is maar so gemaak en so gelaat staan” nie, want God laat niemand staan nie. Hy wil jou vorm tot jy soos sy Seun lyk.

Mag die Here só met elkeen van ons besig bly!

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: