Wat sou die rede wees waarom Josef so met sy broers mors en hulle laat swaarkry?

Dit lyk vir my ’n mens sal vir jouself hierdie vraag móét uitmaak as jy enigsins wil verstaan wat Josef hier aanvang. Nou is dit so dat die Bybel dit nie vir ons duidelik uitspel nie. En daarom kry ’n mens in die kommentare baie verskillende antwoorde oor die rede vir Josef se harde optrede teenoor sy broers. Daar is sommige wat meen Josef wil sy broers straf vir die kwaad wat hulle hom aangedoen het. Ander weer dink hy wil hulle help om in te sien hoe verkeerd hulle teenoor hom opgetree het, sodat hulle hulle skuld kan bely. Daar is ook verklaarders wat sê Josef wil sy broers toets om te sien wat hulle karakter nou is, en dan daarvolgens bepaal of hy vir hulle moet vertel wie hy is (dit, dink ek, is die verklaring wat die meeste van ons huldig).

Maar ek dink dat, as ons onthou dat dit in hierdie geskiedenis nie in die eerste plek om Josef gaan en wat met hóm gebeur nie, maar dat dit daarom gaan dat God met sy volk besig is, dan hoef ons nie vooraf te besluit dat Josef die held is wat niks verkeerds kan doen nie. Dan word Josef ’n mens van vlees en bloed, wat nie net edel en sonder foute is nie, maar ’n mens, soos ons, wat ook haatdraend kan wees en wrokgedagtes kan koester.

Ek dink nogal dit is wat ons hier het: die ou Josef (sy ou natuur!?) ontwaak skielik weer in hom toe hy sy broers sien – julle onthou mos die ou Josef met sy drome waaroor hy loop en spog het, hoe hy stories loop en aandra het by sy pa Jakob oor al die gruwelike dinge wat sy broers aanvang. Die broers sou tog nie sonder rede besluit het om van Josef ontslae te raak nie. En toe Josef sy broers voor hom sien, kom al die woede en wrewel oor die onreg wat hulle hom aangedoen het, skielik weer by hom op. Miskien is dit wat die skrywer suggereer as hy ons in 42:9 vertel: “Hy (Josef) het aan sy drome van vroeër gedink en vir hulle gesê: ‘Julle is spioene…’”

En Josef het nou natuurlik die hef in die hand. Soos hy jare vroeër aan hulle nukke en grille oorgelewer was, was sy broers nou volkome in sy hand, en hy werp alles in die stryd om hulle terug te kry. Die arme broers is magteloos voor sy wrede kat-en-muis-speletjie met hulle. Eers sluit hy vir Simeon op in die tronk. ’n Mens sou dink dat juis Josef wat self in die tronk was, nie vir sy grootste vyand dit wou wens nie, en tog stop hy sy eie broer in die tronk, en stuur die ander terug met die opdrag om Benjamin te gaan haal. Toe ontdek hulle boonop hulle geld is nog net so in hulle sakke. As hulle dan uiteindelik terugkeer, vol vrees en bewing, ontvang hy hulle in sy eie huis met ‘n feesmaal. Is dit nou ’n siek grap, of wat gaan hier aan? Dan vertrek hulle ongedeerd, net om te ontdek dat Benjamin as ’n dief aangekla word.

Bes moontlik het Josef gedink dat die broers Benjamin alleen sou laat terugkeer. Dit sou vir hom sommer twee vlieë met een klap wees – hulle sou sonder Benjamin na Jakob moes terugkeer; en hierdie keer sou hulle nie weer skotvry daarvan afkom soos destyds toe hulle voorgegee het dat Josef deur ’n wilde dier verskeur is nie. En boonop sou Josef dan sy lieflingsbroer by hom kon hou (wat heel waarskynlik van die begin af sy plan was, daarom dat hy so daarop aangedring het dat Benjamin moet saamkom).

Maar dan gebeur daar iets wat Josef nie kon voorsien nie: sy broers draai saam met Benjamin om.

Ek dink die roerende pleitrede van Juda in 44:18v het vir Josef tot sy sinne geruk, en hy het skielik besef dat, terwyl hy besig was om sy broers ’n les te leer wat hulle nooit sou vergeet nie, hy met sy pa se lewe gespeel het. Hier word die rolle omgekeer – tot nou toe was Josef die held in die verhaal, maar skielik word hy hier ontmasker as die een wat met ’n ou, treurende Jakob se lewe dobbel. Miskien het Josef ook skaam gekry oor sy optrede toe hy agterkom dat, terwyl hy vol wrewel en wraakgedagtes was, sy broers mense geword het wat nie net aan hulleself dink nie.

My pa het altyd vir my gesê toe ek klein was en met stories by hom aangekom het: “My kind, wees nie alte regverdig nie.” Hy wat meen hy staan, moet oppas dat hy nie val nie, sê 1 Kor 10:12. Nie een van ons is te goed om ’n fout te maak nie. Josef het menslik gesproke al die reg aan sy kant gehad, en hy sou vir elke ding wat hy aan sy broers gedoen het, ’n goeie saak kon uitmaak, maar tog was hy verkeerd, want dit het nie net om hom gegaan nie. Deur sy wraakplanne het hy met sy pa se lewe gedobbel.

En ek en jy? Hoe reageer óns op mense wat ons te na gekom het en diep verwond het? Want kom ons wees eerlik: in ons land was en is daar baie onreg. Dit is waar van ons politiek, ons ekonomie, ons samelewing. Dit is ook waar van baie van ons se persoonlike omstandighede. Onreg is deel van die lewe. Ons kan dit nie vermy nie. Hoe reageer jy op onreg?

Die vraag laat my dink aan die gelykenis van die verlore seun, waar die jongste broer die slegte broer was wat weggeloop het. Die oudste broer wat al die jare aan sy pa getrou was, was egter op die ou end die verkeerde een, omdat hy nie sy jonger broer sy misstappe wou vergewe en saam feesvier nie.

Ons moet oppas dat ons, die vromes, die getroues, dat ons nie op die ou end die verkeerdes word omdat ons langs die pad onvergewensgesind en onverdraagsaam en wrokkig geword het oor die onreg wat ons moes verduur (of nog steeds verduur) nie.

Gelukkig het die pa nie die ouer broer kwaad en brommend buite gelos nie – julle ken mos die gelykenis. God los ook nie vir Josef waar hy besig is om hom op sy broers te wreek nie. Juda se woorde het iets in hom laat gebeur, hom laat verander.

So, kom ek vra weer: Hoe reageer jý op onreg? Want as God met Josef ’n pad kon stap, is dit mos van jou en my ook waar? Daarom hoef ons nie wrokkig en wrewelrig te word soos die oudste broer nie, en hoef ons enigste reaksie op onreg nie vergelding te wees, soos Josef gedoen het nie. ’n Beter opsie is om jou hart by God uit te stort. Hy weet tog presies wat in jou lewe aangaan.

Mag God tog ook met jou en my besig bly!

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: