Die Here sê hier in ons teksvers vir Jakob dat hy nie bang moet wees om na Egipte te gaan nie. Hoekom sou Jakob dan bang wees om na Egipte te gaan? Was dit omdat daar baie gevare op die pad skuil?

Dit seker ook. Maar dit was nie die eintlike rede nie. Ons moet onthou dat Jakob hier nie maar net op pad is om sy lank-verlore kind in Egipte te gaan ontmoet nie; hy is besig om weg te trek uit die land Kanaän, die land van die belofte. En as ons nou gaan kyk na die hele geskiedenis van Jakob, het sy hele lewenslot telkens maar weer gedraai om die ontvangs of verlies van die beloofde land. Die belofte dat hy die land Kanaän as erfenis sal kry, dit het sy hele lewe gekleur – so anders as die ander twee aartsvaders, Abraham en Isak, vir wie die vraag na ’n nageslag dié groot vraag was wat hulle op hulle knieë gehou het. Sara was jare lank kinderloos, en dit was die groot krisis in Abraham se geloofslewe. In Isak is God se beloftes aan Abraham in ’n sekere sin beliggaam. Vir Isak was dit ook so: Rebekka was ook kinderloos, en dit was vir hom ’n geloofstryd. Die land van die belofte, Kanaän, wat God aan Abraham met ’n eed beloof het, was nooit eintlik in gedrang nie, behalwe een keer, so lees ons in Gen 26:2-5, toe daar ook ’n groot droogte was en Isak na Egipte wou uitwyk. Toe het die Here Isak verbied om na Egipte te gaan.

Met Jakob was dit anders. Die een groot belofte wat sy pa en oupa aan die hoop gehou het, dié van ’n groot nageslag, dit was nou nie juis by hom ’n probleem nie. Hoewel sy geliefde Ragel vir hom net 2 seuns gegee het, het hy baie ander kinders ook gehad. En juis op hierdie stadium het sy sorge oor sy kinders op die agtergrond geskuif: Josef lewe, Benjamin is veilig, en Simeon is uit die tronk! Maar dit is merkwaardig dat sy verhouding met God elke keer maar weer draai om die ander belofte wat God aan Abraham gemaak het, nl die belofte van ’n eie land, ’n eie grondgebied, die land Kanaän. Dit was onder andere om hierdie beloofde land as erfporsie te kry, dat hy Esau uit sy eersgeboortereg gekul het – eers met die pot lensiesop, en later met die bedrog teenoor sy gryse pa. Toe hy uit Kanaän moes wegvlug as ’n jong man, toe het God by Bet-el aan hom verskyn met die belofte dat hy eendag weer na die beloofde land sal terugkeer. En daar by Laban verskyn die Here weer aan hom, ’n paar jaar later, met die opdrag dat hy moet terugkeer na die beloofde land. En voordat hy die land Kanaän ingaan, verskyn die Here weer aan hom by die Jabbok-spruit. En later, toe Jakob weer by Bet-el kom, herhaal die Here aan hom sy belofte dat Hy die land vir hom gee. Telkens maar weer gaan dit om die belofte dat hy die land Kanaän sal erf.

En dit was wat vir Jakob bang gemaak het: nie omdat hy na Egipte moes gaan nie, maar omdat hy weg moes trek uit die land van die belofte. Dit lyk nou so of hierdie belofte van God in die gedrang is. Daarom verskyn die Here hier aan Jakob en stel hom gerus, verseker hom van sy blywende teenwoordigheid, maar veral ook dat die belofte van die land nie met sy vertrek verlore is nie: “Moenie bang wees om na Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar ’n groot nasie maak. Ek gaan saam met jou Egipte toe, en Ek sal jou beslis weer hierheen laat terugkom …”

As ’n mens so na die saak kyk, lyk dit asof die hele Josef-geskiedenis nie gebeur het net maar om die volk van ’n gewisse hongersnood te red nie – God sou die volk tog op ander maniere ook kon bewaar – maar dat die volk via Josef na Egipte moes gaan, dat God dit so beplan het met ’n baie spesifieke doel: Egipte moes vir die volk ’n leerskool word. Soos hulle aan die begin van hulle bestaan moes leer dat, om met God te lewe, alleen moontlik is deur die geloof in Hom en die hoop dat Hy sy beloftes sal waar maak, al lyk dit of daar nie sprake kan wees van ’n nageslag nie, so moes hulle nou in Egipte gaan leer dat God ook sy belofte van ’n eie land sal uitvoer, al moet hulle ook lank daarvoor wag. Daarom word die vervulling van hierdie belofte nog ’n paar honderd jaar lank uitgestel, sodat die volk oor een ding geen twyfel kan hê nie: Net God kan sy belofte in vervulling laat gaan. Op Hóm moet hulle al hulle hoop stel.

Ons lewe natuurlik ook met hierdie God in die flenters land van ons. Dalk is dit een van die dinge wat God met ons kan bereik – die geloof dat net Hy ons land kan genees, en ons só al hoe stywer aan Hom laat vashou.

Natuurlik is die wag nie altyd maklik nie. Heel dikwels is dit baie moeilik, gaan dit met lyding en hartseer en pyn en stryd gepaard, soos die Israeliete daar in Egipte later selfs slawe geword het. Maar hy wat glo, sal nie haastig wees nie, sê die Jes 28:16 (1953-vert). Want jy weet: God weet wat Hy doen. Hy het ’n doel met my lewe. Hy laat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet. En bowendien, ons is nie alleen terwyl ons wag nie. Soos God aan Jakob belowe het: “Moenie bang wees nie … Ek gaan saam met jou … Ek sal jou beslis hierheen laat terugkom”, so het ons ook Christus se belofte: “Ek is met julle tot aan die voleinding van die wêreld.”

Die manier waarop ons tot dan, tot aan die voleinding van die wêreld, met God moet saamleef, is deur die geloof; deur God te vertrou. Ons sou ook kon sê: deur die hoop, die uitsig op die hemel. God belowe ons nie ’n pad van maanskyn en rose nie. Hy het dit ook nie vir Jakob belowe nie. Maar Hy belowe wel sy teenwoordigheid. En dit is meer as wat ons ooit kan vra.

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: