Geskiedenis van die gemeente

Ontstaan

Die N.G. Gemeente Petrusburg is op 29 Junie 1892 gestig. Die eerste kerkraadsvergadering was gehou op 15 Augustus 1892 met die Konselent, Ds. Murray van Jacobsdal as die voorsitter. Die eerste koster was broer. Venter met ‘n betaling va 5 sjielings per kerkgeleentheid. Mej. G Cillie is die orreliste teen ‘n salaris van £48 per jaar.

Die eerste Kerkraadslede was: Ouderlinge: Thomas du Toit. W H van Breda. P Kock. R M Brits. Diakens: Cornelis du Plessis. David Liebenberg. Abraham Horak. Andries Strauss. Jacobus van Rooyen. P de Bruin. P Hoffman. Barend van den Berg.

Die Kerkgebou

Die eertste kerkgebou was die sg “Waenhuiskerk” of “Noodkerk” wat die buitegeboue van die plaas Rietfontein was, wat deur die Gereformeerde Gemeente omskep is in ‘n tydelike kerk. Gedurende Januarie 1896 het ‘n nuwe klok vir die kerk uit Kaapstad hier aangekom. ‘n Mnr. Snel rig die klok op.

Tydens ‘n kerkraadsvergadering van 6 Junie 1896 spreek Ds. Robertson die wenslikheid uit vir die bou van ‘n kerkgebou. Die gemeentes van Bloemfontein, Fauresmith, Edenburg, Boshof, Jacobsdal en Jagersfontein kollekteer almal fondse vir hierdie doel. Op 9 Oktober 1897 ontvang Ds. Robertson die klok vir die nuwe kerk van die heer Faure, Minister van landbou in die Kaapkolonie. Op 9 April 1898 word begin met die bou van ons eerste kerkgebou. Die argitek was ‘n ene Donaldson van Ficksburg en die boumeester was P.C. van Zyl van Brandfort. Die vyf buitedeure met kosyne is deur Mnr. Jan Snel gemaak van suiwer Burmese kiaathout vir die prys van £100.

Die hoeksteen is gelê op 14 Januarie 1899 deur Sy Hoogedele M.T. Steyn, Staatpresident van die Oranje-Vrystaat. Onder die hoeksteen is ‘n dokument geplaas waarin ‘n beknopte geskiedenis van die gemeente en die dorp verstrek is. Verder is daar muntstukke wat in omloop was daar geplaas, saam met eksemplare van die Kerkbode, ‘n kerkalmanak, die Fakkel, die Express en die Friend. Die kerkgebou is teen die einde van 1899 voltooi. Die inwyding word vir Saterdag, 11 November 1899 gereel. Maar toe breek die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktber 1899 uit. Alle gemeentelike bedrywighede het toe tot stilstand gekom. Die Engelse troepe het die kerkgebou as huisvesting gebruik. Behalwe dat die nagmaalservies en die klok verdwyn het, is daar geen ander skade aan die gebou gerig nie.

Die eerste kerkraadsvergadering na die oorlog is gehou op 9 Maart 1903. Die kassier kry opdrag om dadelik ‘n nuwe klok te bestel teen £26.7.3.

Op 24 Oktober 1903 word die nuwe kerkgebou ingewy. Teen die middel van 1904 word die kerkgronde omhein. Diaken C. du Plessis skenk die hek en die res van die kerkraad staan in vir die ander materiale.

Op 6 April 1908 koop die kerkraad ‘n Amerikaanse orreltjie aan vir £40. Mej. G Cillie is die orreliste teen ‘n salaris van £48 per jaar. Die volgende jaar koop die kerkraad ‘n nuwe groot orrel aan. ‘n Ene heer Kemp, ‘n orrelbouer aanvaar om die orrel jaarliks te stem teen £6.15.0. Op 5 September 1910 koop die kerkraad Nagmaalservies aan teen £50. Dis ‘n agtstuk, bestaande uit ‘n skinkbeker, vier drinkbekers, ‘n opdien broodbord, en twee kleiner bordjies.

Gedurende 1941 word die vervalle kerkgebou heeltemal vernuwe. Die kerk kry onder andere ‘n pragtige nuwe toring met moderne uurwerk. Die uurwerk is in sy geheel in Suid Afrika vervaardig. Mnr. Mike Botha skenk ook ‘n nuwe klok. Die inweiding van die toring met sy horlosie en nuwe klok vind plaas saam met die voorbereidingsdiens op 11 April 1942. Sondagmiddag om 3:00 het die uurwerk vir die eerste keer geslaan.

In 1965 is weer groot herstelwerk aan die kerkgebou gedoen. Die buitemure is onder andere met Kenetex bespuit.

Nuwe kerkgebou

Op ‘n kerkraadsvergadering van 7 Junie 1974, onder leiding van Ds. J.T. Schutte, kom die algemene toestand van die kerkgebou onder die loep met die gedagte of die ou gebou herstel en gemoderniseer word, of die bou van ‘n nuwe kerkgebou. Op 26 Junie 1974 word besluit om om die ou kerkgebou te sloop en te begin met die bou van ‘n nuwe gebou. ‘n Aantal kerke word besoek om inligting in te win. Mnr. E.J. Bloem van Kroonstad word as agritek aangestel, en mnr. Broer Jacobs van Carnavon as bouer. Die kerkraad voorsien self die materiaal.

Die nuwe kerk word op dieselfde plek as die ou kerk opgerig. Die eerste sooi vir die fondamente van die nuwe kerkgebou word op Woensdagmiddag, 19 Maart 1975 om 5nm gespit. Nou kan die bouery van die nuwe kerkgebou amptelik begin. Om 2nm, Vrydag 25 Jullie 1975 vind die hoeksteenlegging plaas. Die hoeksteen van die ou kerk word langs die hoeksteen van die nuwe kerk geplaas. Oom Abel Schoeman, die oudste manslidmaat, plaas die ou kissie met inhoud terug. Tannie J.L.J van Rensburg, die oudste lidmaat plaas die kissie wat agter die Emmausklip uitgehaal is terug. Estelle Botha, die jongste lidmaat, plaas die nuwe kissie agter die nuwe hoeksteen. Oom Chris Bitzer het die nuwe kissie gemaak en ook almal toegesoldeer.

Inhoud van die drie kissies:

Die 1899 – kissie: ‘n Kort verslag van die gemeente tot en met die hoeksteenlegging in 1899; Kerkalamanak van 1899; De Fakkel van 30 Junie 1899; De Boerevriend van 1899; De Kerkbode van 10 Januarie 1898; De Express en The friend van 10 Januarie 1899. Muntstukke: 1 Goue pond van 1889; 1 Goue Tiensjielingstuk van 1890; 1 Kroon van 1847; 1 Halfkroon van 1897; 1 Floryn van 1894; 1 Sjieling van 1887; 1 Sikspens van 1897; 1 Tiekie van 1849 en 1896; 1 D van 1842; 1 Ld van 1897; 1 d van 1880.

Die Jubileumfees – kissie: ‘n Feesprogram tydens die inwyding van die toring, horlosie en klok; Verslag van die reparasie van die kerkgebou en aanbou van die toring; Inkomste- en uitgawerekeninge van 1936, 1937, 1939 en 1941; ‘n Verslag van die Drielingfees van 1941; Drie dankofferstate van 1941; Die rekening en kwitansie van die Emmausklip; Die Jubileumfees brosjure; Fotos van die kerkraad van 1942, boukommissie van 1941, en die kinders van 1942; ‘n Outograaf met handtekeninge van gemeentelede, kinders, kerkraadslede en predikante wat die fees bygewoon het; Die Basuin van Junie 1941; Die Morelig van September 1940; Die Kerkbode van 24 Julie 1942; Die Kindervriend van Maart 1942.

Die nuwe kissie van 1975: Die Kerkbode van Julie 1975; Sendingblad van Jalie 1975; Ons jeug van 1972 met KJV wapen op; Die 1975 Jaarboek; Die Voorligter van Julie 1975; Die Volksblad en The Friend van 21 Julie 1975; Die 1975 Gemeenteprogram; Gemeentebriewe handelende oor die kerkbouery en insamelings vanaf 1974; Die name van Slopings-, Kerkbou- en Orrelkommissies; Name van al die lede van die Kerkraadskommissies; ‘n Nuwe klein Bybeltjie; Die voordeursleutel van die ou kerk; Die program van die hoeksteenlegging op 25 Julie 1975; ‘n Foto van die ou kerk en van toe dit gesloop is. Muntstukke: Die volle reeks van 1975 behalwe die 20c en die 10c wat nog nie beskikbaar was nie; ‘n Volle 1974-muntreeks; ‘n R1 van 1969; 2 x ½sente van 1970; ‘n Van Riebeeckkroon van 1652 – 1952.

Die nuwe kerkgebou is kontant gebou teen ‘n koste van R194 000-00. Tydens die Nagmaalsnaweek van 4 en 5 September 1976 word ‘n splinternuwe kerkgebou wat spog met dieselfde horlosie wat soveel jare diens gedoen het in die ou kerk, ingewy.

Die Pastorie

Ds. Robertson was die eerste predikant om die huis op die hoek van Reyneke- en Boshofstraat in 1893 te bewoon. Die huis het destyds aan mnr. Potgieter behoort.

Met ‘n gemeentevergadering op 8 Julie 1893 word besluit om ‘n eie pastorie te bou. Mnr. Jan Snel se tender van £1 412 was die laagste en word so aanvaar. Later bou mnr. Snel die pastorie op die hoek van Aletta- en Pretoriusstraat teen ‘n bedrag van £1 115. Daar word eers besluit om die pastorie met ‘n eetmaal in te wy, maar later word die eetmaal afgestem.

Op 13 Junie 1953 beveel die boukommissie by die Kerkraad aan dat ‘n nuwe pastorie op twee erwe in die nuwe uitbreiding van die dorp, langs die Bloemfonteinpad gebou word. Mnr. A. van Wyk se tender word aanvaar en hy bou die pastorie met buitegeboue teen ‘n bedrag van £5 000. Die inwyding vind plaas op 19 Maart 1955 om 3nm met ds. Botha, Ringvoorsitter, wat die inwydingsrede hou.

Die ou pastorie word in 1958 verkoop vir £1 800.

Die Kerksaal

Gedurende Junie 1935 vra die susters o.l.v mev. Van der Westhuizen vir die oprigting van ‘n kerksaal. Die saak word in beginsel deur die kerkraad goedgekeur, maar word weens swak finansies op die langebaan geskuif.

In 1957 aanvaar die kerkraad met dank erf nr. 121, gesenk deur mnr. A. Griesel, vir die kerksaal. Die aangrensende erf nr. 122 word vervolgens van mnr. A.J. Coetzee gekoop vir £48.14.7. Op 25 Maart 1958 gee die kerkraad ds. Pretorius opdrag om voorlopig met die argitekte Louw & Louw te onderhandel t.o.v. doe opstel van planne vir die kerksaal.

Op ‘n kerkraadsvergadering van 13 September 1858 word die volgende persone as boukommissie gekies: H.J. van Aardt, H. Stander, J. Griesel, W. Grobbelaar, H.S. Alant en ds. Pretorius. By dié geleentheid noem die voorsitter dat die saal met sysaal ‘n totale oppervlakte van 7 500 vk. vt. sal beslaan en sitplek sal bied vir ongeveer 600 persone.

Aangesien besluit is dat die Kerkraad al die boumateriaal self sal voorsien, is daar aan die begin van 1959 tenders vir die arbeid alleen gevra. Die boukommissie aanvaar die laagste tender van M.C. van Straten, wat ook die seunskoshuis gebou het. Die totale koste beloop £15 233.19.6. Boukoste = £13 399. Stoele = £1 125. Kombuis = £709.19.6.

Op 7 November 1959 onthul ds. en mev. Pretorius die gedenksteen in die voorportaal van die kerksaal.

Predikante

Ds. W. Robertson.   Op 16 April 1893 kom hy en sy gesin hier aan vanaf Calvinia.Sy salaris is op £400 per jaar vasgestel. In sy tyd word die eerste kerkgebou opgerig, maar as gevolg van die Boereoorlog nie dadelik na voltooing ingewy nie. Ook word die eerste pastorie in sy tyd hier gebou.
Hy verlaat Petrusburg gedurende die oorlogsjare en keer nie weer terug ná die oorlog nie.

Ds. P.A. Roux.  Hy word op 24 Oktober 1903 hier bevestig, saam met die inwyding van die eerste kerkgebou. Aangesien dit baie moeilike jare net na die oorlog is, word sy jaarlikse salaris op £300 vasgestel. Gedurende 1911 is ‘n kapkar teen £57.10.0. vir die predikant gekoop. Ds. Roux was ‘n groot besieling vir die gemeente en het wondere verrig.
Op 7 November 1914 aanvaar hy ‘n beroep na Jagersfontein.

Ds. C.D. Bam.   Hy word op 20 Maart 1915 hier bevestig. Gedurende sy bediening hier word hy as moderator van die Vrystaatse Kerk verkies. Op 16 Julie 1917 vier die gemeente hul 25 jarige bestaan.
Op 16 Februarie 1920 aanvaar hy sy emiraat.

Ds. J.H. Badenhorst.   Hy is afkomstig vanaf die gemeente Rietfontein en word op 24 Julie 1920 hier bevestig. Op 11 Junie 1923 besluit die kerkraad om ‘n nuwe Ford motor vir ds. Badenhorst te koop. Dit moes ‘n “Self-Starter” hê en het £215 gekos. Die motor is verseker teen £14.10.0 per jaar. Maar omdat hy ‘n beroep na Reddersburg bedank het, is ‘n nuwe Dodge motor aan die begin van 1925 vir hom gekoop. Sy jaarlikse salaris is ook met £50 tot £500 verhoog.
Gedurende Julie 1926 aanvaar hy ‘n beroep na Dewetsdorp.

Ds. P.H. Coetzee.   Op 29 Januarie 1927 word hy as proponent vanaf Heidelberg beroep en word gedurende Mei 1927 hier bevestig. Teen die einde van 1927 word die eerste Sendingwerker, mnr. Steward, deur die gemeente in diens geneem. Gedurende 1928 word die sendingkerk ook voltooi.
Aangesien ds. Coetzee se gesondheid baie verswak het, bedank hy op 19 Augustus 1930. Hy ontvang ‘n bonus van £330 en kan ook in die pastorie aanbly vir solank as wat die kerkraad dit nie benodig nie.

Ds. Z.H. van der Westhuizen.   Hy en sy gesin arriveer hier in Maart 1931 vanaf Hartebeesfontein. Tydens sy bediening hier is elektriese ligte in die kerkgebou aangebring teen £200.
Aangesien hy verder wil gaan studeer, bedank hy en ontvang sy demissie op 4 Desember 1936.

Ds. A.M. de V. Esterhuizen.   Hy word op 13 Januarie 1937 vanaf Hoopstad beroep en word gedurende Mei 1937 bevestig. Tydens sy bediening hier word die kerk se nuwe toring met horlosie en nuwe klok op 11 April 1942 ingewy. Op 28 Junie 1942 word die gemeente se jubileumgedenksteen deur ds. P.J.J. Boshof in die kerk se voorportaal onthul.
Nadat hy ‘n beroep na Melsetter aanvaar het, neem hy afskeid van die gemeente op Sondag, 7 Desember 1947.

Ds. L.J. Pretorius.   Op 31 Januarie 1948 word hy vanaf Christiana beroep en in Maart hier ontvang. In Junie 1950 word die vendusie kafee gebou. Die nuwe pastorie word ook tydens sy bediening gebou. Die Willem Pretorius Seunskoshuis kom ook in 1955 onder sy ervare hande tot stand. Op 7 November 1959 word die kersaal ook voltooi.
Na 14 jaar in Petrusburg, 30 Junie 1962, aanvaar hy ‘n beroep as Sekretaris vir die Diens van Barmhartigheid en neem die gemeente met ‘n swaar hart afkeid van hulle.

Ds. L. du Toit.   Op Saterdag, 3 November 1962 om 10:30 vm word hy en mev. du Toit vanaf Gordonsbaai af op die Bloemfonteinpad ontmoet waarna hulle ontvangs die middag in die kerksaal plaasvind. Gedurende sy bediening word groot herstelwerk aan die kerkgebou gedoen. In 1967 word die gemeente ook 75 jaar oud. Hy het ook soms by die Polisiestasie uitgehelp as polisie-reservis. Gemeentelede wat die polsiestasie gebel het was dan baie verbaas om by die Predikant uit te kom.
Weens swak gesondheid aanvaar hy sy emiraat en ontvang hy sy demissie op 29 September 1968.


Tussen 5 Oktober 1968 en 29 Maart 1969 word ses beroepe sonder enige sukses uitgebring. Ds. F.J. Botha, emeritus leraar, bedien die gemeente gedurende hierdie vakature.

Ds. L.V. le Roux.   Op 19 April 1969 word hy as proponent vanaf Bloemfontein beroep, en bevestig gedurende Mei 1969.
Na minder as twee jaar aanvaar hy ‘n lektorspos aan die U.O.V.S en word sy demissie op 24 Januarie 1971 aan hom verleen.

Ds. J.T. Schutte.   Op 15 Mei 1971 word ds. en mev. Schutte vanaf Strydenburg hier ontvang en bevestig. In sy bedieningtydperk herbou ds. Schutte amper die hele dorp. Die ou kerkgebou word gesloop en in 1976 word die nuwe kerkgebou ingewy. Gedurende 1979 is “Ons Woning”, een van die mees doeltreffendste ouetehuise in die Vrystaat klaar. Tydens sy bediening verduidelik hy ook dat daar ‘n groot behoefte is vir ‘n Kleuterskool. Intussen word kategeselokale langs die kerksaal aangebou. Van dié lokale word ingerig vir die kleuterskool. Teen April 1982 was die kompleks al in volle gebruik.
Na ‘n uiters vrugbare bediening van 19 jaar in die gemeente, het hy sy emiritaat aanvaar en op Sondag, 13 Mei 1990 is demissie aan hom verleen. Na sy uittrede vestig hy en mev. Schutte hulself hier in Petrusburg.

Ds. C.C. van der L Fourie.   Gedurende Oktober 1989 word hy as proponent vanaf Potchefstroom beroep, en bevestig op 9 Februarie 1990, as medeleraar saam met ds. Schutte. Tydens sy bedienig vind die eeufees ook plaas. Op Donderdag, 16 Julie 1992 word daar vir die eerste keer in 43 jaar weer ‘n pastorie baba gebore. Die kerkklok het gelui en ‘n blou vlag is by die pastorie gehys om die geboorte van klein Christiaan aan te kondig. Hy word tydens die naweek van die eeufeesvieringe op Sondag, 11 Oktober 1992 gedoop.
Hy vertrek in 1999 na Bloemfontein waar hy by die Tweetoring kerk betrokke raak.

Ds. C. F. (Cassie) van der Berg.   Hy werk eers op ‘n deeltydse basis as geestelike werker in die gemeente. Nadat hy sy “Colloqium Doctum” (hertoelatingseksamen) afgelê het, word ds. Cassie vanaf Desember 1991 tot en met 1992 as hulpleraar onder ds. C.C. van der L. Fourie aangestel.

Ds. D. H.  (Dawie) Botes.   In 1997 word hy as proponent in die gemeente beroep, waarna hy as predikant oorneem by ds. C.C.van der L. Fourie. Hy is ongetroud en al die Tannies van die gemeente met hubare jong dogters dra hom op die hande. Hy trou later met Annamé Burger, ‘n plaaslike nooi.  (Sy pa was ook ds. D. H. Botes). In sy dientydperk hier doen hy besonder baie vir die jeug in die gemeente.
In 2008 aanvaar hy ‘n beroep na Bethlehem-Wes gemeente.

Ds. A. (André) Fourie.   Hy word in 2008 vanaf Warmbad in Namibië hiernatoe beroep. Onder sy leiding word besluit om van die kommissie-stelsel weg te beweeg na die bedieningsfunksionering van die gemeente. Sodoende kry gemeentelede die geleentheid om volgens die gawes van God te funksioneer en is meer lidmate betrokke.
Op 28 Februarie vertrek ds André en Magda Fourie na Volmoed gemeente net buite Oudshoorn, hulle albei se geboortedorp.

Ds. C.F. (Chris) van der Linde. In 2015 word Chris as proponent in Petrusburg georden in ‘n kontrakpos. In Augustus 2018 is hy en sy vrou Madri na Vryburg-Wes, waar hy sedert September predikant is.

Ds. C.F. (Cassie) van der Berg. Ná die vertrek van ds. Chris neem ds. Cassie as brugpredikant waar vir 8 maande, waartydens hy en sy vrou Emmie baie geseënde werk gedoen het.

Ds. J.D. (Jaco) en Elmien Thom sluit op 1 April 2019 by die gemeente aan as voltydse predikant, nadat hy 27 jaar by Toringkerk in die Paarl was. Sy eerste gemeente was Monument in Bloemfontein.

 

 

 

 

Klein Brokkies

  • Die eerste huweliks seremonies het net op ‘n Maandagoggend tussen 8h00 en 9h00 plaasgevind.
  • Die eerste egpaar is op 15 Augustus 1892 deur die konsulent van die gemeente, ds A. Murray van Jacobsdal getroud. Hulle was Michiel Jakobus Brand van Deventer en Johanna Jacoba du Toit.
  • Die eerste egpaar wat deur ds. Robertson in die huwelik bevestig is, was Dawid Johannes Daniël Zacharias Jacobs en Maria Susanna Fredrika Combrink, op 17 April 1893.
  • Fredrika Elizabeth van den Berg was die eerste kind wat hier gedoop is op 28 Junie 1892. Ds. C. Morgan van Bloemfontein, wat die gemeente help stig het, het haar gedoop. Sy is gebore op 17 Mei 1892 en haar ouers was Barend Frederik van den Berg en Sophia (nee) Brits van die plaas Welgedacht.
  • Die eerste groep Katkisante wat in die gemeente aangeneem is in Oktober 1982, deur Ds. A. Murray:  Dirk Marthinus Herbst, 18 jaar oud; Willem Christian Botha, 19 jaar oud; Willem Marthinus v. d. Berg, 25 jaar oud; Nicolaas Jacobus van Loggerenberg, 19 jaar oud; Christiaan Johannes Brobbelaar, 23 jaar oud; Pieter Willem Grobbelaar, 19 jaar oud; Willem Adriaan Kakobus Grobbelaar, 25 jaar oud; Jakobus Johannes van Wyk, 22 jaar oud; Johanna Elizabeth Margaretha Gertruida v. d. Merwe, 16 jaar oud; Johanna Catharina van wyk, 17 jaar oud; Aletta Jacoba van Wyk, 20 jaar oud; Catharina Helena Grobbelaar (Geb. Rood), 21 jaar oud; Maria Magdalena Susanna v. d. Berg (Geb. Grobbelaar), 26 jaar oud; Martha Johanna van Loggerenberg, 17 jaar oud; Johanna Maria Susanna Kock, 17 jaar oud; Susanna Gertruida Hendrika Kotze, 18 jaar oud; Johanna Petronella Coertse, 20 jaar oud; Francina Catherina Pretorius, 21 jaar oud.
  • Vanaf 20 Oktober 1882 tot 11 Desember 1892 is nog 25 kinders gedoop, terwyl 18 jongmense belydenis van geloof afgelê het.
  • In 1884 was daar 535 belydende lidmate, 66 kinders is gedoop, 47 het belydenis van geloof afgelê en 7 pare is getroud.
  • In 1917 toe die gemeente 25 jaar oud was, was daar 741 belydende lidmate, 778 dooplidmate, 68 kinders is gedoop, 38 het belydenis van geloof afgelê en 15 pare is getroud.
  • In 1942 toe die gemeente 50 jaar oud was, was daar 940 belydende lidmate, 560 dooplidmate, 37 kinders is gedoop, 30 het belydenis van geloof afgelê en 6 pare is getroud.
  • In 1967 toe die gemeente 75 jaar oud was, was daar 745 belydende lidmate, 245 dooplidmate, 21 kinders is gedoop, 12 het belydenis van geloof afgelê en 3 pare is getroud.
  • In 1992 toe die gemeente 100 jaar oud was, was daar 651 belydende lidmate, 273 dooplidmate, 20 kinders is gedoop, 26 het belydenis van geloof afgelê en 2 pare is getroud.
  • In 2013/14 is daar 435 belydende lidmate, 69 dooplidmate, 5 kinders is gedoop en 6 het belydenis van geloof afgelê.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: