Liewe gemeente
Grendeltyd is nou al ’n volle vier maande met ons, nadat president CR aanvanklik gesê het dit sal vir drie weke geld. Dit is ’n lang tyd, met geen vinnige einde in sig nie. Party mense glo dat dit nog tot in 2022 sal duur. Ek wil liewer nie eers daaraan dink nie.

Ek het in dié tyd onder andere geleer:

 

Moet op prinse nie vertrou nie

Ek het geleer dat die regering nie noodwendig oop kaarte met ons speel nie, of die welsyn van al ons land se mense op die hart het nie. Dit lyk selfs asof hulle ’n verskuilde agenda het. Talle regulasies maak gewoon nie sin nie. Ons het een van die mees drakoniese inperkings ter wêreld. Dit het ongelukkig ’n uitwerking op ons almal. Mense raak moedeloos, kwaad en traak-my-nie-agtig.
Die regering het baie geloofwaardigheid ingeboet. Aanvanklik was daar groot welwillendheid en ons het geglo ons president doen goed in die krisis. Hy het soos ’n president gepraat, en ons het geluister. Intussen het die teenstrydige regulasies en die feit dat die antie met die kopdoek oënskynlik die een is wat die septer swaai en selfs die president kan repudieer, baie van ons se opinie oor die regering en ons president nadelig verander.
Dit is ’n baie ongelukkige toedrag van sake, want nóú is die tyd dat ons as ’n nasie verenig moet staan in ons stryd teen die virus. Omdat teenstrydige en selfs onsinnige regulasies op ons afgedwing word, neem al minder mense die regulasies ernstig op. Dit kan die gevolg hê dat ons langer gaan sukkel om die virus te bowe te kom.
Voeg daarby dat Suid-Afrika ’n uiters wettelose land is waar min mense hulle aan wet en orde steur. Die inperking het dié tragiese situasie verergder. Daarom is daar van fisieke distansiëring en gesigsmaskers weinig sprake, want mense maak eenvoudig soos wat hulle lus het. Dit is deel van die feit dat Suid-Afrika nou die 5de plek ingeneem het onder die lande met die meeste infeksies.

Wat moet ons as gelowiges nou doen?

Die Bybel is baie duidelik daaroor dat ons geroep word om ons aan die owerheid te onderwerp. Kyk gerus na Romeine 13, of in Jesus se woorde (Matt 22:21, BDV): “Gee aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.” Dit vra van ons om die regulasies te gehoorsaam, selfs al maak dit nie vir ons sin nie. Ongelukkig is dit nie net ander wat hulle nie aan die regulasies steur nie. Ons is almal in ’n mindere of meerdere mate skuldig. Dis vir my sleg dat mense my verkwalik as ek by die reëls wil hou.
Die owerheid het nou, soos nog nooit nie, jou en my gebede nodig. Hulle het die Wysheid van Bo nodig, want menslike wysheid en planne, sien ons, stuur ons op rampspoed af.

  • Bid vir ons president, vir sy kabinet, vir sy raadgewers.
  • Bid vir die gesondheidsdienste in al sy fasette – die hospitaalbestuur, die dokters, die verpleegkundiges, die versorgers, die navorsers, en natuurlik die pasiënte.
  • Bid vir die land se ekonomie – ondernemings vou, mense verloor hulle werk, ander leef in vrees dat dit met hulle ook gaan gebeur.
  • Bid vir dié wat gebrek ly in dié dae.
  • Bid vir hulle wat wet en orde moet handhaaf. En hulle wat korrupsie moet uitroei.

God is almagtig. Hy hoor sy kinders se gebede. Dit kan ek en jy glo. Net die Here kan ons deur hierdie krisis bring. Hoe sing ons nou weer in Psalm 146? “Moet op prinse nie vertrou nie, waarby niemand heil kan vind. Op die mens jou hoop nie bou nie …”

 

Ek het mense nodig

Die tweede ding wat ek geleer het, is dat ek mense nodig het. Dit was vir my ’n verrassende ontdekking. Ek is ’n introvert wat gewoonlik baie goed op my eie kan aangaan. Maar noudat ek van ander afgesny is, besef ek hoeveel my kontak met ander vir my werd is.
Die feit dat die kerkdienste nie plaasvind nie; die feit dat ons nie kan huisbesoek doen nie; die feit dat ons nie by vriende kan kuier nie; en natuurlik, dat ons nie ons kinders en kleinkinders kan besoek nie – ek mis dit. Ek mis julle! Ek verlang daarna om julle weer te sien en met julle te kan gesels.
Ons is sosiale mense wat mekaar nodig het. Dit is die ubuntu-beginsel: ’n mens is ’n mens deur sy medemens. Sonder ander sukkel jy. Daarom is ek baie jammer en besorg oor mense wat alleen woon.

Wat staan ons hieroor te doen?

Behou kontak met ander. Bel jou mense, stuur ’n boodskap, hoe meer dikwels, hoe beter. Kontak iemand wat jy vermoed eensaam is. En bid vir mekaar.

 

Barmhartigheid

Die derde ding wat ek geleer het, is dat ons mense ’n oop hand vir ander het. Daar is haas nie ’n gemeente wat nie een of ander hulpskema het nie, om kos en ander benodighede aan dié in nood uit te deel. Ek onthou daar was ’n tyd toe lidmate gewillig was om by te dra as die hulp aan “ons mense” gaan. Ek prys die Here dat ons in dié opsig groot treë gegee het om meer mense raak te sien en te help. En ek dank die Here vir elkeen wat ’n oop hand het – boere, salaristrekkers, selfs pensioentrekkers.

 

Die Here is goed

Die vierde ding wat ek moet noem, is dat die Here vir my goed is, nie net in tye van voorspoed nie, maar ook in tye van swaarkry. Dis nie iets wat ek nou eers geleer het nie, maar iets wat nou weer vir my baie beteken. Ons aanbid ’n wonderlike Here!

Sterkte met die volgende skof van die pandemie. Ons gaan dit maak! Kyk op en skep moed. Ek doen.

 

Jaco Thom

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: