Ons wil almal graag hê dat die gemeente moet groei en dat lidmate wat oor die laaste paar jaar verdwyn het, sal terugkom, of dat nuwe intrekkers by ons gemeente sal aansluit. Daarom is dit goed om na die kerk in Handelinge te kyk. Hoe het hulle dit reggekry dat daar daagliks nog mense by die kerk aangesluit het?

Een van die dinge waarop kerkhistorici wys, is die besondere manier waarop die vroeë kerk oop was vir nuwe lede; hulle gasvryheid.

Gasvryheid was van die vroegste tye ’n belangrike beginsel vir die volk van God. Daar word heelwat in die Ou Testament gesê oor die plek van vreemdelinge, en hoe Israel hulle oor vreemdelinge moes ontferm. Die saak van die vreemdelinge kry selfs in die Tien Gebooie aandag (Eks 20:10 – ook die vreemdelinge moes op die sabbatdag rus). Daar was selfs wette wat die saak van die vreemdelinge verskans het. Ons lees bv in Lev 19:33-34: “Wanneer daar ’n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. Julle moet hom soos ’n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God.” Ons hoor iets hier van die hart van God, wat vir mense – alle mense – klop. Hoe anders kan ons dit verklaar dat Jesus mens geword het?

As ’n mens die beskrywing van die vroeë kerk in Hand 2:42-47 lees, tref die besondere hartlikheid in die eerste gemeente ’n mens. Hier was ’n buitengewone gemeente, wat naby aan die Here geleef het, hulle toegelê het op sy Woord, en omgegee het vir mekaar. En toe dít gebeur, het mense dit agtergekom. Die buitestaanders het hulle geag, en daagliks het daar nog mense by hulle aangesluit.

Die kerkhistorici sê die rede waarom die vroeë kerk so vinnig gegroei het, het presies hier gelê: by die besondere kwaliteit van die gemeente. Mense het gesien en aangevoel dat daar ’n egtheid, ’n hartlikheid, ’n vreugde, in die gemeente was, en dit het hulle aangetrek. Die rede dat mense by die gemeente aangesluit het, was nie hulle sendingwerk nie, maar hulle gasvryheid, want mense wat nuuskierig was oor wat in die gemeente aan die gang is en kom kyk het, is ingetrek, welkom laat voel, en – hulle het gebly. Daarom staan hier: “Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.” (2:47).

Dit was nie altyd maklik nie. Die lede van die eerste gemeente moes soms hulleself en hulle vooroordele oorkom om gasvry te wees, soos die verhaal in Handelinge 11 onderstreep. Wat Petrus gedoen het, het teen hulle grein ingegaan. Maar toe hulle besef dat dit presies is wat God van hulle verwag, het hulle houding verander. Hulle het God geprys omdat Hy nuwe mense by die gemeente gevoeg het (11:18). As ’n mens duidelik kan onderskei tussen wat vir jou persoonlik lekker is, en wat God se wil is, kan die kerk groei.

Dit is dalk die uitdaging vir ons vandag. Ons wil almal hê nuwe mense moet deel van die gemeente word, en ou lede moet terugkom. Hoe kan dit gebeur? Een van die foute wat ons maak, dink ek, is dat ons vriendelik is met besoekers, maar nie uit ons pad gaan om mense tuis te laat voel nie. Ek lees iewers van ’n gemeente wat ’n sg. 5 minute reël ingestel het: jy mag vir die eerste 5 minute ná die erediens nie met iemand wat jy ken, gesels nie. Jy moet met mense gesels wat jy nie ken nie, of nog nie ontmoet het nie.

Ek onthou, uit my vorige gemeente, hoe ’n nuweling by ’n basaar-reëlingsvergadering opgedaag het. Mense het hom vriendelik gegroet en toe met hulle eie dinge aangegaan. Niemand het met hom gesels nie, totdat hy later gesê het dit lyk nie vir hom of ons hom nodig het nie. Ek het baie goor gevoel. Maar dis wat gebeur!

Om af te sluit, wat kan ons doen om meer verwelkomend te wees? Ek het die volgende raad raakgelees:

Onthou:
∙ Eerste indrukke is baie belangrik. Meestal kry ons net een kans.
∙ Elke lid van die gemeente het die verantwoordelikheid om besoekers tuis te laat voel. Dis nie ander mense se werk nie, dis joune!

So wat kan jy doen?
∙ Bid dat daar besoekers sal opdaag, en verwag dat hulle sal kom.
∙ Moenie eers halftien by die kerk opdaag nie. Dan het jy nie tyd om nuwe mense te ontmoet en te verwelkom nie. Buitendien wil ons mos nie hê besoekers moet in ’n leë kerkgebou instap nie.
∙ Doen moeite om met vreemdelinge te gesels, nie net met jou vriende nie. Stel in hulle belang. Onthou die 5 minute reël!
∙ Ons het almal geliefkoosde sitplekke in die kerk, maar gaan sit naby ’n besoeker, sodat hy of sy nie alleen en vreemd is nie.
∙ Moenie na besoekers in die eerste plek kyk as moontlike nuwe lidmate nie. Hulle is eerstens medemense teenoor wie jy vriendelik en verwelkomend moet wees.

As ons dít doen, sal dit dalk van ons ook gesê word: Die hele dorp is ons goedgesind. En die Here voeg elke dag mense wat ’n geestelike tuiste soek, by die gemeente.

Soos in Sag 8:23 staan: Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.”

Gasvryheid is deel van ons roeping as gelowiges. Mag ons met insluitende gasvryheid mense in die gemeente tuis laat voel.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: