Dit is vandag Hervormingsondag. Die kerk vier elke jaar op die laaste Sondag in Oktober Hervormingsfees, want dit was op 31 Oktober 1517 wat Martin Luther, die groot hervormer, sy 95 stellings aan die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker het. In dié 95 stellinge het hy sy protes teen die kerk van destyds se leerstellings en verkeerde praktyke uiteengesit, en daarmee die kerklui uitgenooi om met hom in gesprek te gaan oor dié sake. Die kerk wou nie na hom luister nie en het hom uit die kerk geban, en só het ’n nuwe kerklike beweging tot stand gekom, die Protestantisme (van die woord ‘protesteer’). Die Lutherse kerk, maar ook al die kerke wat die naam Hervormd of Gereformeerd dra, se geskiedenis kan ons na daardie gebeurtenis terugvoer.

Daar was ’n paar sake waaroor manne soos Luther, en later ook Calvyn, baie sterk gevoel het. Een van dié sake was die Bybel. In die Katolieke Kerk van sy tyd is die gewone mense nie toegelaat om Bybels te besit nie. Net die priesters het toegang tot ’n Bybel gehad, en dan was die Bybel boonop ook nog net in die Latynse vertaling (die Vulgaat) beskikbaar. Luther het gesê: Nie die kerk of die pous nie, maar die Bybel moet die finale gesag en ons rigsnoer in die lewe wees – Sola Scriptura – en daarom is die Bybel bedoel vir alle mense om te lees en te verstaan. Een van die heel eerste take wat hy op homself geneem het ná hy uitgeban is, was om die Bybel in Duits te vertaal, sodat die gewone mense dit ook self kon lees en verstaan.

Wat ’n ongelooflike voorreg het ons om ’n Bybel in die hand te mag neem! Om persoonlik een te mag besit, om dit te kan lees in die taal wat ons die heel beste kan verstaan, ons eie moedertaal!

In Psalm 19 wat ons saam gelees het, sê Dawid so een en ander oor die wonder van die Bybel, hoe dit nuwe lewenskrag gee, wysheid gee, die hart bly maak en die oë verhelder. Hy raak skoon liries as hy aan die Bybel dink.

Sê my, lees jy nog die Bybel? Verslind jy dit? En nou praat ek nie van dagboeke nie – dit is wonderlike hulpmiddels om die Bybel beter te verstaan, maar dit mag nooit die Bybel se plek in ons stiltetyd verdring nie. Ek was nogal ontsteld toe ’n lidmaat in my vorige gemeente vir my vertel dat sy so ’n oulike dagboek het, die teksvers is sommer daarin afgedruk, so nou hoef sy nie eens haar Bybel oop te maak as sy stiltetyd hou nie. Lees jy nog jou Bybel?

Maar hoekom is dit so belangrik om die Bybel te lees? Ek wil net drie redes (behalwe die klomp wat Psalm 19 noem) uitlig:

1. GOD PRAAT MET ONS IN DIE BYBEL
Hebreërs 1 sê: dis hoe God met ons praat. God het deur die eeue heen baie keer en op baie verskillende maniere met mense gepraat. Daarom het ons ’n dikke boek, en nie net ’n paar reëls en regulasies nie. In hierdie dik boek kom God aan die woord met ’n rykdom van stemme – deur uitsprake van profete, deur bepalings in die wette van Moses, deur gebede en liedere in die Psalms, deur wyse uitsprake in Spreuke, deur briewe wat die apostels aan die vroeë kerk geskryf het, en deur verhale van mense wat voor God geleef het. In die Bybel kom God aan die woord.

2. ONS LEER GOD SELF IN DIE BYBEL KEN
Deur al hierdie verskillende stemme is God besig om Homself aan ons bekend te stel. En Hy doen dit nie deur ’n lysie te maak waarin Hy al sy hoedanighede opnoem, of waarin Hy Homself beskryf nie. Jy sal verniet na só ’n bekendstelling van God in die Bybel gaan soek. Nee, as God Homself aan ons bekendstel, vertel Hy verhale waarin ons Hom sien optree. En as ’n mens mooi oor die saak dink, is dit presies hoe ’n mens iemand anders die beste leer ken, nie waar nie: as jy sien hoe hy of sy optree in bepaalde situasies, hoe hy of sy reageer en voel en dink oor dinge. Dis wat die Bybel ook doen: dit vertel vir ons van God se besigwees met ons. Daarin sien en hoor en beleef ons hoe God is, hoe sy hart klop vir sy wêreld en vir sy mense. In God se handelinge met die mense leer ons sy hart ken. Die hele Bybel is een groot verhaal van God wat die wêreld so liefhet dat Hy dit nie oor sy hart kan kry om dit prys te gee nie.

Daarom kan die prentjie van wie God is, natuurlik nooit volledig wees sonder die verhaal van God se Seun wat mens geword het nie. Die Hebreërskrywer stel dit so: 1In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur die Seun … 3Hy is die uitstraling God se heerlikheid, en die ewebeeld van sy wese.

In die verhaal van Jesus sien ons hoe God lyk, leer ons Hom ken soos Hy is. Dis een ding om te hoor dat God omgee vir jou, maar dit is ’n ander ding as jy sien hoe God se omgee in Jesus gestalte kry: hoe Hy mens word, hoe Hy met ’n vrou by die put van Sigar sit en gesels, hoe Hy by die graf van ’n vriend staan en huil … Jy kan – om maar net nog een ander voorbeeld te noem – ’n honderd keer hoor dat God die sonde haat, maar jy verstaan dit eers regtig as jy die kruisiging van sy Seun op Golgota beleef.

3. ONS SIEN HOE LYK GELOOF IN DIE PRAKTYK
Maar in die verhale staan ook meer. Dit vertel ons ook hoe mense in die verlede voor God geleef het, van hulle worsteling om te glo en God se leiding te volg, van die vreugde van oorwinning in God se Naam, en van die hartseer wat sonde bring. In dié verband skryf die apostel Paulus in 1 Kor 10:11: Dit het met daardie mense as voorbeeld gebeur, en is as waarskuwing neergeskryf vir ons wat in die eindtyd verkeer.

Sonder die Bybel sou ons soos blindes rondgeploeter het. Die verhalende gedeeltes in die Bybel is ’n ongelooflike skat van inligting, inspirasie, voorbeelde, waarskuwings. Die Hebreërskrywer noem die gelowiges wat ons vooruitgegaan het, “’n groot wolk getuies” (12:1) wat op die pawiljoene sit om ons in die wedloop van die lewe aan te moedig. Hoe eensaam is die geloofspad nie as jy alleen daarop moet hardloop nie! Daarom is dit baie belangrik dat ’n mens ook die verhalende dele van die Bybel lees; dat jy die gelowiges van ouds sal leer ken, nie as geskiedenisname nie, maar as mede-gelowiges, as mense van vleis en bloed, mense soos ons. Ons kan baie by hulle leer van wat dit prakties beteken om gelowige te wees in die wêreld.

So: kom ons lees ons Bybels, kom ons verslind dit, want dit is God se woord aan ons. Dit is kosbaarder as goud, en soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek. Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: