Dit is vanoggend die derde Advent-Sondag. Dit beteken daar is nog net 2 Sondae oor (saam met vandag), dan is dit Kersfees. En elke jaar in hierdie laaste 4 Sondae voor Kersfees, die Advent-Sondae, dink ons aan Kersfees, aan die koms van Jesus Christus na hierdie wêreld.

’n Groot deel van die bekoring van die Kersgebeure is die feit dat dit oor ’n babatjie gaan: die baba Jesus. Die meeste van ons vind mos ’n baba onweerstaanbaar; en so was dit van die begin af ook oor die Kindjie in die krip in Betlehem.

Vanoggend is dit natuurlik nie net die 3e Advent-Sondag nie; dit is ook Doopsondag, en toe Marlah die kerk ingebring is, het ons almal ons nekke gerek om die baba te sien. ’n Babatjie is tog so klein en weerloos.

Babas is klein en weerloos, dis waar. Maar hulle is nie onskuldig nie. Hulle is, so klein soos hulle is, almal ’n klomp sondaars, net soos ons almal. Daarom moet babas kerk toe kom om gedoop te word: omdat hulle sondig is. Omdat hulle ’n Verlosser nodig het, net soos ons. Dit is die eerste ding wat die doop vir ons leer: Ons is almal sondaars, ook hierdie klein dogtertjie, wat nie in die koninkryk van God kan kom nie, tensy sy verlos word, skoongewas word van haar sonde, net soos ons nodig het om skoongewas te word.

Dit is wat die Kersverhaal vir ons wil vertel: dat ons sondaars is. Ons moet dit tog nooit vergeet in ons opgewondenheid oor die Kindjie in die krip nie. Kersfees het aangebreek omdat ons sondaars is. Kersfees ís ’n fees, ja, maar ’n fees wat God ’n geweldige prys gekos het: sy eie Seun. Jesus Christus is gebore, Hy lê daar in die stal op ’n bedjie van strooi, so sing ons. Maar ons moet onthou: Hy is gebore om te sterwe. Hy het gekom om gekruisig te word vir jou en my sonde, en ook vir Marlah wat netnou gedoop is, se sonde.

Ons teksvers sê: “Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem.” Christus het gekom om sy lewe te offer aan die kruis. Sy bloed moes vloei vir jou en my sondes, en vir ons kinders s’n. Want sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie (vs 22).

Hieraan wil die doop ook vanoggend vir ons herinner. Ons is almal dankbaar en bly as daar ’n kindjie gedoop word, maar ons moet onthou: die water waarmee die kinders gedoop word, vertel vir ons van die bloed van die Here Jesus wat op Golgota gevloei het.

In die Ou Testamentiese tye is die babaseuntjies mos besny as hulle 8 dae oud is, en tydens dié operasie het daar bloed gevloei. Daardie bloed van die besnydenis het ook vir die mense van die Ou Testament vertel dat hulle sondaars is, en dat daar bloed nodig is vir hulle vergifnis. Hierdie bloed wat nodig was, hét toe gevloei – op Golgota, waar die Here Jesus eens en vir altyd sy lewe as offer vir ons sondes gegee het, soos ons teksvers duidelik sê. En omdat sy bloed klaar gevloei het, is daar nie meer offers nodig nie, en hoef ons nie deur die bloedige besnydenis-teken aan sy kruis herinner te word nie. Daarom het Christus vir ons ’n nuwe teken gegee om ons daaraan te herinner dat sy bloed ons sondes afwas: die water van die doop.

Daarom, laat ons vanoggend by die doop bly wees, maar dan nie oppervlakkig bly nie. Laat ons dankbaar-ootmoedig bly wees, want die doop vertel nie net vir ons dat God hierdie babatjie – en ons – liefhet nie. Die doop vertel ons dat God se liefde vir ons sy eie Seun se dood gekos het, sodat Hy ons van ons sonde kan verlos.

En as ons in hierdie Kerstyd bly is en so heerlik Kersliedere sing, laat ons tog ook in ons bly-wees nooit vergeet nie: dit het Kersfees geword omdat ons sondaars is. Christus het in die klimaks van die geskiedenis gekom, Hy het in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem – jou en my sonde.

Kersfees is ’n tyd om bly te wees. Maar Kersfees is ook ’n tyd om stil te word in die wete: ons is sondaars. En daarom is Kersfees nie ’n tyd vir pret en jolyt en partytjies en groot geskenke nie. Dit is ’n tyd om diep-dankbaar voor jou Verlosser te buig. Daarom wens ons ook nie vir mekaar bloot “Happy holidays!” toe nie. Nee, vir ons wat weet waaroor Kersfees regtig gaanvir mekaar toe: ’n Geseënde Kersfees.

Mag hierdie Kersfees vir jou en my opnuut weer by Golgota uitbring. Mag dit vir ons almal ’n geseënde Kersfees wees.

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: