Die hele wêreld is in rep en roer oor COVID-19. Gisteraand het pres. Ramaphosa sy maatreëls om die verspreiding van die virus te bekamp, verskerp en ons almal beveel om tuis te bly. Die alternatief, naamlik dat ons aangaan asof niks gebeur het nie, is te verskriklik om eers te bedink.

Ek het half verslae gesit en luister hoe hy die toesluit van die land aankondig. My kop het in hoogste versnelling gewerk. Wat hiervan, wat daarvan, hoe hiermee gemaak …

As jy ook so voel, weet jy wat in die hart van die digter geleef het toe hy in Psalm 130 gebid het: “Uit die dieptes roep ek na U, Here …”

Die digter sê nie vir ons wat gebeur het dat hy in die dieptes van ellende is nie, en dit is ook goed so, want nou kan ons elkeen met ons eie nood hierdie gebed van Ps 130 bid: “Uit die dieptes roep ek na U, Here!”

Want wat in ons land en wêreld gebeur, druk ons almal af tot in die dieptes van ellende, waar alles om jou vir jou donker lyk, en jy nie eintlik uitkoms sien nie. In Totius se beryming van hierdie psalm verwoord hy dit goed; 

Uit dieptes, gans verlore, van redding ver vandaan,
waar hoop se laaste spore in wanhoop my vergaan;
uit diep van donker nagte roep ek, o Here, hoor,
en laat my jammerklagte tog opklim in u oor!

Dit is die wonderlike van kind-van-God-wees: dat jy met jou nood na Hom toe kan vlug. Nie dat jy vrypostig op sy hulp aanspraak kan maak, of dat jy enige regte het waarop jy voor God kan staan en sy hulp eis nie. Ons is immers almal sondaars, soos die digter maar te deeglik besef. Daarom sê hy ook in vers 3 dat hy weet sy sondigheid behoort hom eintlik van God af te vervreem, maar hy hou vas aan God se vergifnis; dat God se genade groter is as ons sondigheid.

Dís die evangelie, die goeie nuus, van God se betrokkenheid by ons: dat Hy ’n God van vergifnis is; dat sy troue liefde baie groter is as wat ons ooit kan dink. Daarom het Hy mens geword en onder ons kom woon: sodat Hy ’n God kan wees wat naby aan ons is, wat ons nood verstaan, en sodat Hy ons kan help. Hy het op Golgota in die diepste dieptes van selfs Godverlatenheid ingedaal. Daarom roep ook Hý aan die kruis: “My God, my God!” sodat ons geroep na God nie tevergeefs sal wees nie. Hoe het die ou nagmaalsformulier nou weer gesê? Hy is van God verlaat, sodat ons nooit meer deur God verlaat sal wees nie. Daarom mag ons, sondaars wat ons is, met God praat, en tot Hom roep in tye van nood.

Ons mag ook met óns nood, uit óns donker dieptes, na God roep. Dit is waartoe hierdie psalm vir ons uitnooi en uitdaag. Daarom roep hy ons op in vers 7: “Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.” ’n Mens kan dit ook só vertaal: Vestig jou hoop op die Here, want by Hom is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker. Vestig jou hoop op die Here, wag op Hom, want Hy sál antwoord en ons deurdra uit die dieptes uit.

Daar is natuurlik baie wat ons nie verstaan nie; wat ons graag anders sou wou hê. Maar ons is nie God nie. Ons weet nie hoekom Hy dinge toelaat nie. Ons weet net – en daaraan mag ons vashou – dat Hy nie moedswillig is nie; dat daar by Hom genade en liefde vir ons is. Daarom kan ons op Hom wag, geduldig wag totdat Hy antwoord, want, verseker die Woord ons, by Hom is die verlossing seker.

Totius het dit só verwoord in sy beryming:

Hoop, Israel, in jou klagte; vertrou, o volk, wat treur;
sy guns verduur die nagte, sy heil breek eind’lik deur.
Dan skyn ’n soete vrede: gans Israel word vry
van ongeregtighede. Heer, doen ook so aan my!

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: