’n Klompie jare gelede was daar ’n aangrypende foto op die voorblad van die koerant van ’n vrou wat alles in die lewe verloor het. Sy moes huis en haard verlaat om na ’n vestigingskamp in die voormalige Ciskei oorgeplaas te word. In ’n onderhoud met die verslaggewer het sy moedeloos gesê: ‘I am so hungry now as I am sitting here. Everybody has died. My man has gone and died, so have my daughters. They took my land away. The Lord has also gone, yes, I suppose He has also gone.’

God is weg. Dit is die ergste wat enige mens kan ervaar, die diepste put waarin jy gegooi kan word, die moeder van alle krisisse. Daarnaas is alle ander dinge, hoe erg hulle ook al mag wees, kinderspeletjies. Om die waarheid te sê, al die ellendige dinge wat na ’n mens se kant toe kom, kan slegs simptome wees, klein onderafdelings van hierdie groter, allesomvattende ellende: God is weg. Dis wanneer jy die gevoel kry dat God vir jou wegkruip. Hierdie verborgenheid, die skynbare afwesigheid van God, is die ergste van alles.

Israel moes iets soortgelyk tydens hulle ballingskap ervaar het. ’n Ander woord vir ballingskap sou kon wees “godverlatenheid.” Dat hulle van hulle grond af weggeneem is, was erg. Dat hulle bestaan in stukke gebreek is, was erg. Dat hulle God, Jahwe, skynbaar die stryd teen Marduk, die god van Babel, verloor het, was baie erg. Maar dat God hulle verlaat het, hulle oorgegee het aan hulle eie lot en hulle eie skuld, dit was die ergste! Daarom hoor ons ook dikwels hoe hulle in die Jesajaboek kla: Die Here sien ons nie raak nie; die Here het ons vergeet; die Here se verbond met ons het in duie gestort. In hierdie selfde hoofstuk, Jes 40:27, lees ons hulle sê: Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby.

Maar – en dis die evangelie van Jes 40 – dis nie waar nie! Jes 40 verkondig presies die teendeel. Luister bv wat staan in vers 9-10: Sê vir die stede van Juda: “Julle God is hier! Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer.”

Dit lýk maar net of God afwesig is. Of beter gesê: Hy is net op ander maniere as wat ons gedink het by ons teenwoordig. Die fout lê eerder by ons manier van kyk, by ons (geloofs)oë. Ons kyk, maar ons sien nie. Ons staar ons blind teen die magte, die gode, die Bose, en ja, teen ons eie skuld. Ons reken dat God ons alleen in die doodloopstraat van ons omstandighede agtergelaat het. Intussen is Hy nader aan ons as “ons hemp of ons rok,” soos Martin Luther gesê het.

Ons God is hier! Ons God sál uitkoms bring. Dis die boodskap van Epifanie. Hy het ons wat soos skape gedwaal het, ons wat elkeen ons eie pad geloop het, nie aan die godverlatenheid van die wildernis oorgelewer nie, maar ons soos ’n herder kom versorg. Die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie (vers 11). So is Hy onder ons werksaam, Hy wat die Magtige is – as ’n Herder, ’n goeie Herder, wat self lam geword het om sy lewe af te lê vir sy kudde (Joh 10:11). Dit is juis daarom dat ’n mens Hom miskyk: Hy wat as die koning aan God se regterhand sit, is steeds deur sy Gees by ons as die nederige, die Herder, die skynbaar magtelose en skynbaar afwesige.

Die probleem is natuurlik dat ons Herder nie die voorblad van die koerant haal nie – net dié wat skynbaar herderloos is; die Herder se koms en werksaamheid word nie met groot fanfare aangekondig nie – eerder dié van bose en vernietigende magte. Maar, kyk mooi, kyk weer: die Een wat in Betlehem gebore is, is hier by ons. Sit jou geloofsbril op, kyk met verhelderde geestesoë na die jaar 2021: dis die ruimte, die tyd waarin die Herder werksaam is. Ja, ook die jaar 2021 is Herderstyd, troostyd. Soos hierdie hoofstuk begin: “Troos, troos my volk!” sê julle God. (2020-vertaling)

Dís die boodskap van Epifanie. God is Immanuel, in ons midde, Hy het ons nie in die steek gelaat nie, ons nie prysgegee aan die noodlot of die demone of die pandemie nie. Dit getuig daarvan dat die Een wat as mens gekom het, ook in 2021 sy herderstaf oor ons sal uithou en sy arms rondom ons sal vou. Hy is al die dae tot die voleinding van die wêreld, met die deernis van die Gekruisigde, by ons. Jesus, ons goeie Herder, is nou nader aan ons as toe Hy op die aarde, in die omstreke van Palestina, rondgewandel het. Daarom sê Jesaja (vers 9): Moenie bang wees nie, julle God is hier – óm jou, binne-in jou. Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my (Ps 139:5, 2020-vertaling).

Hy is by jou, binne-in jou ballingskap, binne-in die pandemie, binne-in jou ervarings van Godverlatenheid en Godswye. Dit hang net af hoe jy luister, hoe jy kyk.

Die groot prediker Spurgeon het in dié verband opgemerk: “Iemand sê: Waar is God? Iemand antwoord: Waar is God nié?”
Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: