Jes 55:8,9 God se weë is nie ons weë nie

Hierdie woorde van ons teksvers word dikwels deur mense aangehaal wat groot teleurstelling beleef, met wie dit baie sleg gaan. Dan sê die mense: Nou ja, ons moet maar berus en tevrede wees. Die Here se gedagtes is nie ons gedagtes nie, en sy weë is nie ons weë nie.

Nou is dit natuurlik waar dat ons nie altyd verstaan waarom dinge met ons gebeur, of waarom God toelaat dat daar teleurstellings oor ons pad kom nie. Maar tog is dit nie wat hierdie teksverse vir ons wil sê nie. Die verse wil nie vir ons sê: “Berus maar, die Here weet beter” nie. Nee! Hierdie verse wil ons aanspoor en bemoedig, wil vir ons sê: “Bly hoop op God, want Hy is gelukkig nie soos ons nie. Sy gedagtes, sy optrede, is soveel anders as ons s’n.” Hierdie teksverse wil ons nuwe hoop gee; dit wil ons nie gelate maak en laat berus in ons lot nie.

Om die teks te verstaan, moet ons in gedagte hou dat dit in die ballingskapstyd van die Jode in Babel geskryf is. Die Jode was op dié stadium al so ’n 50 of 60 jaar lank in Babel. En hoewel daar Jode was wat getrou aan God gebly het en hulle geloof behou het en altyd weer terugverlang het na Jerusalem en Juda, was daar ook ander Jode wat hulle goed aangepas het by Babel en eintlik in die ballingskapsperiode Babiloniërs geword het wat hulle land, en meer nog, vir God, vergeet het.

In dié omstandighede kom die onvergelyklike uitnodiging van die Here by monde van Jesaja (55:1): Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.

En toe was daar van die Jode wat aan God trou gebly het, wat skeef opgekyk het en gevra het: “Almal? Hoe kan God vir hulle wat nie getrou was nie, net so ’n kans gee om na Hom te kom as vir ons wat al die tyd by Hom gebly het? Dis mos onregverdig teenoor ons!”

Dis in antwoord hierop dat God in vs 8,9 sê: “Moenie só redeneer nie. My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie!” Waar ons lankal moed opgegee het, waar ons lankal sou ophou help, ophou vergewe, ophou nuwe kanse gee, daar bly die aanbod van die Here nóg staan dat ons na Hom kan, en moet, kom.

En dit is wat God ook in hierdie verse vir ons wil leer: dat niemand se nood te groot of te klein is om gehelp te word nie; dat daar nog ’n kans is, nog ’n geleentheid om na Hom te kom. Want God is nie soos ons nie. Gelukkig is dit so. Gelukkig is God se gedagtes nie soos ons s’n nie. Gelukkig is sy optrede verhewe bo ons optrede – anders het ons nie nou ’n Lydenstyd beleef nie. Want dít is tog wat ons herdenk in hierdie Lydenstyd: dat Christus na die wêreld gekom het ten spyte van wie ons is.

Dít is die wonder, die aangrypende van Golgota: dat God sy kosbaarste, sy enigste Seun stuur vir ondankbare, goddelose sondaars soos ek en jy, vir mense wat lankal hulle kans op Gods genade verbeur het. God vra nie: “Het jy My al die jare getrou gedien?” of “Was jy laks?” nie. Nee. Hy sê net: Kom, almal wat dors is, kom na die water. Almal wat vermoeid en belas is, kom na My, en Ek sal jou rus gee.

Ook vandag nog kom God se uitnodiging na ons almal. Ook na jou. Daarvoor het Christus gekom – om vir ons wat sonder geld is, bankrot is vanweë ons sondeskuld, die lewe te gee, en dit in oorvloed.

God het nie vir die Jode gevra wat hulle al die jare in ballingskap gemaak het nie. Nee, sy aanbod het vir almal gestaan. Hy vra ook nie uit na jou verlede nie. Maar Hy vra wel uit na jou antwoord vandag.

God se weë is nie soos ons weë nie. Hy is onbeskryflik genadig teenoor ons. Maar dan moet jy daarop reageer, want genadetyd kan verbygaan. Jy moet na God toe kom, anders word jou dors nie geles nie.

Nou weet ek natuurlik nie hoekom jy dalk vanoggend dors is nie. Dalk is dit jou sondenood wat jou na God laat dors, na sy vergifnis. Dalk sit jy gereeld hier in die kerk en dink almal jy is ’n kind van die Here, maar diep in jou hart weet jy dat jy nog nie aan God behoort nie; dat jou sonde tussen jou en Hom staan. Dan sê Hy nou vir jou: Kom!

Dalk het jy ’n ander behoefte, en voel jy jy kan God darem nie daarmee pla nie. Jy het jou verhouding met Hom oor die jare afgeskeep, en daarom het jy nie nou die reg om met dié groot nood na Hom te gaan nie. Dalk dink jy jy sal eers weer ’n tydjie nader aan Hom moet leef, en eers die reg moet verdien om Hom te pla met jou nood, voordat Hy sal luister. Vir jou sê die Here óók vanoggend: Kom, almal wat dors is …

Of dalk voel jy: ek het God al so baie gepla met my behoeftes, ek kan dit nie nou wéér doen nie. Hy sal teen dié tyd al moeg wees vir my. Ook vir jou nooi God vanoggend. Kom! Want onthou, my gedagtes is nie soos joune nie. Ek is nie soos jy nie.

Julle sal gehoor het dat daar ’n dringendheid in God se uitnodiging is. Kom vandag nog! nooi Hy. Want – en hieraan wil Hy jou óók vandag herinner: God se genadetyd kan verbygaan. Sy uitnodiging staan vandag nog, maar daar kan ’n tyd kom dat sy genade-aanbod nie meer geld nie. Daarom sê vers 6: Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.

Dit is Lydenstyd – dié tyd in die jaar wanneer ons na Golgota toe opkyk, en nadink oor die betekenis van Jesus se lyding vir ons lewe en geloof. Dit is die tyd van die jaar waarin ons gekonfronteer word met die vraag: Wat maak jy met Jesus? Wat maak jy met sy offer op Golgota? En wat maak jy met sy aanbod van genade?

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.

Só klink God se uitnodiging, sy genade-aanbod aan jou. Gryp God se genade-aanbod in Christus Jesus vandag nog aan! Net Hy kan jou dors les.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: