Van die vroegste tye was daar mense wat ’n probleem met die kerk se nagmaalsviering gehad het. Party mense het dit ’n makabere dodefees genoem, en gesê die Christene drink mensbloed. En vandag is daar steeds mense wat bedenkinge het oor Christus se kruisdood wat ons vanoggend gedenk. Hulle sê hulle kan nie vrede maak met ’n bloeddorstige God wat sy eie Seun offer nie. Dit gee vir hulle aanstoot, sê hulle. Buitendien het hulle ’n vraag of die kerk se storie dat ons sondaars is wat verlossing nodig het, houdbaar is.

Onlangs is die kerklike gemeenskap geskok toe ’n oudpredikant, dr Ben du Toit, alle bande met die kerk verbreek het en gesê het hy glo niks meer nie; die hele geloof-ding en God is niks anders nie as ’n mensgemaakte, uitgedinkte storie. Jesus was net ’n mens, nie die Seun van God nie; Hy het nie ’n maagdelike geboorte gehad nie en het ook nie uit die dood opgestaan nie.

Julle ken mos die uitdrukking: “Slim van sy baas.” In Spreuke 26:12 staan: “Jy sien self: vir iemand wat dink hy het die wysheid in pag, is daar minder hoop as vir ’n dwaas.” Paulus waarsku ook in Rom 12:16 (2020-vertaling): “Moenie wys wees in julle eie oë nie.”

Iets hiervan is ook waar in die verhaal van Job en sy vriende. Julle ken mos die verhaal: Job, die vroom, welvarende man, wat op een verskriklike dag alles verloor wat vir hom lief en dierbaar was: al sy besittings, sy totale rykdom word in ’n opeenstapeling van rampe van hom weggeneem. En dan die kersie op die koek: sy kinders sterf almal in ’n frats-storm. Asof dit nie genoeg is nie, verloor Job boonop sy gesondheid, en daar sit hy in ’n patetiese bondeltjie op die ashoop.

Die grootste gedeelte van die boek Job gaan oor ’n gesprek tussen Job en sy vriende; ’n gesprek waarin Job worstel om te probeer verstaan hoekom die ellende hom getref het, terwyl die vriende baie seker is dat hulle presies weet waar die fout lê.

Sy vriende kom hom kastig troos, maar alte gou slaan dié troos om in vermanings. Iewers in Job se verlede lê die antwoord, glo hulle. Job is skuldig voor God, en dis dié dat die ongeluk hom ry. Want sien, jy kan nie vir God ’n rat voor die oë draai nie. Hy weet alles, en Hy sien ook jou sonde, en dan straf Hy jou daaroor. Dít is wat met Job gebeur het. So praat hulle.

Job se vriende het gedink hulle het vir God presies uitgepluis. Hulle weet hoe Hy dink en hoe Hy is. Hulle het Hom netjies in hulle denkraamwerk gepas. Hulle sê: God is regverdig, en Hy weet alles. Hy straf die kwaad en beloon die goeie. As dit dus met jou sleg gaan, beteken dit God is besig om jou te straf.

Maar hulle denke oor God help nie vir Job nie. Dit bring nie troos en vrede in Job se nood nie. Job hou vol dat dit nie die antwoord is nie. Hy weet nie van dié danige sonde waarvan sy vriende hom verdink nie.

Hoe verder die manne met mekaar praat, hoe bitterder raak Job. Hy soek ’n antwoord hoekom dit met hom gebeur het, maar hy kry dit nie. Hy verwens sy geboortedag, en hoewel hy nie vir God verwerp nie, hoor ’n mens in sy woorde dat Hy God verkwalik vir sy ellende. In 30:20 verwyt hy God só: “Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie. Hier staan ek, maar U steur U nie aan my nie.”

En dan, uiteindelik, in hoofstuk 38, tree God self tot die debat toe. Julle kan gerus hierdie aangrypende gedeelte (Job 38-42) by die huis in sy geheel gaan lees. Kom ons lees enkele grepe uit God se antwoord aan Job:

Job 38:1-5; 22-30; 39:1-3; 29-33; 40:20-21,27-28; 42:1-6

Jy sien, God antwoord Job, maar dis nie die antwoord op Job se vraag nie. God wys vir Job iets van sy grootsheid en sy majesteit, van sy almag. En Job besef skielik: voor God, die grote, lewende God van hemel en aarde, is ons redenasies en ons wysheid ontoereikend; is dit, om die minste daarvan te sê, arrogant om te dink jy kan God verstaan. Ons kan dit nie met ons verstand uitpluis nie. Voor sy grootheid en heerlikheid kan ons maar net in aanbidding buig.

Dis natuurlik die probleem met die vrysinnige teoloë oor die eeue en ook van ons dag: Hulle probeer die onverklaarbare verklaar. Hulle probeer deur die misterie wat God omhul, beur, en goed wat hulle nie kan verklaar nie, erken hulle dan nie as God se wondermag nie, maar as uitgedinkte nonsens. Dis ’n gevaarlike pad, want uiteindelik laat dit jou met ’n god wat aan jóú maatstawwe moet beantwoord, en is jy nie meer in vrees en bewing voor die heilige, lewende God nie.

Liewe gemeente, hier voor ons op die tafel is ’n vreemde soort fees – God se fees. ’n Mens kan sê dit maak nie vir jou sin nie, soos die sg. “slim” teoloë, en met ’n leë hart huis toe gaan. Of jy kan dit in verwondering en aanbidding as ’n gawe van God geniet en weet: Só lief het God vir my, nietige sondaar.

Dan word die brood en wyn ’n Goddelike verlossingsfees, en sal jy nie met ’n leë hart huis toe gaan nie. Dít is die Evangelie.

Skakel die kantoor
%d bloggers like this: