In ons gelese gedeelte het ons twee verskillende reaksies op Jesus se leë graf. Die een is dié van Petrus en Johannes. Ons lees in vers 10 dat hulle, nadat hulle gesien het die graf is leeg, as ’t ware die skouers opgetrek het: Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Die volgende toneel vertel van Maria Magdalena se reaksie op die leë graf. Dit sluit af met die woorde (vs 18): Ek het die Here gesien!

Petrus en Johannes, én Maria Magdalena, was by die leë graf op daardie eerste Paassondagoggend. Hulle het almal in die graf ingekyk om seker te maak Jesus se liggaam is nie meer daar nie. Petrus en Johannes gaan dan maar weer terug huis toe, maar Maria Magdalena se hele lewe verander daardie oggend.

Daar word in die laaste paar jaar heelwat geredeneer oor die leë graf, en of Jesus dan regtig opgestaan het, en of dit ’n fisieke, liggaamlike opstanding was of ’n geestelike opstanding, en hoe ons dit moet verstaan. Maar dit lyk my, as ek hierdie gedeelte reg verstaan, mis só ’n gesprek so effens die punt. Jy kan die leë graf met jou eie oë sien, al die bewyse dat Jesus uit die graf uit is, en ten spyte daarvan nog steeds met hangskouers huis toe stap, soos Petrus en Johannes. Die leë graf alleen gaan nie jou lewe verander nie.

Laat ek tóg op hierdie punt sê: Ek glo met my hele hart Jesus hét liggaamlik uit die dood opgestaan. Presies wat daar gebeur het, en hoe sy liggaam ná sy opstanding was, weet ek nie, maar dat Hy na die liggaam uit die dood opgestaan het, daaroor twyfel ek nie.

Ek glo met my hele hart Jesus hét liggaamlik uit die dood opgestaan.

Maar kom ons kyk wat het hier gebeur. Petrus en Johannes, tipies soos ons mansmense maar is, was baie saak-geörienteerd. Hulle kom by die graf aan, hulle gaan in, hulle sien dit is leeg, en daarmee is hulle sending afgehandel. Toe draai hulle net daar om en gaan huis toe. Selfs al verstaan hulle nie wat aan die gang is nie. Johannes skryf selfs dat hy dit gesien en geglo het. Maar dit het nie sy lewe verander nie. Hy gaan huis toe.

Dis nie wat Maria Magdalena gedoen het nie. Sy het by die graf bly huiwer, onwillig om aan te beweeg voordat sy duidelikheid het oor wat aangaan. Sy wag daar. En dis toé dat sy die twee engele in die graf sien sit. Maar selfs hierdie vreemde verskynsel doen niks aan haar nie. Sy praat met hulle, maar dan hoor sy Iemand agter haar en sy draai om. Sy herken Hom aanvanklik nie, dalk omdat haar oë vol trane was, maar toe Jesus haar op die naam noem, weet sy dis Hy. Dis die Here!

Maria Magdalena word die eerste mens aan wie Jesus ná sy opstanding verskyn, want sy, en nie Petrus en Johannes nie, het daar by die graf gebly en Jesus as ’t ware kans gegee om haar te kom ontmoet.

Ek wonder hoeveel ontmoetings met Jesus het óns al gemis omdat ons, soos Petrus en Johannes, te saaklik in ons lewe voor die Here is. Baiekeer verloop ons stiltetyd so: ons vat die Bybel, lees die gedeelte, lees die dagboekstukkie, bid en vertel vir God wat op ons hart is, en dan gaan ons met ons lewe aan. Ons is klaar met stiltetyd, lank voordat God opgedaag het. Petrus en Johannes mis vir Jesus op daardie Paasoggend omdat hulle gedink het hulle het alles gesien wat daar te sien was. Maar die eintlike Een wat hulle wou sien, móés sien, het hulle gemis! Dié voorreg was Maria Magdalena beskore, want sy was nog daar.

Dit is hoekom sy anders as Petrus en Johannes van die graf af weggegaan het. Sy het nie net die leë graf gesien nie. Sy het Jesus gesien.

Ons geloofslewe sal altyd sukkel as ons nie van tyd tot tyd sulke ontmoetings met die lewende, opgestane Here Jesus het nie. As ons bloot saaklik met die Bybel en die Bybelse boodskap omgaan. Christen-wees is tog nie die aanhang van ’n godsdienstige filosofie nie. Christen-wees gaan oor die navolging van ’n Persoon, die lewe in ’n verhouding met die Here Jesus Christus!

Ons geloofslewe sal altyd sukkel as ons nie van tyd tot tyd sulke ontmoetings met die lewende, opgestane Here Jesus het nie.

Daarvoor is tyd nodig. In ons besige wêreld is dít ’n geweldige uitdaging. Maar as ons soos Maria Magdalena wil wees, opgewonde en vol blydskap, met ’n lied in die hart en ’n boodskap op die lippe, sal ons tyd moet maak. ’n Afspraak met Jesus vra meer as ’n minuut stilte op ’n besige dag, soos een van die Bybelse dagboeke genoem word.

Maar dis mos nie sleg om tyd te maak om by die Een vir wie jy lief is, te wees nie? Mag jy in die komende week opnuut weer die Here in jou binnekamer ontmoet!

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: