Wanneer ’n mens in hierdie dae iewers heen gaan, kan jy dit nie miskyk nie dat dit een van die dae Kersfees is. Oral sien jy Kersversierings in die winkelvensters, hoor jy Kersliedere oor die luidsprekers speel. En almal is besig om voor te berei vir Kersfees. Hulle koop Kersgeskenke en beplan die Kers-ete en dalk ’n familiesaamtrek rondom Kersfees. Selfs die advertensies in die tydskrifte en koerante en op TV herinner jou gedurig daaraan dat dit Kerstyd is, en ’n mens ontvang van vriende en besighede Kerskaartjies.

Daarom is dit juis in hierdie tyd, soos in geen ander tyd van die jaar nie, dat ’n mens bewus word van die skrille kontras tussen die aankondiging van die engele op daardie eerste Kersnag, en die lewe van vandag. Die engele het daardie nag vir die herders gesê: Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het! (Luk 2:14). Vrede op aarde! En dit terwyl ons almal elke dag ervaar dat daar nie vrede op aarde is nie. En nou praat ek nie eers van die wêreld in die breë, soos die covid-pandemie, of selfs van Suid-Afrika met sy politieke spanninge nie. Ek praat van die lewe van dag tot dag by die huis en die werk, die rusies en afguns en skinderpraatjies en familietwiste en gebroke huwelike wat so algemeen onder ons voorkom. Waar is die vrede dan wat Christus sou bring?

In die Kersverhaal soos Johannes dit opgeteken het, haas hy hom om ons te vertel dat die vrede wat Christus gebring het, nie ’n gewone menslike vrede is nie. Dit is juis die wonder van Kersfees: Dat God sy Seun stuur na ’n wêreld vol haat en nyd en onvrede, ’n wêreld wat Christus nie wil hê nie. Hy vertel vir ons hier die verstommende, ongelooflike wonder dat die Woord, God self, deur Wie alles tot stand gekom het, die lewe en die lig vir die mense, dat hierdie Woord na die mensdom toe gekom het. Maar – dan gebeur die onbegryplike tragedie: die mense draai hulle rug op die Woord. Vers 9-11 sê dit reguit:
Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.

Van die begin af was dit duidelik: Hierdie wêreld stel nie in Jesus Christus belang nie. Hierdie wêreld het sy rug op God gedraai. Daarom is daar so baie onvrede in hierdie wêreld.

Na hiérdie wêreld het die Seun van God gekom, vir hierdie sondige wêreld het Hy mens geword. God kom woon in ’n wêreld wat sy rug op Hom gedraai het, vir ’n mensdom wat Hom verwerp het.

Gelukkig hou die Kersverhaal nie daar op nie. Gelukkig staan hier, nadat Johannes ons van al die teenkanting vertel het, ’n groot “maar” in die verhaal: Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het hy die reg gegee om kinders van God te word.

Daar is wel mense wat Hom nie verwerp het nie – mense in wie se lewens God self ingegryp het, sodat hulle Christus as Verlosser aangeneem het. Húlle ontvang God se vrede en word sy kinders. Want die vrede van Kersfees is nie ’n outomatiese vrede, ’n vrede wat vir almal is nie. Dit is ’n vrede vir hulle wat glo, vir hulle wat Jesus Christus as Verlosser aangeneem het, vir hulle wat kinders van God is. Dit het die engele ook daardie eerste nag al aan die herders gesê: Hulle kondig die vrede van God aan, maar nie vir alle mense nie. Hulle kondig die vrede van God aan vir dié mense in wie Hy ’n welbehae het.

Christus kom na ’n wêreld wat Hom nie wil hê nie, wat in duisternis lewe. ’n Wêreld vol haat en spanning en stryd. ’n Wêreld wat God se vrede so nodig het, maar nie daarin belangstel nie. Daarom klink die vredesboodskap van Kersfees vir ons so vreemd. Want ons ervaar in ons eie lewens so dikwels ook die onvrede en spanning van die wêreld.

Is die rede nie miskien omdat ons die Here Jesus halfhartig aangeneem het nie? Omdat ons kinders van God wil wees, maar terselfdertyd hunker na die vleispotte van die sondige wêreld nie? Omdat ons Christus met ons verstand aangeneem het, terwyl ons harte nog aan die wêreld verkleef is nie? Omdat ons God hier in die kerk dien, maar as ons saam met ons kollegas by die werk is, of saam met vriende uitspan, ons ewe tuis is in die maatstawwe en norme en oordele van die wêreld.

Daarom moet ons vandag vir onsself afvra: Het die feit dat Christus mens geword het, die feit dat Hy gebore is in Betlehem, het dit ’n verskil aan my lewe gemaak? Sou my lewe anders gelyk het as ek nie ’n kind van God was nie? As daar nie ’n kerk of ’n gemeente was nie, sou ek dit gemis het? As ek nie ’n Bybel gehad het nie, sou my lewe anders gelyk het? Sou my huwelik anders gelyk het? Sou ek my werk anders gedoen het? Sou ek my kinders anders grootgemaak het? Sou ek my werkers anders behandel het? Sou ek my geld anders bestee het?

Dis nogal ’n skrikwekkende vraag, nie waar nie?

Jy sien, ’n mens kan nie verwag dat die vrede van Kersfees jou lewe moet vul en in jou verhoudings die deurslag moet gee, as jy Christus halfhartig volg nie. As jy eintlik nog deel van die wêreld is nie.

Maar: as jy Christus aanneem en in Hom glo, dan sal die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, ook oor jou gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Dan sal ook jy die heerlikheid van Christus sien in jou lewe, dan sal ook jy uit sy oorvloed genade op genade ontvang.

Wat maak jy met die Seun van God wat mens geword het?

Amen.

Skakel die kantoor
%d bloggers like this: