Ek het dadelik, toe ek hierdie gedeelte lees, gedink aan ’n boek wat prof Denise Ackermann van Ikeys ’n paar jaar gelede geskryf het: Surprised by the Man on the borrowed donkey. Ek wil nie oor die inhoud van die boek iets sê nie, maar oor die titel wat sy gekies het vir die boek. Sy vertel dat sy ’n baie groot wêreldwye kerkkonferensie van die Anglikaanse Kerk in Engeland bygewoon het (die Lambeth Conference). Die opening van die konferensie was in die fantastiese Canterbury Cathedral, en al die biskop-afgevaardigdes (800 van hulle!) het met volle kerklike drag in ’n lang prosessie by die katedraal ingestap; heel laaste die aartsbiskop van Kantelberg. Sy vertel dat dit ’n baie indrukwekkende gesig was om die biskoppe so uitgevat te sien. Party se gewade was met goud versier, daar was biskoppe met Afrika-togas, en so aan. En toe die deure agter die biskop-prosessie toemaak, vertel sy, het sy half onwillekeurig na die toe deur gestaar, asof sy iets daar soek. En skielik besef sy: sy soek Jesus, maar Hy is nie daar nie. Hy was nie opgetof en spoggerig nie. Hy was nederig en het op ’n geleende donkie Jerusalem ingery.

Dis die sentiment wat Johannes ook vir ons deurgee met sy beskrywing van wat op daardie dag gebeur het, die Sondag vyf dae voor Paasfees. Dit was die dag waarop die Jode die pasga-lammers uitgekeer het om eenkant te hou vir die pasgamaaltyd. Op daardie besondere dag kom Jesus in die stad aan vir die fees. Vir die skare is Hy hulle redder wat triomfantelik sy troon kom opeis. Daarom die palmtakke, wat gebruik is om ’n oorwinnaar te verwelkom. Daarom die jubelkrete uit Psalm 118, wat sing van die lank-verwagte messias-koning wat hulle gaan kom bevry van die Romeinse owerhede.

Johannes vertel dat Jesus eers die donkie gekry het nadat die skare Hom as koning verwelkom het, om vir hulle te sê wie Hy is: nie ’n aardse koning wat hulle met geweld van die Romeinse besetters gaan bevry nie, maar die Gestuurde van God wat vrede bring. Hy vervul die profesie in Sag 9:9: Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is … nederig en hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie.

Hy is op ’n vrede-sending. Daarom ry Hy op ’n donkie, nie ’n oorlogsperd nie. Die donkie was immers destyds die rydier van iemand wat vrede bewerk het. Maar die skare sien dit nie raak nie; hulle sien net wat hulle wíl sien en glo wat hulle wíl glo.

Ek kon nooit regtig verstaan hoe ’n feestelike Palmsondag deel kan uitmaak van die Groot Lydensweek nie, tot ek hierdie week met dié teks begin stoei het en besef het: Palmsondag is inderdaad deel van Jesus se lydingspad. Dit skreeu dit uit dat sy mense Hom geheel en al misverstaan het. Lukas (Luk 19:41-42) vertel ons in sy berig oor dié gebeure dat Jesus in trane uitgebars het, en gesê het: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.”

So, dit is die vraag waarvoor Palmsondag ons stel: Waar pas Jesus in in jóú geloof? En nou aanvaar ek dat jou geloof bo alles oor Jesus gaan, en nie maar net oor deel van die kerk wees nie.

En daarom die vraag: Waar pas Jesus in in jou geloofslewe?

Is Hy tuis by ons manier van kerkwees, soos Denise Ackermann gewonder het toe sy al die prag en praal gesien het? Is Hy bly, of huil Hy oor die manier waarop ons Hom vereer, en oor die verwagtings wat ons van Hom koester? Hoe, dink jy, voel Hy, die Vors van Vrede, oor die verdeeldheid en veglustigheid en dreigemente van skeuring in die kerk oor die besluite van die Algemene Sinode?

Dís die goed waaroor ek wonder, want ons is ook geneig om net dié dinge te sien en te glo wat by óns verwagtinge inpas. Ons wil Jesus in ’n boksie inbeur waar Hy moet sê en doen soos wat óns wil hê Hy moet. Ons lees die Bybel selektief en sien net wat ons wíl sien en lees die goed mis wat ons nie pas nie. Ons doen dit almal. Selfs Jesus se dissipels het dit gedoen, soos Johannes onderstreep in vers16: Jesus se dissipels het hierdie dinge eers nie verstaan nie …

Vir Jesus het daardie dag se verering en wuiwende palmtakke diep hartseer gemaak. Die Jode wou van Hom maak wat Hy nie is nie. Hy moes aan húlle verwagtings voldoen. Hulle het nie belang gestel om te verstaan wie Hy was en wat Hy kom doen het nie. Hulle het gedink hulle wéét mos. Hulle het gedink dis Jésus wat nie verstaan het nie. Die fout het by Hóm gelê. En toe Jesus weier om húlle soort verlosser te wees, was hulle só diep ontnugter dat hulle Hom vyf dae later aan ’n kruis laat spyker het.

So, kom ons kyk weer vanoggend goed na Jesus. Hy is die Man wat op ’n geleende donkie ry. Hy is die Een wat die ander wang gedraai het. Hy is die Een wat gekom het om te dien. Hy was ’n lam, nie ’n leeu nie. Hy het gepreek van kruisdra, van jouself prysgee. Hy was die Een wat sy dissipels se voete gewas het toe hulle gestry het oor wie die belangrikste onder hulle was.

Palmsondag se gebeure roep ons op om beskeie te wees oor ons eie verwagtings en – kom ek sê dit maar reguit – vereistes in die geloof. Want eers as ons beskeie is, sal ons afstand doen van ons selfgesentreerde denke en toelaat dat Gód se manier van doen ons verwagtings vorm en inkleur.

Die prent van Jesus wat die Evangelies vir ons voorhou, pas nie so lekker in ons verwagtings van Jesus nie. Want – en dít is die uitdaging waarvoor ons staan – ek en jy moet óók soos Hy wees. Nederig. Sagmoedig. Honger en dors na wat reg is. Barmhartig. Rein van hart. Vredemakers. (Matt 5:3-13)

Navolgers van Jesus, nie heersers nie. Dít is ons. Dít moet ons word.
Amen.

Wet: Mark 8:31–38
Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. Hy het met hulle hieroor reguit gepraat. Toe het Petrus Hom opsy geneem en Hom begin berispe. Hy het egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe.
“Moenie in my pad staan nie, Satan,” het Hy gesê, “want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”
Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal ’n mens kan gee in ruil vir sy lewe? Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: