As ’n mens Jesus se kruisiging wil verstaan, help dit baie om die agtergrond van die Joodse pasga of paasfees te ken, want Jesus is nie toevallig op die Joodse paasfees gekruisig nie. En dit is presies hiermee wat Johannes ons deur sy vertelling wil help.

Julle onthou seker nog almal die geskiedenis van die instelling van die paasfees van die Israeliete, destyds daar in Egipte. Ons het net ’n paar verse uit Eks 12 gelees; dis ’n interessante hoofstuk wat jy gerus later weer kan gaan lees. Maar om net ons almal se gedagtes te verfris: Die farao het die Israeliete in Egipte verskriklik verdruk. Die Israeliete wou toe terugkeer na Kanaän, maar die farao wou nie. Toe het die Here allerhande plae gestuur om die farao te dwing om die volk te laat trek, maar elke keer wou die farao nie. En toe kom die laaste plaag, die tiende plaag: Al die eersgeborenes in Egipte sou op een nag sterf. Die doodsengel van God sou van huis tot huis gaan en al die eersgeborenes doodmaak. By die Israeliete het dit egter nie gebeur nie, want God het vir hulle uitkoms bewerk: hulle moes ’n jaaroud lam slag, en sy bloed met ’n bossie marjolein aan die deurkosyne van hulle huise smeer. Daar mag geen been van hierdie lam gebreek word nie; hy moes net so heel gebraai word, en dan moes die Israeliete daardie nag ten volle geklee, gereed om te vertrek, die vleis eet. Daar mag niks oorgebly het nie. Wat oorgebly het na die volgende oggend toe, moes hulle verbrand.

Toe die doodsengel daardie nag deur Egipte gaan, het Hy by die huise waar daar bloed aan die kosyne gesmeer was, verbygegaan en nie die eersgeborene van daardie huis laat sterf nie. Maar al die eersgeborenes van die Egiptenare het gesterf. Dié plaag was so verskriklik dat Farao die Israeliete laat wegtrek het. Daarom het die Israeliete van toe af die pasga (paasfees) gevier om die wonderlike verlossing te gedenk, eerstens dat God hulle eersgeborenes laat lewe het waar Hy die bloed van die paaslam gesien het, en tweedens omdat dit hulle herinner het aan die nag toe hulle uit die slawerny van Egipte verlos is. Die paasfees was dus eintlik vir die Israeliete die fees waarop hulle die totstandkoming van Israel as God se volk gevier het. (Pasga beteken “verbygaan”.)

As ’n mens nou die Johannes-Evangelie lees, is daar een tema wat hy baie duidelik uitlig, en dit is dat Jesus Christus God se Paaslam is wat Hy gestuur het om sy oordeel by ons te laat verbygaan, net soos die paaslam se bloed destyds God se oordeel by die Israelitiese gesinne laat verbygaan het. Johannes wil ons laat verstaan: Die paasfees van die Israeliete het sy diepste vervulling en betekenis in Jesus Christus gekry. Reeds al heel aan die begin van die Here Jesus se bediening op aarde wys Johannes die Doper na Jesus en roep uit (1:29): “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” En veral hier in die kruisigingsverhaal onderstreep hy telkens hierdie feit.

∙ So sê hy uitdruklik in v 14 dat dit die sesde uur was toe Pilatus vir Jesus gevonnis het – net mooi die tyd waarop die priesters begin het om by die tempel die paaslammers te slag.
∙ Hy sê ook (29) dat die spons met wyn wat die soldate vir Jesus aangebied het, op ’n marjoeleintak gesit is, die takkie waarmee die bloed van die paaslam aan die kosyne gesmeer is (Eks 12:22).
∙ Dan maak hy dit verder baie duidelik (33, 36) dat geen been van die Here Jesus gebreek is nie, ’n verdere uitdruklike vereiste as ’n paaslam geslag is (vgl Eks 12:46).
∙ Ook die haastige manier waarop Jesus begrawe is, verwys na die paasfees: Teen die volgende oggend mag daar niks van die paaslam oorgebly het nie (Eks 12:10).

Ek dink nie ons kan dit misverstaan nie: Jesus Christus is God se Paaslam, die Lam wat Hy voorsien het, die Lam wat vir ons op Golgota geslag is, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, sodat God se oordeel nie vir ons sal tref nie, maar by ons verby sal gaan. Toe die Here Jesus daar aan die kruis gehang het, was dit vir ons, vir jou en my, sodat Hy in ons plek God se oordeel kon ondergaan, God se straf kon dra, die vloek van die sonde, jou en my sonde, in sy eie liggaam kon dra, met sy eie lewe kon betaal, sodat ons vry kan uitgaan.

As ’n mens só daaroor dink, help dit ons om te verstaan dat Jesus se kruisiging nie die tragiese einde van ’n wonderlike profeet was nie. Dit is so deur God beplan. By herhaling het Jesus vir sy dissipels gesê Hy móés sterwe. Hy het Homself geoffer, Hy het Homself laat slag op Golgota, want Hy is God se Paaslam wat die doodsengel van ons af moet wegkeer.

Dit is wat ons vanoggend in die nagmaal herdenk en vier. Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld, my en jou sonde, wegneem.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: