Voorverlede Sondag was dit Paasfees – die dag van Jesus se opstanding uit die dood. Ons het die wonder gevier dat ons Here nie meer in die graf is nie. Maar beteken dit op ’n praktiese gebied enige iets in ons geloofslewe? Maak die feit dat Jesus opgestaan het uit die dood, ’n verskil aan die manier waarop jy dink en leef in 2019?

Die gebeure waarvan ons gelees het, speel af op die heel eerste Paassondag, op die dag van Jesus se opstanding. Vroeër daardie dag het Maria Magdalena vir die dissipels kom vertel dat die Here nie dood is nie, maar dat Hy leef, en dat sy Hom met haar eie oë gesien het. Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar en hulle het seker opgewonde onder mekaar gesels oor die feit dat Jesus lewe. Hulle het seker ook onder mekaar bespiegel wanneer en waar húlle Hom gaan sien.

Van hierdie kant af lyk die hele situasie vir ons so vanselfsprekend. Jesus se graf is leeg. Petrus en Johannes het dit mos persoonlik gaan verifieer. Maria Magdalena het Hom met haar eie oë gesien, en daarom lewe Hy. Eenvoudig. Of nee, tog nie. Uit die volgende verhaal, van Tomas se twyfel, en ook uit die verhaal van die Emmausgangers (Luk 24), kan ons agterkom dat nie almal ewe oortuig was dat Hy regtig lewe nie. ’n Mens kan dit ook verstaan. Op daardie stadium het hulle nog nie regtig verstaan dat Hy die Here is nie; in elk geval nie soos ons dit vandag verstaan nie. Vir hulle was Hy ’n ongelooflike, wonderlike leermeester. Maar dat Hy uit die dood kan opstaan? Dís darem baie gevra om dit te glo.

So, ons kan aanvaar dat daar gemengde gevoelens onder die dissipels was, daardie aand van Jesus se opstanding. Party het dit seker geglo, en ander nie. En dan was daar natuurlik nog van hulle, soos Petrus, wat met geweldige skuldgevoelens geworstel het omdat hulle geweet het hulle het hulle Here in die steek gelaat met sy ingehegtenisneming en verhoor. Hulle was waarskynlik half bang om Jesus weer te sien; bang vir wat Hy vir hulle gaan sê oor hulle skandalige optrede.

En toe, ewe skielik, staan Jesus daar tussen hulle en groet hulle met die woorde: Sjalom! Vrede vir julle!

Jesus is terug! Hy lewe, mense! Hy is nie meer dood nie! Hy is weer by ons. Nou kan ons weer die drade optel en aangaan.

“En hulle het lank en gelukkig saam gewoon.” Dis hoe ’n sprokie dié verhaal sou afsluit. Want alles was weer reg. Jesus leef!

Ons weet nie wat die dissipels gedink het toe Jesus daardie aand voor hulle gestaan het nie. Miskien het party gedink alles kan nou weer wees soos dit was. Maar as hulle dít gedink het, was hulle verkeerd. Want hierdie is nie ’n sprokie in die regte lewe nie. Hierdie is God aan die werk, en daarom kon niks meer dieselfde wees nie; nie vir Jesus nie, maar ook nie vir hulle nie.

Jesus se opstanding verander alles. Want die Bose is verslaan, ons sonde is versoen, en God se pad met sy mense is op koers.

Daarom, as Hy op daardie eerste Paassondag aan sy dissipels verskyn, is dit nie net om vir hulle te wys Hy lewe weer nie (hoewel dit natuurlik verskriklik belangrik was dat hulle dit goed begryp het). Hy het hulle iets kom meedeel. Daarom lees ons dat Hy, net nadat Hy sy dissipels gegroet het, vir hulle ’n opdrag gee (vs 21): Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.

Wat sou Jesus daarmee bedoel het? As ons dit wil verstaan, moet ons eers kyk na wat Jesus se gestuur-wees, sy sending, behels het. Hoekom het Hy na die wêreld gekom? Dié vraag het baie antwoorde waarby ons onmoontlik vanoggend kan uitkom, maar as jy dit in ’n neutedop wil saamvat: Hy het gekom om die wêreld, die mense van die wêreld, met God te versoen, by God uit te bring (Joh 3:16). Dit het Hy gedoen deur sy prediking, deur sy onderrig, en deur mense aan te raak.

Nou, sê Jesus, gee Hy hierdie taak oor aan die dissipels, aan die kerk, aan jou en my. Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.

Wat beteken dit? Hoe kan Hy van ons verwag om hierdie taak verder te voer? Wat kan jy en ek en Petrusburg doen om die mense van die wêreld by God uit te bring? Weet Hy dan nie hoe goddeloos die wêreld se mense is nie? Dat geld en genot en sport en politiek vir die moderne mens baie belangriker is as God nie?

Natuurlik weet Hy dit. En tog stuur Hy ons na die wêreld toe, want Hy het die wêreld lief. Hy verwag van ons om by die mense van die wêreld uit te kom, sodat die mense van die wêreld weer by God kan uitkom. Hy verwag van my en van jou om mense by God te bring. Hy stuur ons na hulle toe. Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.

Ek het ’n idee baie van ons sukkel nog met die idee dat ons gestuurdes is in die wêreld; dat daar meer aan Christenskap is as net glo en kerk toe kom en die sonde in jou persoonlike lewe vermy. Want dís nie die eerste ding wat Christus van sy kerk vra op daardie Opstandingsondag nie. Hy sê nie: “Glo in My en leef ’n onbesproke lewe,” nie. Hy sê: “Ek stuur julle na die wêreld toe.”

God vra van ons méér as net dat ons nie sonde moet doen nie. Hy stuur ons na die wêreld toe om mense by Hom uit te bring. Dís ons roeping: Ons is gestuur na die wêreld, na mense wat God nie ken nie, na mense in nood wat God nodig het om watter rede ook al – sondenood, armoede, eensaamheid, siekte …

Miskien is die vraag wat ons in hierdie opstandingstyd vir onsself moet vra: Is die mense om ons, die mense van die Petrusburg, nader aan God omdat ons hier is?

Jesus leef, Hy is oorwinnaar, Hy is koning van die ganse heelal, en Hy stuur óns om dié boodskap die wêreld in te dra. Hy stuur vir jou en vir my.

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: