Om goed te verstaan wat hier gebeur, moet ons ’n tydjie teruggaan, na waar Jesus vir sy dissipels gewaarsku het dat Hy gevange geneem gaan word, en dat hulle almal Hom in die steek gaan laat. Toe het Petrus gesê: Al sal almal Hom verlaat, hy wat Petrus is, sal nie; hy is selfs bereid om saam met Jesus te sterwe (Mark 14:26-31). Maar julle weet wat gebeur het. Tydens die verhoor, die aand in die binnehof van die hoëpriester se paleis, het Petrus drie maal ontken dat hy enige iets met Jesus te doen het, of Hom selfs ken. Hy het nie een keer nie, nie twee keer nie, hy het drie keer die Here verloën; drie maal het hy die Here in die steek gelaat op ’n tyd dat die Here sy lojaliteit en ondersteuning baie, baie nodig gehad het.

Ek kan my voorstel hoe Petrus moes gevoel het toe die haan daardie Vrydagoggend gekraai het: soos ’n skurk. Hy, wat veronderstel was om die leier van die dissipels te wees, die rots, juis hý is die een wat die Here in die steek laat. Daarom verdwyn Petrus as ’t ware van die toneel ná sy verloëning van Jesus. Jy sal hom verniet gaan soek in die skare wat by die kruisigingstoneel saamdrom. Maria, Jesus se ma, is daar, ja, en haar suster Salome, en Maria Magdalena, en sy dissipel Johannes. Maar nie Petrus nie, want hy is skaam. Hy het sy Here in die steek gelaat, en nou weet hy sy kans is verby.

Miskien is dit hoekom Petrus nou maar weer sy ou beroep opgeneem het. Hy het net besef hy het sy kanse by Jesus opgemors. Hoe kan hy ’n dissipel van Jesus wees as hy by die eerste geleentheid waar sy geloof getoets word, so jammerlik faal? Daarom klim hy maar weer soos in die ou dae in sy skuit en gaan vang vis. Dis al wat vir hom oorbly. Maar selfs dít kry hy nie meer reg nie. Hy swoeg die hele nag, maar vang niks. Hy is regtig hopeloos, en Petrus weet hy verdien dit. Hy verdien dit nie dat hy iets vang nie, want hy is ’n verloorder.

Miskien het jy ook al so gevoel: ’n mislukking. Miskien sit jy vanoggend hier in die kerk en wonder hoe die Here dit nog met jou uithou, want jy het Hom al soveel keer teleurgestel. Elke keer trap jy weer in dieselfde slaggat, en iewers in jou agterkop sê ’n stemmetjie vir jou: dit werk nie so nie. Jy kan nie elke keer die Here teleurstel en dan gaan jy maar weer aan nie.
Dis wat in Petrus se kop aangegaan het. Hy het besluit dit is verby. Daarom keer hy maar weer terug na sy ou lewe, want hy het sy kanse opgebruik.

Dis die agtergrond vir die gesprek tussen Jesus en Petrus daar op die strand ná die ontbyt (vers 15-19). Wat doen die Here? Hy sê nie vir Petrus: “Ek is klaar met jou, jy het jou kanse gehad en dit opgemors” nie. En Hy los ook nie vir Petrus, dat hy in selfverwyt ondergaan nie. Want dis nie hoe God is nie! Hy kom na Petrus, Hy soek hom op waar hy visvang, en daar, voor die ander dissipels, gee Hy Petrus die kans om reg te maak wat hy verbrou het. Daarom vra Hy hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?”

Dis interessant om te sien, as ons fyn lees, wat hier gebeur. Die NAV probeer dit weergee met die woorde “baie lief” en “lief”. In die Grieks gebruik Jesus ’n ander woord as wat Petrus gebruik vir liefhê. Hy vra vir Petrus of hy Hom baie liefhet met agape-liefde, en Petrus antwoord en sê ja, hy het Jesus lief met filia-liefde. Twee maal gebeur dit. Dis asof Petrus net nie meer die selfvertroue van vroeër het nie. Hy het té groot opgemors; hy wéét hy kan nie aan Jesus se verwagting voldoen nie. En dan gebeur die merkwaardige: Jesus vra die derde keer nie weer of Petrus Hom met agape-liefde liefhet nie; Hy gebruik Petrus se woord: filia. Want Hy weet dit is al wat Petrus op daardie stadium het om te gee, en dis vir Hom genoeg.

Jy sien, die Here is anders as ons, en Hy hanteer ons anders as wat ons dit sou doen. In Eksodus 34:6 sê Hy dit in soveel woorde vir Moses: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.” Daarom kom gee Hy hier vir Petrus die geleentheid om sy liefde te bely, selfs al is dit gebrekkig, sodat Petrus sy kop kan optel en weer in sy posisie as dissipel herstel kan word.

Ek weet nie waar jy vanoggend in jou geloofslewe is nie. Dalk voel jy ’n mislukking, onwaardig, nie werd om God se kind te wees nie. Dan moet jy hierdie woord vandag hoor: God is lankmoedig, vol liefde en trou. Hy sal jou nie eenkant toe stamp nie. Dit wat jy het om Hom te bied, sal Hy aanvaar, soos Hy Petrus se liefde aanvaar het, al was dit nie wat Hy van hom gevra het nie. Jou ja is vir Hom genoeg!

Dís hoe God is. Dís hoe Jesus is. Hy is ’n God van nuwe kanse. Daarom los Hy nie vir Petrus nie, maar kom haal Hy hom ’n tweede keer by sy skuit, vra Hy weer ’n keer: “Volg My!”

Natuurlik – en hiermee sluit ek af: Petrus het nie gebly waar hy daardie oggend was nie. Hy het opgestaan uit die stof. Die volgende wat ons van hom lees, is waar hy op Pinksterdag onverskrokke voor duisende mense staan en verkondig dat Jesus die Here is.

As jy ja sê op die Here se roepstem, selfs al is jou ja huiwerig, soos Petrus s’n, moet jy weet dat jy nie dieselfde kan bly nie. Jy gaan verander. God gaan jou ’n nuwe mens maak en toerus vir jou diens in die koninkryk.

So wat antwoord jy? Gaan jy dit waag?

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: