Wat is die grootste ding wat met ’n kind van God kan gebeur? Wanneer het jy as gelowige nou werklik die hoogste sport bereik? Is dit as jy soos ’n Billy Graham voor duisende der duisende mense kan preek sodat almal aangegryp is deur jou woorde, en talle tot bekering kom? Of as jy die Bybel op die punte van jou vingers ken, en vir almal in nood die regte woord uit die Bybel kan gee?

Hierdie dinge is natuurlik wonderlik. Ek wens dikwels dat dit van my waar was. Maar dit is nie die grootste ding wat ’n gelowige kan doen nie. Die heel grootste ding wat ’n kind van die Here kan doen, is om klein te word. Soos Johannes hier sê: “Hy moet meer word en ek minder.” Voor God kan ’n mens net groot wees as jy klein is in jouself, as jy leeg is van jouself en jou eie ek, en daarom ruimte het vir die heerlikheid en beeld van Christus in jou lewe. Die grootste ding wat ’n skepsel kan doen, is om geheel en al op God gerig te wees.

Dit is natuurlik nie ’n maklike ding nie. Want ons is van nature juis nie so dat ons minder wil word nie. Inteendeel. Dink maar aan Adam en Eva in die tuin van Eden. Wat was hulle fout? Hulle was nie tevrede met die plek wat God vir hulle in die skepping bepaal het nie. Nee, hulle wou meer wees, groter, belangriker. Daarom eet hulle van die vrugte wat God hulle verbied het. Want die duiwel het dan gesê dat hulle dan soos God sou wees. En dit is wat hulle wou wees: soos God. Hulle wou hulle eie god wees, hulle eie baas, die spil waarom hulle lewe en die wêreld draai. Hulle wou nie klein wees, sodat God alles in hulle lewens kon wees nie.

Of dink aan Jesus se dissipels. Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het hulle daaroor aangepraat. Die belangrikste onder hulle, sê Hy, moet soos die geringste wees (Luk 22:26).

Dis nie maklik om al minder te word, al kleiner nie. Dit gaan teen ons grein in. Want dit vra dat jy nie meer die kolllig kan steel of “shine kan vang”, soos ons as studente altyd gesê het nie. Want die lig moet nie op jou val nie. Jy moet die lig op die Here Jesus laat val. Hy moet meer word, en jy minder.

Geestelike groei beteken om te krimp, te krimp aan jouself en jou eie ek, jou eie eer, jou eie wil, jou selfliefde.
Ek minder, sodat Hy meer kan wees, meer in my lewe, meer in my denke, meer in my woorde, meer in my oordele, meer in my besluite, meer in my huwelik.
Ek minder, sodat ek plek kan maak vir Hom in my lewe.
Hy meer, sodat Hy al meer en meer kan regeer in my lewe, sodat ander Hom al meer kan raaksien as hulle na my kyk, sodat sy liefde my hele lewe kan vul.

Dis nie maklik nie, want ’n mens moet daagliks aan jouself sterf om dit te kan laat gebeur. ’n Mens moet jou trotse hoof buig, jou trotse hart oopstel dat God daar kan oorneem. Jou trotse denke, sodat Christus jou denke ook kan beheer.

Dis wat die Here Jesus gedoen het (Fil 2:5-7): Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

Daarom sien ons Jesus, by die laaste maaltyd saam met sy dissipels, met ’n handdoek om sy lyf, knielend voor sy dissipels, besig om hulle voete te was (Joh 13:1-15). Paulus skryf later (Rom 12:3): Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.

Dis nie maklik nie, dis somtyds, meestal, verskriklik moeilik. Dit vra dat jy met jouself en jou selftrots moet worstel. Jesus het dit in soveel woorde gesê (Matt 16:24): As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg …

Johannes het dit met vreugde gedoen! Hoor net wat sê hy in vers 29: “Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek ook nou met blydskap vervul.” Johannes staan met blydskap sy plek af aan Christus.

Want daar is geen groter vreugde in hierdie lewe nie, as dat jy weet: Deur my lewe word God verheerlik. As jy ná ’n worsteling met jouself uiteindelik daartoe kom om Christus meer te laat word in jou lewe, terwyl jyself kleiner word. As jy begin ontdek dat God jou juis gebruik omdat jy nie meer so wonderlik probeer wees nie, maar Hom toelaat om jou lewe te regeer. So was dit met Johannes. So was dit in uitnemende mate met Christus, waar Hy in Getsemane gebid het: “Nie my wil nie, maar u wil geskied.”

Is jy groot, of is jy klein?

Dís die groot vraag.

Skakel die kantoor
%d bloggers like this: