Ons herdenk hierdie naweek die dood en opstanding van Christus, en vier dit daarmee dat Hy só vir ons die ewige lewe verwerf het. Dit is natuurlik ’n wonderlike ding om te vier. Sonder Jesus se sterwe en opstanding was ons verlore in ons sonde en op pad na die ewige verdoemenis.

Maar daar lê natuurlik baie meer in Jesus se dood en opstanding, want wat met Jesus gebeur het, raak nie net ons ewige bestemming nie. Nee, wat met Jesus gebeur het, raak ons lewe hier en nou. Kol 2:20 sê: Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld. En in 3:3 sê hy dit weer: Julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

Jy sien, ons is almal op ’n geheimenisvolle manier aan Christus verbind. Wat met Hom gebeur het, het ook met ons gebeur. Sy dood op Golgota is ook ons dood. En – sy opstanding op daardie wonderlike Sondagmôre is ook ons opstanding. Ons is saam met Christus uit die dood opgewek, sê Kol 3:1. Paasfees is nie net Christus se oorwinning oor sonde en dood nie, maar ook ons s’n!

Die vraag is nou: hoe raak dit ons geloofslewe? Wat beteken dit prakties in ons lewe van elke dag?

In die Kolosse-gemeente was daar mense wat gesê het die feit dat ons dood is vir hierdie sondige wêreld, beteken dat ons ons moet onttrek uit hierdie wêreld. Ons moet as ’t ware in kloosters woon, en party goed vermy: Hieraan mag jy nie vat nie! Daaraan mag jy jou mond nie sit nie! (2:21)

Ek het so ’n lidmaat in ’n vorige gemeente gehad. Hy het in alles – veral die lekker dinge van die lewe – sonde gesien, en dit alles vermy. En ons ander, wat soms met ete ’n glasie wyn gedrink het, bv, was in sy oë wêreldse Christene. Partykeer het ek die idee gekry hy dink ek is nie ’n gelowige nie!

Is dit wat Christenskap aan jou doen? Maak dit jou ’n hipervroom mens, wat selfs nie te hard wil lag nie, omdat dit dalk sonde kan wees? Hoor wat sê Paulus in Kol 2:23: Hierdie leerstellings het wel ’n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.

Nou maar wat beteken die feit dat saam met Christus gesterf en opgewek is, dan?

Paulus skryf hier: Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie. Nou sê mense soos die man in my vorige gemeente: Dit beteken dat ons moet probeer om hierdie lewe nie langer ernstig op te neem nie, dat dit eintlik beter is om oor die geestelike dinge te dink en ’n mens daarmee besig te hou, eerder as om jou met die alledaagse dinge van die normale lewe besig te hou, want dit maak jou net vuil en sondig.

Maar dit is nie wat die Bybel hier vir ons wil leer nie. Paulus bedoel nie dat ons die hemelse dinge moet soek en die aardse dinge moet nalaat of moet dink dis nie van soveel belang nie. Nee, die Bybel bedoel dat ons die hemelse dinge moet bedink en soek juis sodat ons nuut en anders met die aardse dinge besig kan raak. Dit gaan nie daaroor dat ons in ’n ander, geestelike wêreld moet begin lewe nie, maar dat ons oor die geestelike dinge sal dink, sodat ons anders en op ’n geestelike wyse in hierdie wêreld sal begin lewe.

Dit is nie so dat ’n werklik geestelike mens, ’n werklik vroom mens hierdie lewe moet vermy en afskeep, so asof die geestelike lewe en die aardse lewe teenoor mekaar staan, en asof die Here God niks met die aarde te doen wil hê nie, asof jy deur jou vroomheid van hierdie wêreld moet ontsnap nie. Nee, God verander ons, maak ons nuut, sodat ons ook veranderd en nuut kan gaan lewe elke dag, sodat ons na die gewone lewe van elke dag kan teruggaan met nuwe waardes en nuwe prioriteite. Dit is wat dit beteken as die Bybel sê ons is saam met Christus uit die dood opgewek.

Om saam met Christus te sterwe en op te staan, beteken nie om nie meer met jou voete op die aarde te staan nie. Dit beteken om op ’n ander manier, met ander prioriteite, met die aardse dinge besig te wees.

Kyk gerus na die res van hoofstuk 3, na die dinge wat Paulus opnoem as praktiese voorbeelde van hoe ’n Christen lewe wat saam met Christus gesterwe en opgestaan het:

  • Hy hou op om met die sonde te speel (5)
  • Die wyse waarop hy mense in kategorieë plaas, verdwyn (11)
  • Hy lewe in vrede en eensgesindheid met sy naaste, vredeliewend en verdraagsaam (13v)
  • Hy gooi sy gewig in in die gemeentelike samekomste (16)
  • Hy lewe in ’n nuwe huweliksverhouding met sy vrou, en sy met haar man (18, 19)
  • Ook die ouer-kindverhouding kry ’n nuwe kleur in die lig van Christus se soenverdienste (20, 21)
  • Jou houding by die werk teenoor jou werkgewer of werknemer word beïnvloed, en selfs die manier waarop jy jou werk doen, verander (3:22 – 4:1)

Jy sien dus: ’n Christen vermy nie hierdie wêreld en trek hom daarvan terug nie; hy lewe juis in hierdie wêreld om dit te vernuwe!

Ons vier vandag Jesus se opstanding uit die dood. Maar dit is nie net iets wat met Christus gebeur het nie. Ons het óók nuwe, ander mense geword. Nie mense wat uit hierdie wêreld probeer wegvlug na ’n geestelike wêreld nie, maar mense wat van hierdie wêreld ’n beter Christelike plek wil maak juis omdat ons deel gekry het aan die nuwe lewe. Nie mense wat hierdie wêreld wil laat staan omdat dit vuil en sondig is nie, maar mense wat só in hierdie wêreld lewe, dat die vuilheid en sonde oorwin kan word, sodat iets van God se nuwe wêreld in hierdie lewe kan begin sigbaar word.

Daarom is Christus se kruisdood en opstanding nie net ’n wonderlike gawe uit Gods hand nie, maar ook ’n magtige oproep van God aan ons om self ook op te staan in ’n nuwe lewe waar ons nuut en anders dink en doen.

Kom ons leef met oorgawe as nuwe mense. Ons het immers saam met Christus uit die dood oorgegaan na die lewe!

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: