Hoe ver kan jy gaan met ’n meisie? Hoeveel moet ek opsy sit as dankoffer? Wat mag ek alles op ’n Sondag doen? Hoe lank behoort my stiltetyd te duur? Hoeveel nonsens hoef ek van my buurman op te vreet?

Klink hierdie vrae bekend? Dis presies dieselfde soort vraag wat die wetgeleerde vir Jesus gevra het: “En wie is my naaste?” Jy vra dié soort vrae as jy bang is jy weet eintlik die antwoord, maar die antwoord wat jy weet, pas jou nie. Jy is bang jou eie antwoord gaan jou onnodig aan bande lê.

Jesus het ’n interessante manier waarop Hy dié vraag beantwoord. Met sy antwoord wil hy die wetgeleerde, en ook vir ons, leer om minder op onsself en ons eie behoeftes te fokus, en ander raak te sien. Sy antwoord het die hele vraag van die wetgeleerde op sy kop gekeer. Die vraag, sê Jesus, moenie wees: “Wie is my naaste?” nie, maar: “Vir wie kan ek ’n naaste wees?” Want in God se wêreld pas ons soort prioriteite nie so gemaklik nie. In God se wêreld behoort ek en jy nie meer aan onsself nie. Dis mos wat Johannes die Doper in Joh 3:30 gesê het: “Hy moet meer word, en ek minder.” En Paulus in Gal 2:20: “… en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”

Dis natuurlik baie, baie moeilik in ons moderne samelewing waarin alles skree dat die wêreld om jou draai; ek meer en jy minder. Daar is menseregte, persoonlike vryheid, vryheid van keuse en vryheid van spraak en vryheid van assosiasie. Ek sien ’n tyd gelede in ’n mall ’n vrou met ’n t-hemp waarop staan: “It’s all about me!” Daar het jy dit.

Ek sê nie die reg op persoonlike vryheid is verkeerd nie, maar in só ’n samelewing waarin alles om jouself draai, is dit moeilik om weg te kyk van jouself en ander raak te sien en jou in ander se posisie te stel. Maar dis presies wat Jesus in hierdie gelykenis doen. Want as ons God se kinders wil wees, moet ons soos Hy word, en Hý lewe nie vir Homself of stel perke aan goed doen nie. Daarom sê Jesus by ’n ander geleentheid, in antwoord op Petrus se vraag oor hoeveel keer ’n mens moet vergewe voordat jy kan sê dis nou genoeg, nou hou jy op: sewentig maal sewe keer. Of, in ander woorde: Petrus, jy moenie tel hoeveel keer nie, jy hou maar net aan vergewe. Paulus skryf later daaroor in 1 Kor 13:5 dat die liefde nie boek hou van die kwaad nie.

Die vraag, sê Jesus, is nie waar mag ek maar stop nie. Die vraag is: hoe kan ek God in hierdie situasie verheerlik.

Wat Jesus in hierdie gelykenis doen, is om vir my en jou daar in die pad te laat lê, stukkend geslaan, halfdood. Sê nou maar net jý was die man wat daar in die pad gelê het, aangerand en erg beseer. Jy hoor iemand nader kom. Jy loer deur jou toegeswelde oë en slaak ’n sug van verligting tussen die pynnewels deur. Dis ’n priester! Hy is iemand wat die wet van Moses ken. Dank die Here, nou sal jy gehelp word. Maar nee, daar gaan hy weer. Hy het nie eers gestop nie. Na ’n ruk hoor jy nog iemand nader kom; dié keer ’n Leviet. Ook ’n Godsman. Hy sal darem seker nie ook verby hou nie? Maar helaas, hy loop óók verby sonder om te help.

Net voor jy jou bewussyn verloor, hoor jy ’n derde persoon aankom. Jy kan sommer aan sy kleredrag sien dis ’n Samaritaan, en jou moed sak.

Ek wonder wat die verskil was tussen die priester en die Leviet aan die een kant, en die Samaritaan aan die ander kant. Miskien gee Jesus ons ’n leidraad in sy verhaal. Van die priester en Leviet sê Hy (vs 31, 32): “… en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby.” Maar van die Samaritaan sê Hy (vs 33): “… en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.” Die priester en die Leviet stap verby, ongeraak deur die man se ellende. Maar met die Samaritaan gebeur daar iets hier binne. Hy voel vir die man in nood, en dit beweeg hom tot die daad. Hy stop, versorg die man se wonde, help hom op sy rydier, en vat hom na ’n plek waar hy kan aansterk.

Twee kerkmense wat God se wil ken, stap verby die man in nood. Hulle vroom Bybelpraatjies het geen verskil gemaak aan die man wat in die pad lê en bloei nie. Ek wonder wat het hulle daardie oggend voor hulle op reis gegaan het, gebid. Bewaar my asseblief op die pad? Seker. Dis mos wat ons ook bid. En ek wonder wat het hulle vir God gesê toe hulle daardie dag afgesluit het. Seker: “Dankie dat ek nie soos daardie man in die hande van rowers beland het nie.” Want hulle godsdiens het gegaan om hulleself en wat hulle van God kan kry; wat Hy vir hulle kan doen, en dis al. Dat hulle ’n roeping teenoor ander het, dat hulle God se gestuurdes in die wêreld moet wees, was nie deel van hulle verstaan van geloof nie.

Hoe skryf Paulus in 1 Kor 13 hieroor? Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het nie die liefde nie, is ek net ’n leë blik wat geraas maak.

Ek wonder dikwels oor die manier waarop ons oor Christenskap dink as ek dié gelykenis lees. Want dit wat hier in die kerk op ’n Sondag gebeur, is maar net die spanpraatjie voor die wedstryd. Die wedstryd word nie hier gespeel nie. Jy speel dit daar waar jou pad met dié van ander kruis, in die gewone lewe. Daar waar jy op iemand in nood afkom – dáár word die wedstryd van die geloof gespeel.

Dis mos wat Jesus in sy profetiese rede sê oor die laaste oordeel, dan nie? As Hy weer in majesteit kom, sal die mense wat die koninkryk beërwe, hoor dat hulle goed gedoen het omdat hulle nie by mense in nood verbygestap het nie. “Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen,” het Jesus mos gesê (Matt 25:40). En op ’n ander plek (Matt 7:12) spel Hy dit só uit: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” Ofte wel: nie wie is mý naaste nie, maar vir wie kan ek ’n naaste wees.

Onthou die vraag waarmee die gesprek begin het: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Jesus sê: die manier waarop ons teenoor ander lewe, het alles daarmee te maak.

In die week wat kom, gaan iemand jou nodig hê. Jesus het nie by mense verby gestap wat Hom nodig gehad het nie. Kom ons volg Hom op dié pad!

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: