“Eendag, lank lank gelede, is daar ’n Seuntjie in ’n klein dorpie in Palestina gebore. Sy naam was Jesus, en Hy was die Seun van God. Toe Hy gebore is, het God self eintlik by die mense kom woon …” Só dink ons graag oor Kersfees, as ’n pragtige verhaal, ’n verhaal waarin alles wonderlik mooi is, ’n verhaal wat ons roer en ons verplaas na ’n droomwêreld van geluk, ’n idilliese wêreld vol vreugde, ’n sprokieswêreld, waar alles net goed en reg en mooi is, en waar God naby die mense woon.

Só ’n verhaal kan ’n mens bly maak, maar dit bly ’n verhaal van eendag, lank lank gelede. Immers: ’n sprokie het met die harde, konkrete werklikheid van elke dag nie veel te make nie. Dit gaan oor ’n ander wêreld, ’n wêreld waarin die mense altyd lank en gelukkig saam woon. Aan ons eie swaar en stryd elke dag maak dit geen verskil nie, behalwe dat dit ons ’n kort tydjie daarvan laat vergeet. Maar as die storie verby is, klaar vertel is, is ons maar weer terug in die harde werklikheid van 2019.

1.

Maar – Goddank! – die Kersevangelie is nie so nie! Dit is geen droom nie, al klink dit dikwels vir ons na een. En dit is ook geen sprokie nie, al is talle sprokies al daaromheen geweef en vertel. Nee, die Kersboodskap is geskiedenis! Dis feite! Dis werklikheid! Dis die waarheid! Dit speel nie in ’n wonderlike droomwêreld af nie, maar in hierdie wêreld. Dit het regtig gebeur, op hierdie aarde, tussen mense soos ons, met gewone mense soos ek en jy! Dít wil die Bybel vir ons in ons gelese gedeelte sê.

Daarom begin Lukas nie sy beskrywing van die geboorte van die Here Jesus met “Eendag, lank lank gelede” nie – want só begin stories. Jesus se geboorte is nie maar net ’n mooi storie nie, dis werklikheid. Daarom begin Lukas sy beskrywing van Jesus se geboorte met ’n verwysing na die beroemde keiser Augustus van Rome, en met vermelding van Sirenius, die goewerneur van Sirië. Hy noem dit nie net ter wille van datering nie, maar veral omdat hy ons daarmee iets wil vertel van God! Hy wil vir ons sê: ons God kom maak geskiedenis midde-in ons wêreld. Onse God kom maak bemoeienis met hierdie alledaagse, bekende wêreld waarin ons elke dag staan. Die geboorte van die Here Jesus Christus is deel van die aardse geskiedenis waarin ons almal staan.

Die wêreld waarin die Seun van God mens geword het, was alles behalwe ’n sprokieswêreld. Dit was die wêreld van keiser Augustus, die wêreld van politieke onderdrukking, van magstryde, bloed, hoop, ellende. Dit was toe ook maar dieselfde as die wêreld waarin ons leef, ’n wêreld vol van spanning en rugstekery en korrupsie, soos ons dit nou in ons eie tyd beleef. In híérdie wêreld, in hierdie geskiedenis word die Héér gebore.

Dít is evangelie, want dit beteken dat God sy geskiedenis kom maak en sy vrede kom bring binne-in hierdie wêreld waarin ons elke dag lewe. God word mens vir ’n wêreld vol spanning en stryd, vir ’n wêreld vol haat en onreg, vir gewone mense soos ons, vir sondaars, vir eensames, vir treurendes, vir bedroefdes, vir verdruktes, vir beproefdes. En Lukas sê vir ons: dit is waar. Dit is geen storie of droom nie. Dit is werklikheid, dis geskiedenis. God het op hierdie aarde kom woon, onder ons, en sy geskiedenis met ons kom maak in die dae van Augustus, die keiser van Rome, en Sirenius, die goewerneur van Sirië!

2.

Maar daar sit iets meer in hierdie verse. In die eerste plek sê dit vir ons dat Kersfees nie net ’n mooi storie is nie, maar waar. En in die tweede plek sê dit vir ons op watter manier God sy geskiedenis in hierdie wêreld kom maak. Kersfees kom vir ons leer dat God sy geskiedenis kom maak dwarsdeur menslike planne en skemas heen. God gebruik die planne en dade van mense. Hy span dit in, rangskik dit, en te midde daarvan laat Hy sy ryk kom.

Keiser Augustus vaardig ’n bevel uit dat daar ’n sensus gehou moet word. Sy enigste oogmerk daarmee is om die mense beter te kan belas. Jy kan jou indink hoe die Jode daaroor gevoel het! En op grond van sy opdrag vertrek Josef en Maria op die moeisame tog van Nasaret na Betlehem, en so word die Skrif vervul dat die Verlosser van die wêreld in Betlehem gebore sou word, soos Miga al eeue tevore voorspel het. Augustus het nie eens geweet dat hy deel geword het van God se geskiedenis nie, dat sy eie slinkse planne deur God ingespan is om die profete-woord in vervulling te laat gaan nie. Maar só werk God: Hy span mense se planne in, al is hulle onbewus daarvan, al is dit in stryd met hulle eie bedoelings, om sy koninkryk te laat kom. Kersfees wil vir ons opnuut onderstreep: waar God werk, kan niks Hom keer nie.

3.

Ons moet ook ’n derde saak hier raaksien. In God se geskiedenis, in God se regering in hierdie wêreld, is die hoofkarakters nie noodwendig dieselfde persone as wat op die voorblaaie van die koerante en op die hooftrekke van die nuusbulletins verskyn nie. Want wat God wil, en wat die wêreld wil, is twee verskillende goed. Daarom speel God se geskiedenis nie af in die raadsale van die wêreld, in die Parlement of die Wit Huis of die Kremlin nie, maar in die lewens van mense wat elke dag gelowig hulle dagtaak verrig. Nie keiser Augustus of goewerneur Sirenius of die grote Herodes is die getuies van die wonder dat God mens word nie, maar gewone mense in ’n onbelangrike plek in die destydse wêreld: Josef en Maria en die herders van Betlehem.

En so is dit vandag nog. God se geskiedenis word nie in Washington of Pretoria gemaak nie, maar hier, waar sy kinders gelowig saam is om Hom te aanbid, om fees te vier omdat Hy sy Seun vir ons gegee het!

Só is God! Dít is die boodskap van Kersfees: God maak bemoeienis met hierdie wêreld, midde-in ons lewe van elke dag. Sy koninkryk kom, dwarsdeur menslike planne heen – en dit in die lewens van gewone, gelowige mense soos ons.

God is met ons! Kersfees is geen sprokie nie. Kersfees is werklikheid, Kersfees is goeie nuus, want Christus ís gebore!

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: