Partykeer wens ek ek kon ook vir Jesus gesien het toe Hy nog op aarde was, want ek verbeel my ek sou dan dieper onder die indruk gewees het van sy heiligheid en goddelikheid, en dan sou ek Hom met groter toewyding gevolg het. Miskien het jy ook al so gewens.

Die ding is net, as ek die Bybel reg verstaan, dat ons nie in Jesus ’n ander soort wese sou herken as wat onsself is nie. Hoe skryf Jesaja nou weer in Jes 53:2? Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Paulus praat ook daarvan in Fil 2 waar hy skryf dat die Seun van God nie sy goddelike heerlikheid vasgeklem het nie, maar dit afgelê het; Homself verneder het en die gestalte van ’n slaaf (of dienskneg; ons sou seker kon sê hande-arbeider) aangeneem het.

Maar een keer, daar op die berg, in die gedeelte wat ons vanoggend gelees het, het die heerlikheid wat deel van Jesus se Persoon is, vir ’n rukkie deurgebreek deur sy gewone mens-wees. Vir ’n tydjie het die skitterende heiligheid van sy goddelike wese sigbaar geword, skitterend-wit, vlekkeloos, omstraal van die hemelse glans.

Vir Petrus was dié gesig totaal oorweldigend. Hy was so oorbluf dat hy sommer begin nonsens praat het. Want só is die heiligheid van God. Dit oorweldig jou. Daarom het Jesaja soos ’n dooie aan God se voete neergeval (Jesaja 6). As ons net ’n visie daarvan kon hê! Moses wou ook graag vir God sien, en dan sê die Here nee, hy kan nie, want geen mens kan die heilige God sien en dit oorleef nie.

Ek dink daar is drie dinge wat ons hier moet raaksien.

Die eerste is dat ons hier vir Jesus geteken sien soos Hy werklik is; soos Johannes Hom later weer sou sien waar Hy op die strand in Patmos aan hom verskyn (Op 1). Jesus is heilig, heerlik, God! En al kan ons Hom nie met ons gewone oë só sien nie, moet ons Hom in ons geloofsoog altyd só sien.

Die tweede ding wat ons moet raaksien, is dat Moses en Elia, wat uit die hemel kom om met Jesus oor sy aardse sending en sterwe kom praat, ook so omhul was met ’n skitterende glans. Hulle kom uit die hemel, uit die teenwoordigheid van God, en in sy teenwoordigheid kan dit nie anders as dat jy óók iets begin vertoon van sy heilige heerlikheid.

Die derde ding wat ons hier moet raaksien, is dat Jesus se voorkoms verander het terwyl Hy besig was om te bid. Want as jy bid, is jy in die direkte teenwoordigheid van die heilige God, word jy as ’t ware tot in die hemel voor die troon van God verplaas. Dis tog hoe die Hebreërskrywer gebed beskryf as hy ons in 4:16 nooi om met vrymoedigheid na die genadetroon van God te gaan.

Nou wonder ek, liewe gemeente: is dit dalk omdat ek nie lank genoeg in God se teenwoordigheid vertoef dat ek nie die heerlikheid van Jesus duidelik genoeg kan sien nie, en daarom wens om méér te kan sien van sy heiligheid? En is dit omdat ek nie lank genoeg in God se teenwoordigheid vertoef nie, en daarom ook nie iets van sy heerlikheid uitstraal nie?

Want ek dink nie ons moet onsself bluf nie. Jy kan nie wegsteek wie jy is nie. Selfs Jesus kon dit nie die hele tyd regkry nie, en ons kan ook nie. As jy ’n innige, opregte verhouding met die Here Jesus het, móét dit op jou gesig wys, uit jou oë begin skyn.

Ek het dié feit deeglik verstaan toe ek nog in die hoërskool was. Ons het een jaar ’n CSV-toer na die Transkei onderneem. Ons het die sendingstasies besoek, en sommer ook die land en sy mense leer ken.

Een van die wonderlike dinge van die Transkeise kus is mos dat ’n mens selfs in die winter daar kan swem, want die water is nooit koud nie. Ons was by ’n sendingstasie naby die see (ek dink dit was dalk Lusikisiki), en ’n paar van ons het dié betrokke dag see toe gegaan om te gaan swem. Dit was ’n baie steil klim af na die see van waar ons bus gestop het. In elk geval, toe ons klaar geswem het en teen die bult opklim om terug te gaan bus toe, staan daar skielik ’n hele impi Xhosa’s voor ons in hulle gevegsdrag, kompleet met spiese en skilde en alles. Hulle het een of ander lied gesing en daar voor ons gedans met hulle spiese dreigend in die lug.
Soos julle kan dink, het ons ons boeglam geskrik. Maar dit was nie hoe bang ek was wat ek die beste onthou van dié dag nie. Wat my die helderste bybly, was hulle oë: dit het hard en koud geglinster. ’n Mens kon sommer die woestheid en wreedheid en boosheid in hulle oë en op hulle gesigte sien.

Wat sien mense as hulle in jou oë kyk? Wat vertel jou gesig vir ander? Dat jy ’n heilige God aanbid? Dat jy ’n volgeling van die heerlike Christus is?

Dit is vandag Sondag van die Verheerliking. Ons aanbid ’n heilige, verheerlikte Heiland wat ons oproep om heilig te wees soos Hy heilig is.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: