Oor ’n bietjie meer as vier weke vier ons Kersfees, vier ons die koms van die Seun van God na hierdie wêreld, vier ons dit dat daar ’n dag aangebreek het waarvan die engele gesing het: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!”

Maar waar is die vrede dan waarvan die engele gesing het? Maak Christus se geboorte 2000 jaar gelede enige verskil aan die lewe van elke dag? Ons moet blind wees om nie te sien dat daar nie vrede in hierdie wêreld is nie, maar onvrede, opstande, onluste en protes-optogte – om nou nie eens te praat van die voortsluimerende oorloë in die wêreld nie.

En daarom moet ons nie te gou wees om ons koppe te skud oor die vermetele houding van die volk Israel wat gesê het (3:14,15): “Dit is nutteloos om God te dien. Watter nut het dit dat ons sy bevel uitgevoer het en in rouklere rondgeloop het voor Hom, die Here die Almagtige? Dit lyk vir ons of dié wat teen Hom in opstand is, die gelukkiges is, en of dié wat verkeerd doen, vooruitgaan. Hulle daag God uit kom vry!”

Die Jode was moeg van die beloftes van die profete wat hulle bemoedig het met voorspellings van die koms van die Messias, en daarom het hulle sinies geraak en begin twyfel aan God se beloftes. Die wag-tyd het te lank geword. En ons? Ons wag nou al 2000 jaar. Elke jaar as ons Kersfees vier, wonder ’n mens maar weer: maar wat van die mooi beloftes, van die vrede en welbehae? Waar bly die God van liefde en die God van die reg? Het Christus se koms regtig enige verskil gemaak? Is dit nog die moeite werd om in God te glo? Kyk net hoe deurmekaar is die politiek, om nie eers van die NG Kerk te praat nie! Iemand sê onlangs vir my die NG Kerk het nie meer die morele moed om hom uit te spreek oor sake nie. Die kerk se stem het grootliks stil geword in die moderne samelewing. En dit terwyl dit so sleg gaan – die korrupsie, geweld en anargie, die morele en losse sedes, die sosiale onreg! Ons wêreld lyk nie eintlik anders as die wêreld van Maleagi nie. Het die wêreld ná Christus se koms ’n beter plek geword? Ons sien nog altyd die vrome ly en die goddelose floreer. Ons ken ook die vrae en vertwyfeling van die Jode in die tyd van Maleagi.

Terloops, hier in die verse is nogal iets wat my laat dink het. Die Jode verwyt God en sê: Maar dit help nie dat ons U dien nie – ons sien dan geen verskil nie. En dan skryf een kommentaar: Die probleem is: God kan óók nie die verskil sien tussen dié wat Hom dien en dié wat Hom nie dien nie, want ons het al net soos hulle geword. Ons lewens lyk ook maar nie juis anders as die ongelowiges s’n nie.

Maar om terug te keer na die punt: Die probleem met die Jode in die tyd van Maleagi wais dat hulle moedeloos, hopeloos, hooploos geword het. Daarom dat hulle opgehou het met glo. Sonder hoop maak geloof nie eintlik sin nie. Sonder uitsig op die toekoms is dit inderdaad nutteloos om God te dien. So sê Paulus ook in 1 Kor 15. En dít het Christus se koms totaal verander. Hy het vir ons hoop gebring, Hy het vir ons kom wys dat God wel sy beloftes waar maak, al werk sy tydtafel anders as ons s’n. Hy het vir ons kom wys dat God die mense, die wêreld, ons!, liefhet en daarom nie sommer net laat los nie. Daarom kan ons elke dag weet: God sal ons ook nóú nie los nie, al lyk dit en al voel dit vir ons soms so.

Christus het nie al die antwoorde met sy eerste koms gebring nie. Dit is waar. Maar Hy het nuwe hoop gebring vir ons, nuwe uitsig, omdat Hy aan die kruis op Golgota ons sondeskuld kom dra het, sodat ons nie in vrees vir God en sy oordeel hoef te lewe nie. Hy het nuwe hoop gebring, omdat Hy die dood oorwin het en weer opgestaan het, sodat ons kan weet dat ons ook eendag weer uit die dood sal opstaan en ewig sal lewe.

Kersfees maak daarom ’n geweldige groot verskil. In Christus het ons alle rede, alle grond om weer op God te hoop en Hom te verwag, opnuut te glo, al lyk die wêreld om ons nie soveel anders as die wêreld in die tyd van Maleagi nie. Want hy wat Christus se koms na die wêreld verstaan, hoef nooit weer te vra of God ons dan regtig liefhet nie.

Maar miskien moet ons in ons verlange en hoop op die wederkoms, in ons angstige haastigheid dat dit moet aanbreek, onthou dat genadetyd dan verby sal wees (4:1): “Die dag kom en hy brand soos ’n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie ’n wortel, nie ’n tak oorbly nie.” En dit terwyl God nie behae het in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat hy hom bekeer. God wil nie onheil vir die mensdom nie, maar heil, ten spyte van die wêreld se ongeloof. Joh 3:17 sê: “God het sy Seun nie na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” God wil nie onheil nie, maar heil en redding vir die wêreld bring. En dáárom het God nog nie met sy oordeel die goddelose verdelg nie. Hoe het Petrus nou weer geskryf (2 Pet 3:9)? “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”

Daarom dat die goddelose – en ons ook! – kan voortlewe. Omdat God sy oordeel uitstel. In Christus gee Hy ons nog ’n kans, gee Hy die wêreld nog ’n kans: die laaste kans.

Eendag, met die wederkoms, sal ons wel die verskil sien tussen wie goed doen en wie goddeloos is, tussen wie God dien en Hom nie dien nie. Ons kan met vertroue hoop op daardie dag, want ons het die bewys dat God ons liefhet: sy Seun, op Kersdag gebore vir ’n wêreld wat verlore gaan. En tot daardie dag, tot die Laaste Dag, is dit genadetyd. Laat ons dan God se genadetyd nie verspeel nie!

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: