’n Mens sou graag na die vorige gebed, nl die gebed om die vergifnis van ons oortredinge, amen wou sê. Want met hierdie gebed het ons tog by die hart van die Evangelie gekom, by die kruis en die genade en vergifnis. Ons het tog niks meer nodig as dit nie!

En tog leer die Here Jesus ons om nie daar te stop nie, om verder te bid: “En laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.” Hierdie “en” laat ons hard aarde toe kom, in die wêreld wat gekenmerk word deur sy versoeking, deur die Bose wat rondloop soos ’n brullende leeu op soek na iemand om te verslind (1 Pet 5:8). Want iemand wat vergifnis ontvang het, het nie daarmee immuun geraak teen die liste van die Bose nie.

Versoeking is ’n realiteit waaraan ons nie ontkom nie. Selfs die heiligste onder ons kom in versoeking. Ek wil amper sê: hoe heiliger jy leef, hoe hewiger word die versoeking. Hoe meer jy uit die genade leef, hoe meer word jy versoek om nie uit die genade te leef nie. Hoe ernstiger jy bid om die vergifnis van jou oortredinge, hoe ernstiger moet jy bid om bewaring in die versoekings. Want, so sê die HK 127: “Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons sondige natuur, nie op om ons aan te val nie.” Met die sesde bede van die Ons Vader bely ons aan die een kant ons broosheid, ons ingebore geneigdheid om maar toe te gee aan die versoeking, ja, bely ons ons boosheid van natuur; en aan die ander kant die ongelooflike taaiheid, die knaendheid van ons “doodsvyande”. Ons kan die eers “een oomblik” bly staan nie, maar hulle hou nie op om ons aan te val nie!

Wat ons in die gebed vra, is dat God deur sy genade ons tog nie in die versoeking moet laat kom nie, dws dat God tog so in ons moet werk dat ons die versoeking kan deurstaan, dat ons in die versoeking tog bewaar mag word. Omdat ons die broosheid en die boosheid van ons hart ken, omdat ons weet dat ons nie een oomblik kan bly staan nie, vlug ons na God toe.

Die versoeking as sodanig is dus nie God se “skuld” nie. ’n Mens sou uit die bede dalk so ’n afleiding kon maak, maar Jakobus (1:13,14) help ons baie gou reg as hy sê: “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: `Ek word deur God versoek’ nie, want God kan self nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.” Hoogstens sou ons kon sê dat God in sy genadige beskikking soms versoekings op ons weg toelaat om ons geloof te beproef, sodat die egtheid daarvan getoets kan word (1 Pet 1:6,7); dat God as’t ware vasstel of ons werklik uit die genade en vergifnis leef en wil leef.

Ek dink die gevaar is daar dat ons te veel op die versoekings en verleidings van die Bose fokus, in plaas van die oorwinning in Christus. Daarom skryf Paulus in Rom 8:9: Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. Die laaste woord is nie die versoekings nie, maar God se vernuwende werk in ons deur sy Gees!

God het raad met ons versoekings! Hy het ons doodsvyande geskaakmat deur Christus na die wêreld te stuur. In Christus het God al die planne van die bose gestuit en gefnuik. Want sien, God vra nie van ons iets wat Hy nie alreeds in Christus vir ons gedoen het nie. Ook Christus is versoek. Hy word trouens onmiddellik na sy doop in die Jordaanrivier deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word (Mat 4:1). Sy hele lewe staan in die teken van versoeking. Maar met dié verskil: Hy het nooit aan die versoeking toegegee nie. Daarom kon Hy daar aan die kruis in ons plek hang en vir ons sonde betaal, maar ook weer uit die dood opstaan, omdat Hy sonder sonde was. So het Hy die mag, die houvas wat die Bose oor ons het, verbreek. En deur sy Gees werk Hy dié oorwinning in ons eie lewens uit, hoe langer hoe meer.

Dit is waarvoor ons bid in die sesde bede van die Ons Vader. Ons gaan met vrymoedigheid na die genadetroon en bid dat ons nie in die versoeking kom nie, maar van die Bose verlos mag word. Ons mag dit doen, omdat Christus wel in die versoeking gekom, maar nie gesondig het nie, en daarom die Bose oorwin het. In die sesde bede vra ons dat sy oorwinnaarskrag – die krag van die Heilige Gees – in ons werksaam sal bly; skuil ons by Hom teen die aanslae van die Bose.

En as ons so by Hom kom skuil, ontdek ons dat ons nie alleen is nie, dat daar ander ook by Hom skuil, sy kerk, wat saam bid: “laat ons nie in versoeking kom nie.” Want sy krag is genoeg om sy kerk in die versoeking in stand te hou, genoeg om ons te laat volhard, “totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal” (HK 127).

Hiervoor het Hy ons sy Gees gegee. Paulus skryf in Rom 8:2: Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Die Heidelbergse Kategismus sê: Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelike stryd nie beswyk nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal.

Pinkster het aangebreek om ons te bekragtig om staande te bly in hierdie wêreld!

Amen.

Skakel die kantoor
%d bloggers like this: