Julle sal Lucas Maree se treffer goed onthou: “Ek sou kon doen met ’n miljoen”

Ja, ons droom maar almal daarvan om onafhanklik te wees; om ons eie ding te kan doen, en jy hoef niemand in die oë te kyk daarvoor nie. ’n Klompie jare gelede het Lucas Maree hierdie liedjie geskryf en dit het dadelik ’n treffer geword, want hy het ons almal se droom in dié lied verwoord. Hy sing: “Ek sou kon doen met ’n miljoen.” Nie om ryk te wees nie, sê hy gou, maar om onafhanklik te kan wees. Hy sing daar: “Ek dink nie ek wil ryk wees nie, ek wil net graag genoeg hê om so lank as wat ek wil in my jacuzzi te kan lê.”

O, die dag as ek vir die bankbestuurder kan sê: Meneer, nou het ek nie meer julle finansiering nodig nie! Wanneer ek nie meer hoef te wonder watter rekening ek hierdie maan nié gaan betaal nie! Wanneer ek kan ophou om my te bekommer oor waar ek geld gaan kry om my kinders te laat leer! Of waar ek ’n huis gaan kry as ek eendag aftree. O, om onafhanklik te wees, ís seker hemel op aarde!

Verkeerd!

Hoor wat sê die Here Jesus: Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle is. Nie mense wat op hulle eie bene kan staan is geseënd nie. Nie mense wat hulle eie ding kan doen nie. Nie mense wat niemand nodig het nie. Mense wat weet hoe afhanklik hulle is!

1. Afhanklik van God
Natuurlik in die eerste plek: afhanklik van God. Jesus sê mense wat weet hulle het God elke dag nodig, is geseënd. Mense wat besef dat hulle sonder sy sorg en genade nie kan leef nie. Mense wat weet dat hulle sonder God ook sonder hoop is in hierdie wêreld, soos Paulus in Efes. 2 skryf.

Liewe broer en suster, jy met die groot bankbalans, of die goeie betrekking en die ruim versekering, ook vir jou sê die Here Jesus vanoggend: Nie: Geseënd is dié wat selfversorgend is en niemand in die oë hoef te kyk nie. Nee. Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.

2. Ander mense
Ek sê dit gaan in die eerste plek om afhanklikheid van God. Maar dit gaan eintlik om meer as dit. Dit gaan hier om ’n ingesteldheid, ’n lewenshouding wat nié sê: ek het niks of niemand nodig nie. Die oorspronklike Grieks (2020-vertaling!) praat hier net van: arm van gees, m.a.w. nie vol van jouself, vol bravade nie. Daarom: afhanklik van God, maar ook mense wat weet: ek het ander mense om my nodig, en hulle vir my. Mense wat verstaan: in hierdie lewe is dit nie maar elkeen vir homself nie!

Jy is geseënd as jy verstaan dat jy God en ander mense nodig het, want dan is jy iemand wat in die Here se wêreld, in sy koninkryk, iets beteken.

Geseënd is jy, sê Christus. U weet, daar is baie mense wat alte maklik vir jou sê: Die Here sal jou seën. Ek het dit nog nooit gesê nie, behalwe as ek dit as predikant in God se Naam hier van die kansel af doen, want ek voel altyd ék beskik nie daaroor om iemand te seën nie. Wie is ék miskien om so te sê?

Maar hier is dit Jesus Christus self wat die seën uitspreek! Dis Hý wat die mens wat in afhanklikheid van God lewe, geseënd noem, oftewel: iemand wat die guns van God geniet!

Geseënd is jy, sê die Here, as jy geleer het om met nuwe oë na jouself en die mense om jou te kyk. Geseënd is jy as jy nie met té veel selfvertroue leef en daarom bo-oor ander mense loop nie. Geseënd is jy as jy maar liewer nie met té veel arrogansie jou toekoms uitwerk nie. Hou tog maar daarmee rekening dat jy net ’n mens is, dat jy in hierdie lewe, en in die lewe hierna, nie sonder God, sonder sy verlossing, sonder sy sorg, sonder sy beskikking, sonder sy liefde, sonder sy beskerming, dat jy in hierdie wêreld nie sonder God kan lewe nie.

Geseënd is jy, sê die Here, as jy raaksien dat jy ook ander mense in hierdie lewe in ag moet neem en nodig het. As almal om jou dit nie moet ontgeld nie, maar as jy sagmoedig is (vs 5); as jy nie net aan jouself dink nie maar ’n hart vir ander het; as jy barmhartig is (vs 7); as jy nie moeilikheid veroorsaak en twis bring nie, maar ’n vredemaker is (vs 9) …

Geseënd is jy, sê die Here, want aan jou behoort die Koninkryk van die Hemel.
Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: