Pinkstertyd is gebedstyd. Dit was al so vanaf die heel eerste dissipels se dae: toe die Here Jesus hemel toe is, het hulle na Jerusalem gegaan om daar te volhard in die gebed, totdat die belofte van die Vader, die Heilige Gees, aan hulle geskenk is. Daarom gaan ons ook vanjaar in ons Pinksterreeks by gebed stilstaan, en in die besonder by die Ons Vader, die Modelgebed, wat die Here Jesus self vir ons geleer het.

U ken natuurlik almal hierdie pragtige gebed uit die kop. In baie gemeentes is dit die gebruik om hierdie gebed elke Sondag biddend te sing as deel van die erediens. Ek onthou dat dit in die gemeente waar ek grootgeword het, ook Sondagaande na die preek gesing is. En op ’n stadium het die kerkraad besluit om dit nie meer te doen nie, want, het hulle gesê, hierdie gebed kan enigeen nie sommer onnadenkend bid nie. Dit is immers nie sommer ’n rympie wat jy opsê as jy die Ons Vader bid nie.

Ek wil amper sê dis gevaarlik om die Ons Vader te bid. Want dis ’n gebed waarin ons God se ingrype in hierdie wêreld afbid, waarin ons pleit dat Hy nie hierdie wêreld waarin ons woon sal laat soos dit is nie, maar sal verander, sal omkeer, dat Hy iets sal laat sigbaar word van die nuwe hemel en die nuwe aarde wat eendag sal wees as Christus op die wolke van die hemel kom in al sy heerlikheid.

∙ Ons bid in hierdie gebed: Laat u Naam geheilig word, terwyl God se Naam daagliks in hierdie wêreld geminag en onteer word, mense sy Naam laster en dit gebruik om te vloek en te sweer…
∙ Ons bid in hierdie gebed: Laat u koninkryk kom, en dit terwyl dit in die wêreld maar net gaan om mense se eie koninkryke, mense se eie ideale en strewes, terwyl mense rustig lewe en hulle min steur aan God en sy gebod …
∙ Ons bid Laat u wil geskied terwyl mense lewe na hulle eie wil, en boonop hulle eie wille aan andere opdwing en nooit eens vra na die wil van die Here nie …
∙ Ons bid Gee ons vandag ons daaglikse brood terwyl die mensdom eintlik maar leef asof hy self en alleen verantwoordelik is om sy maag te vul en allermins in afhanklikheid van die Goeie Gewer hulle bestaan maak …
∙ Ons bid om die vergewing van ons sondes terwyl al hoe minder mense enigsins meer oor sonde nadink of selfs wil erken dat daar so-iets is soos ‘n gebod van God waaraan ons gehoorsaam moet wees … Ons sê vergewe soos ons ook vergewe terwyl daar in hierdie wêreld juis nie plek is vir vergifnis nie, maar dit eerder gaan om ’n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ’n tand …
∙ Ons bid om van die versoeking en verleiding van die Bose verlos te word, en dit in ’n wêreld waar die Bose juis aanbid en gedien word op soveel maniere, waar versoekings eerder gesoek word en verheerlik word …

Julle sien, ons bid hierdie gebed in ’n wêreld wat so anders lyk as dit waarvoor ons pleit. Kan julle dink wat sal in die wêreld gebeur as God ons gebed beantwoord, as Hy die wêreld begin verander? Dan sal alles mos moet verander, dan sal almal mos moet verander! Daarom sê ek: Dis ’n gevaarlike gebed om te bid, want dit kan die wêreld tot in sy fondamente skud! Want dit is tog waarom dit in gebed gaan, en in besonder in hierdie model-gebed wat die Here Jesus vir ons geleer het: Dit is deur God bedoel om die wêreld te verander, te vernuwe, sy ryk te laat kom. Gebed is die instrument wat God aan ons gee om die droom van die nuwe hemel en die nuwe aarde te verhaas – en daarom is dit gevaarlik, want dan kan niks dieselfde bly nie.

Maar hierdie gebed het nie net ingrypende implikasies vir die wêreld soos ons hom ken nie. Hierdie gebed is ook uiters gevaarlik vir onsself, ons wat dit so gemaklik en onnadenkend bid – gevaarlik vir ons eie ideale, lewens, strewes, drome, belange, gedragspatrone, gewoontes, gedagtes.

Want wat doen ons as ons die Ons Vader bid? Ons stel onsself tot beskikking van die koms van Gods Koninkryk. ’n Mens kan nie vir iets bid as jy nie ook bereid is om daarvoor te werk nie. Daarom het daar in die kerk deur die eeue hierdie leuse ontstaan: Ora et labora: bid en werk.
∙ Want as ons bid: laat u Naam geheilig word, dan bid ons: laat ons, laat ek, u Naam heilig, dws laat ons, laat ek u eer en prys in gedagtes, woorde en dade met my hele lewe.
∙ As ons bid laat u wil geskied, dan bid ons: gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee sodat ons aan die Here se wil alleen sonder enige teëpratery gehoorsaam sal wees.
∙ As ons bid om ons daaglikse brood, vra ons daarmee dat ons ons vertroue van alle ander dinge aftrek en God alleen vertrou vir ons versorging.

So kan ons aangaan. Julle sien wat ek bedoel. Jy kan nie die Ons Vader bid, sonder om ook bereid te wees om self verander te word nie. As ons hierdie dinge in die Ons Vader vra en dit regtig bedoel, sal ons nooit dieselfde kan bly nie, sal ook ons lewens ingrypend verander word, sal baie dinge wat vir ons so vanselfsprekend is en wat ons so liefhet, vir ons verander. Terwyl ons met opregtheid hierdie gebed bid, sal ons verander word, begeester met die droom van God en ontsteld oor die wêreld en ons eie lewens, en sal ons begeester word tot die navolging van dié Jesus wat ons so geleer bid het.

Ons het natuurlik hierin nie ’n keuse nie. Dit is immers nie sommer net nog ’n gebed wat die kerk nou weer uitgedink het nie. Dit is die gebed wat die Here Jesus self, die Koning van die Kerk, vir ons geleer het. Daarom gaan ons in die week wat kom, elke aand stilstaan by een van die bedes van die Ons Vader, gaan ons leer om waarlik te bid soos die Here Jesus ons geleer het om te bid, al vra dit van ons om onsself in die proses prys te gee, sodat God deur sy Heilige Gees ons kan verander en vernuwe en bruikbaar maak in sy koninkryk.

Aanvaar jy hierdie uitdaging?

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: