Ek wonder darem wat ek sou gedoen het as ek een van die Israeliete was. Hulle was nou al amper 40 jaar aan die rondswerf deur die woestyn; 40 jaar van trek sonder om by jou bestemming te kom. Miskien moet ons nie so gou wees om hulle te veroordeel omdat hulle ongeduldig geword het nie, kortgebaker, humeurig (vs 4). Want die laaste tyd betrap ek myself ook dat ek kort van draad geword het omdat ek moedeloos is. Die pandemie eis sy tol en druk my plat.

Die moeilikheid is, as jy so moeg en moedeloos en humeurig raak, begin jy net die verkeerde en die slegte raaksien en kyk jy die goeie mis. Dan raak selfs die wondergawes uit God se hand soos die manna vir jou onhanteerbaar, word dit vervelige, aaklige kos. Dan begin jy fout vind met alles en almal.

Die Israeliete was by so ’n punt: sat. En hulle haal dit op God uit: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.”

As jy eers daar is, is daar min vreugde in jou lewe en jou geloof.

Dan raak die kerk ’n slegte plek en die dominee is hopeloos en die mense is onvriendelik en die kerkraad gee nie goeie leiding nie … Dan sien jy nie meer die erediens as ’n feesgeleentheid waarheen jy kom om God te aanbid en te loof nie, maar as ’n plig wat jou Sondagsrus verstoor. Dan sien jy nie meer die diaken as iemand wat gekom het om jou die geleentheid te bied om die Here te dank met jou offers nie, maar as ’n lastige besoeker wat net altyd meer uit jou wil melk. Dan sien jy die kerkverband nie meer as ’n gawe waardeur ons ondersteun word en waardeur ons saam met ander kan dien nie, maar as ’n kruis.

Wat maak God met mense wat mor en kla en uitvaar teen sy sorg en liefde?

Die antwoord is nogal ontstellend vir ons wat so gemaklik daarmee is dat God ons sondes genadiglik vergewe, en daarom nie te veel wroeg oor ons sonde nie. Want Num 21 wil dit uitskreeu dat God nie sonde verdra nie. Daarom stuur Hy giftige slange onder die Israeliete in sodat die lyke begin ophoop. En die Israeliete moet tot hulle beskaming erken dat hulle verkeerd was; dat hulle God se goedheid en sorg in sy gesig teruggegooi het. Daarom bely hulle: “Ons het teen die Here gesondig met wat ons gesê het …”

Dis baie interessant hoe die Here kies om hulle nood te verlig. Hy kon natuurlik net vir die slange gesê het: “Skoert!” en dan was die probleem op ’n end. Maar dis nie wat Hy doen nie. Hy sê Moses moet ’n koperslang maak en dit op ’n paal sit, en dan moet die Israeliete daarnatoe opkyk as hulle genees wil word.

Dalk sê dit vir ons iets oor die pandemie. God se antwoord is nie ’n outomatiese kitsoplossing nie. Hy gee wel vir ons ’n uitkoms. Ek sien die inenting as presies dit. Maar dan moet jy jou laat inent, anders gaan dit nie help nie. Jy kan sê dis nonsens, dan bly jy in gevaar om dodelik siek te word. Daar was seker Israeliete ook wat vir Moses uitgelag het en gesê het die slang op die paal is nonsens. Maar dié wat na die slang gekyk het, is gered.

Jy sien, die oplossing het iets van die Israeliete gevra. Hulle kon nie net met ’n belydenis volstaan nie. Hulle moes hulle vertroue in God plaas, na die koperslang opkyk …

Baie jare later het Jesus hierdie gebeurtenis gebruik om aan Nikodemus te verduidelik wat later met Hom sou gebeur toe God eens en vir altyd dit wou uitskreeu dat Hy nooit met ons sonde kan saamleef nie: “Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê” (Joh 3:15). En daarmee sluit Jesus aan by wat God van die Israeliete ook verwag het: nie bloot die teenwoordigheid van die slang kon hulle red nie, maar die opkyk na die slang, die vertroue in God wat kan genees, het hulle gered. En so is dit met ons ook: nie bloot die kruis van Jesus red ons nie, maar die gelowige opkyk na Jesus red ons, die vertrou op Hom.

Nou weet ons vandag van Jesus se kruisdood vir ons, dat Hy aan ’n paal opgehang is om ons te red van die sondedood. Jy kan alles daarvan weet sonder dat dit iets aan jou doen, want net so min as wat ’n koperslang op ’n paal die Israeliete kon red, net so min kan die blote feit van die Here se kruisdood jou red. Christus wil jou red as jy in geloof opkyk na die kruis, en jou hand uitsteek na Hom, as jy jou vertroue op Christus stel vir jou verlossing, jou redding uit die sondedood.

En as jy dit doen, red Jesus jou nie net uit jou sondedood nie; Hy red jou ook uit die groef van onvergenoegdheid en ongeduld en bedruktheid en kortgebakerdheid. Hy skenk jou nie net nuwe en ewige lewe nie, Hy gee ook vir jou nuwe krag, nuwe moed, nuwe blydskap, sodat jy hier uitgaan as ’n ander mens as wat jy hier ingekom het.

Dis mos wat die Hebreërskrywer in 12:1-3 sê: “Hou Hom voor oë … Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.”

Ek weet nie van julle nie, maar ek het dit nodig. Ek is moeg en moedeloos en onlustig, en daarom wil ek graag vanoggend my geloofsoog opnuut op die kruis vestig, waar Jesus gehang het sodat ek die lewe kan hê, en dit in oorvloed, en sodat ek opnuut die genadige sorg van ons hemelse Vader kan herken en beleef in die lewe van elke dag.

Amen.

Skakel die kantoor
%d bloggers like this: