Ek hoor verlede week mense hou nie van die erediensliturgie waar die wet Sondae gelees word en skuld bely word nie. Dit vir hulle ’n steurnis in die gang van die diens. Dit het my gedagtes laat teruggaan na drie goed uit my bediening.
Die een was ’n vrou wat vir my gesê het sy wil nie Sondag in die kerk hoor dat sy sonde het nie. Sy wil hoor dat sy oulik is, en goed voel oor haarself.
Die tweede is ’n ouerige man wat ek besoek het wat nooit kerk toe kom nie. Toe ek hom daaroor uitvra, sê hy kerk is vir jongmense wat nog sonde doen. Hy is daarby verby; hy doen nie meer sonde nie en daarom het hy nie die kerk nodig nie.
Die derde is ’n jong kollega van my wat op ’n dag in die kinderdeel van die erediens vir die kinders gevra het of hulle weet wat die Here van ons verwag. Hy sê die Here verwag van ons net twee goed. Ek dag toe, uiteindelik gaan hy ook die wet in die erediens hanteer. Hy het, soos baie mense deesdae, nie ooit die wet of die geloofsbelydenis in die erediens gebruik nie. Maar hier kom dit nou, dink ek. Toe sê hy die Here vra van ons net twee goed: ons moet onsself liefhê, en ons moet ander mense liefhê. (Julle weet natuurlik dat die Here van ons twee goed vra, maar: dat ons Hom moet liefhê, en ander. Interessant dat hy daarmee God met homself vervang het.)

Dis nogal vreemd dat mense niks van sonde wil hoor nie, of dink dis nie eintlik iets om gereeld aan aandag te gee nie, want dis deel van die hart van die evangelie. Die HK begin daarmee in vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in die troos van God se sorg salig te kan lewe en sterwe? En die antwoord: Drie dinge: Hoe groot my sonde en ellende is, hoe ek van al my sonde verlos kan word, en hoe ek God vir die verlossing dankbaar kan wees.

As die Kategismus praat van hoe groot my sonde en ellende is, moet ons nie dink dit gaan net oor groot sondes soos moord en bedrog en diefstal en egbreuk nie. Dit gaan oor alle sonde. Want alle sonde kom uit ’n hart wat nie na God luister nie, maar eerder na jouself. Ook die ou klein, “onskuldige” sondetjies, soos skinder en jok en ongehoorsaamheid en liefdeloosheid, ook hierdie sondes is aanstootlik vir God. Ek dink nie hierdie psalmdigter was ’n slegter mens as enigeen van ons nie, en tog dompel die skuld oor sy sonde hom in die diepste ellende, want hy weet dat dit afskuwelik vir God is.

Dis presies hieroor wat die nagmaal ook praat: oor ons sonde. Want die nagmaal vertel vir ons wie ons is: ons is sondaars, verlore sonder die offer van Christus. Die brood sê Christus se liggaam is gebreek tot ’n versoening van jou sonde. Die wyn sê die bloed van Christus het gevloei vir jou sonde. Die nagmaal vertel ons ons is sondaars. Dit is waaroor Ps 130 gaan. In hierdie lied worstel die digter met sy sondeskuld; is hy in die diepste dale van ellende, want hy besef hoe ver hy van die merk af is. Daarom roep hy uit die dieptes (vers 1) en erken hy in vers 3: “As U sondeskuld toereken, Here – my Heer, wie kan dan staande bly?”

Maar die nagmaal vertel ons nie net wie ons is nie. Die nagmaal vertel ons ook wie God is. Dit vertel dat God ons nie ons sondeskuld wil toereken nie, want dan sal nie een van ons dit maak nie. God kon seker gesê het ons sonde en sondigheid is nie sy probleem nie, maar Hy doen dit nie! Hy máák dit sy probleem. Daarom het die Seun van God mens geword. 2 Kor 5:21 sê: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” Die nagmaalsformulier sê: “So seker as wat hierdie brood voor ons oë gebreek word, en hierdie beker aan ons gegee word en ons dit met die mond eet en drink, so seker het ons deel aan Christus, aan sy sterwe en opstanding. Hierdeur waarborg Hy sy soenverdienste vir ons so volledig asof ons self voor God gestaan het, self die straf vir ons sonde gedra het, self daarvoor gesterf en opgestaan en ons geregtigheid voor God verwerf het.”

Die psalmdigter het natuurlik nog nie van Christus geweet nie, en daarom wag hy met sy hele wese op die Here (vers 5 en 6). Die nagmaal herinner ons vanoggend dat ons nie hoef te wag nie. Ons kan terugkyk na Golgota en dit vir onsself toeëien: God hét in Christus vergifnis vir ons verkry. Die formulier sê die nagmaal is “’n vreugdefees, waar die Heiland op ’n besondere manier die vrugte van sy lyding, sterwe en opstanding uitdeel.”

Die nagmaal is ’n fees van verlossing en van behoort-aan. Ons behoort aan God. Hy het ons gekoop met sy eie bloed. En ons behoort aan mekaar, want ons is almal gekoop en vir mekaar gegee. Die formulier sê: “Deur die Heilige Gees is die lewende Christus in die nagmaal by ons teenwoordig. Verder word ons deur dieselfde Gees ook weer met mekaar as lidmate van een liggaam in liefde saam verbind …”

Die psalmdigter het tog iets hiervan verstaan. Daarom praat hy nie net oor homself en sy eie verlossing nie, maar sluit hy Israel, die Godsvolk in in sy gebed. Hy sluit af (vers 8 en 9): “Israel, vestig jou hoop op die Here, want by die Here is troue liefde, by Hom is volkome bevryding. Dit is Hy was Israel bevry van al sy sondeskuld.”

Voor ons is die maaltyd wat God berei het. Kom ons vier fees!

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: