’n Mens kan hierdie woorde van Dawid in vs 1: “ek kom niks kort nie” op meer as een manier verstaan. Dit kan wees dat hy met hierdie woorde bedoel dat God in oorvloedige luuksheid vir hom gee en voorsien, sodat hy alles het wat sy hart maar net begeer. En as ’n mens na hierdie psalm kyk, lyk dit nogal of dit dit is wat Dawid hier bedoel. Hy praat hier immers van die groen weivelde waarin die Here hom laat rus, van die vredevolle waters waarheen die Here hom neem, van die nuwe krag wat die Here hom gee, en die regte paaie waarop die Here hom lei. En of dit nie genoeg is nie, sing hy ook nog van die feesmaal waarby die Here hom laat aansit, dat hy ontvang word soos ’n eregas en oorlaai word met hartlikheid. Hy sing hier van die Here se goedheid en sy liefde wat altyd daar is.

Ek is seker uit jou eie lewe weet jy dat die Here regtig so is, dat Hy so sorg vir ons elke dag. Ons kan almal getuig van gebede wat die Here wonderbaarlik verhoor het, hoe Hy uitkoms gegee het toe ons dit so nodig gehad het, hoe Hy van dag tot dag vir ons sorg. Ek hoor so dikwels hoe mense getuig van die Here se goedheid in hulle lewens. Hier kort ná Lydenstyd is ons almal diep bewus van die Here se voorsiening, dat Hy sy eie Seun vir ons gegee het. Jesus pas hierdie psalm van Dawid op Homself toe as Hy van Homself praat as die Goeie Herder (Joh 10), wat juis gekom het sodat ons die lewe kan hê, en dit in oorvloed (10:10). Daarom, dink ek, is hierdie psalm so bemind by ons, omdat ons almal onsself terugvind in hierdie psalm se woorde.

Maar die woorde “ek kom niks kort nie” kan ook op ’n ander manier verstaan word. En as ons die psalm noukeurig lees, lyk dit nogal of die manier wat ons die psalm verstaan, nie heeltemal reg is nie. Want as ’n mens kyk na wat Dawid hier sê, is dit ’n vraag of dit regtig hier gaan om ’n situasie van oorvloed waaroor die psalmis sing. Hy praat dan hier van die teëstanders (vs 5), en van die donker dieptes waar hy die Here se beskerming nodig het (vs 4). As ons hierna kyk, lyk dit nie asof alles so rustig en idillies in Dawid se lewe was toe hy hierdie woorde gedig het nie. Die meeste kommentare is dit met mekaar eens dat hierdie psalm gebore is in ’n situasie van uiterste nood.

Daarom, so lyk dit vir my, moet ons die woorde “ek kom niks kort nie” anders verstaan. Ons het nie hier in die eerste plek ’n dankseggingslied nie, maar ’n belydenis wat Dawid gebid het in omstandighede waar hy waarskynlik regtig omtrent alles kortgekom het, niks gehad het nie. Dit was tóé, toe die donker dieptes rondom hom toegesak het, tóé dat hy gebid het: Ek kom niks kort nie. Want Dawid het geweet God se helpende hand en sorgende teenwoordigheid, God self is by hom. Dawid het geweet die Here is sy herder. En daarom het hy in hierdie lewe nie veel meer nodig gehad nie, selfs al het dinge hoe donker vir hom gelyk.

En ons – kan ons dit ook sê? Dat ons niks kortkom nie? Dat God alleen vir ons genoeg is? Of het ons nog baie ander dinge ook nodig vir ons lewe?
∙ Ek kom niks kort nie, solank ek net gesond is.
∙ Ek kom niks kort nie, solank alles net vlot by die werk.
∙ Ek kom niks kort nie, as ek net op ’n ander plek kan woon.
∙ Ek kom niks kort nie, as ek net meer geld gehad het.
∙ Ek kom niks kort nie, as die inperking net gelig kan word.

Ek vra weer: Kan ons ook soos Dawid bely: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie”?

Miskien dink jy nou: Ja, maar die Here het darem ’n snaakse manier waarop Hy vir ons sorg, waarop Hy ons herder is. Waarom is dit nou nodig dat Hy ons soms so swaar laat kry?

Dis natuurlik tipies hoe ons dink. So gou om die Here die skuld te gee vir ons situasie. Maar as ons so redeneer, verstaan ons die Here se sorg verkeerd. Die Here se sorg beteken nie dat alles elke dag voor die wind gaan nie. Die Here se sorg beteken nie dat my bankbalans altyd stewig moet wees nie, of dat almal van my moet hou nie, en dat daar nooit hartseer in my lewe sal wees nie. Die Here se sorg beteken dat ons in elke situasie, of dit nou goed gaan of sleg, kan weet Hy hou ons vas. Hy gee ons nuwe krag om die situasie die hoof te bied. Hy help ons om staande te bly in die krisis.

Natuurlik is die Here in beheer van ons lewens. Natuurlik kan Hy swaarkry stuur om ons terug te roep van ’n verkeerde pad. Dit het Hy dikwels met die Israeliete in die Ou Testament gedoen.

Maar dikwels – ek wil waag om te sê meestal – is Hy nie die oorsaak van ons ellende nie. Soms is dit ons wat self ’n verkeerde ding doen en ellende oor onsself bring, soos ’n vrou wat haar man en huis verwaarloos, sodat hy later sy sin vir die huwelik verloor. Of ’n man wat ’n dwalende oog het, en sy vrou vertrou hom nie meer nie. Is dit dan God se skuld as die huwelik probleme ondervind? Of die kind wat nie leer nie en die eksamen dop. Of iemand misbruik alkohol, en dan pak sy lewer op. Is dit God se skuld?

Dit kan natuurlik ook wees dat die Satan agter die ellende sit. Dit wil die verhaal van Job vir ons leer.

Uiteindelik is die vraag na die oorsaak van ons ellende die verkeerde vraag. Waar die probleme presies vandaan kom, is nie so belangrik nie. Wat belangrik is, is wat ons maak as die probleme kom, as ons in die donker dieptes is, soos Dawid in hierdie psalm. In sy nood en ellende wys hy nie ’n beskuldigende vinger na God nie, maar klou hy aan Hom vas, koester hy hom in die Here se nabyheid en sorg. En as hy dit doen, ontdek hy tot sy vreugde dat die Here hom nie gelos het nie, maar by hom is. Daarom kan hy ook nie end-uit maar net oor God se sorg praat, soos hy die psalm begin nie. Want hy ontdek God is te naby om net oor Hom te praat. Daarom begin hy in vers 4 mét God praat; begin hy te bid. Want vir Dawid is God nie maar net Iemand in die hemel nie, maar ’n lewende werklikheid in sy lewe, met Wie hy kan praat, Iemand wat saam met hom elke dag deur die lewe gaan, ook saam met hom die donker dieptes instamp, ’n Vriend.

Dit is die geheim van Dawid se lewe, die geheim agter sy belydenis van vs 1 dat hy niks kortkom nie: hy het met die Here geleef, nie as ’n onpersoonlike, onbekende God nie, maar as ’n lewende Persoon, wat hy geken het, met wie hy gepraat het, vir wie hy liefgehad het en vertrou het.

Is dit ook die geheim van jou lewe?

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: