“U laat my by ’n feesmaal aansit”, sê Dawid. “U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly …” Dit is wat Dawid sê. Dan praat hy ook nog van die groen weivelde waarheen die Here hom neem, en van die waters waar daar vrede is, en die nuwe krag en regte paaie waarop die Here hom lei, sodat hy niks kortkom nie. Vir Dawid was die lewe soos ’n feesmaal. Is dit hoe jy die lewe sal beskryf? ’n Fees?

Ek is seker daar is baie van ons wat vandag so sal sê. Maar ek weet ook dat ons nie almal elke dag so voel nie. Miskien voel jy om vanoggend te sê: Ek weet dat dit die boodskap van die Bybel is, maar dit is darem nie heeltemal op my van toepassing nie. Dit was seker maar omdat Dawid ’n man na God se hart was, dat hy dit kon sê. Hy was immers die koning van Israel. Vir so iemand is die lewe seker ’n fees. Maar vir ons gewone mense is dit ’n ander storie. Ons het met die harde werklikheid van die lewe te doen.

Maar – en dit is belangrik dat ons dit hier sal raak sien – alles het tog ook nie altyd voor die wind gegaan met Dawid nie. Dink maar aan die jare wat hy voor koning Saul vir sy lewe moes vlug en as ’n balling in die land van die Filistyne moes woon. Dink maar aan die hartseer toe sy en Batseba se seuntjie dood is, of die tragedie in sy huis, toe sy oudste seun Amnon sy halfsuster Tamar verkrag het. Hierop het Tamar se broer Absalom vir Amnon vermoor, sodat Dawid vir Absalom uit Jerusalem verban het, en dit uiteindelik uitgeloop het op ’n staatsgreep deur Absalom, en Absalom se dood. Julle ken almal die ontroerende geskiedenis van Dawid se smart oor sy seun Absalom; hoe Dawid dit uitgekerm het: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun” (2 Sam 18:33).

Ja, alles het nie altyd voor die wind gegaan met Dawid nie. Ons lees iets daarvan in hierdie psalm, waar hy praat van die donker dieptes waardeur hy soms moet gaan (die donkerste kloof, sê die BDV), en van sy teëstanders (vs 4 en 5). En tog sê hy dat hy niks kortkom nie (ly geen gebrek nie – BDV), dat die lewe vir hom soos ’n feesmaal is. Wat was dan sy geheim?

Dit lyk my die geheim van Dawid se borrelende vreugde, van die veerkrag in sy godsdiens, het daarin gelê dat hy God se hand, God se beskikking in sy lewe, raakgesien het.

Daar is ’n baie treffende voorbeeld hiervan in 1 Sam 24. Dawid was op die vlug voor Saul se moordbendes, en hy kruip in ’n grot weg. Dan kom Saul en gebruik die einste grot waarin Dawid wegkruip, as ’n toilet. Dawid kon op die plek vir Saul doodgemaak het, maar hy doen dit nie. Hy sny net ’n stukkie van Saul se mantel af, en as Saul uit die grot uitstap, stap Dawid agterna en wys vir Saul die stuk mantel om te sê: Jou lewe was in my hande. En dan sê hy vir Saul (1 Sam 24:13): “Die Here sal regspreek tussen my en u en die Here sal my wreek op u, maar ek sal nie teen u wees nie.”

Dawid het geweet: God is in beheer van sy lewe. Hy sorg vir hom, en daarom hoef hy hom nie te bekommer nie. Kyk net hoe beskryf hy sy lewe, hoe sien hy God se teenwoordigheid in sy hele bestaan:

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.
Hy laat my in groen weivelde rus.
Hy bring my by waters waar daar vrede is.
Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my op die regte paaie …
U is by my. In u hande is ek veilig.
U laat my by ’n feesmaal aansit …
U ontvang my soos ’n eregas …

Dawid het iets gesien wat ons dalk miskyk. Dawid het gesien dat die Here met hom besig is, dat niks wat met hom gebeur, toevallig is nie. Dit beteken nou nie dat, as die Here met jou besig is, alles gaan soos jy dit wil hê nie. As die Here met jou besig is, gaan alles nie soos jý dit wil hê nie, maar gaan dit soos die Hére dit wil hê. Dit moes Dawid ook leer. Dit was immers die Here wat die feesmaal vir hom berei het, wat besluit het wat op die spyskaart moes wees en wat nie; dit was die Here, nie Dawid nie. Daarom bely hy in vers 3: “Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.” Tot God se eer, nie Dawid s’n nie. En God se paaie loop nie altyd reg soos ons dink dit moet loop nie. God se paaie loop soms maar deur die donker dieptes. Maar Dawid het geweet: Dit is God se paaie, en daarom is dit die regte paaie, want uiteindelik sal dit uitloop op die eer van God se Naam, en daarin het Dawid hom verbly.

Dit is die rede waarom Dawid die lewe as ’n feesmaal uit God se hand beleef het: Omdat dit vir hom heerlik was om deel te wees van God se wêreld, omdat dit vir hom heerlik was om te beleef hoe God met hom besig is. Omdat hy elke dag vol opgewondenheid gewag het om te sien hoe God se paaie sou lei, waar God hom sou uitbring. Daarom voel hy soos ’n eregas van God, iemand spesiaal vir die Here, beleef hy hoedat God hom oorlaai met sy seëninge en hartlikheid, hoedat God se goedheid en guns hom agtervolg, hoedat dit maar net altyd daar is, waar hy hom ook al draai.

Daar is twee maniere waarop ’n mens na hierdie wêreld kan kyk: Jy kan daarna kyk en oral die letsels van die sonde en die sleepmerke van die duiwel sien. Of jy kan na die wêreld kyk en God se teenwoordigheid, sy hand daarin raaksien en die tekens van die oorwinning wat Christus behaal het. Dit is tog God se wêreld (Ps 24:1,2). Hy het dit gemaak, en Hy het dit ook weer losgekoop uit die mag van die Bose deur die bloed van sy eie Seun, Jesus Christus. Hierdie wêreld behoort nie aan die Bose nie, al wil die duiwel so graag hê ons moet dit dink, en al kry hy so nou en dan ’n hou in. Dit is God se wêreld.

Dit is hoe Dawid die wêreld gesien het. As God se wêreld. Daarom is die lewe vir hom ’n fees, want God is daar!

Miskien kyk ons maar net verkeerd. Miskien moet ons weer ’n slag kyk: Dit is God se wêreld hierdie! Hy regeer, ook in ons lewens – en daarom, al lyk dit of ons paaie soms skeef en krom loop, God is in beheer! Hy sal ook vir jou en my lei op die regte paaie.

Kom ons glo dit. Kom ons vertrou God met ons lewens. Kom ons geniet die feesmaal wat Hy ook vir ons berei het.

Amen.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: