Dalk kan ek nog dít byvoeg by wat ek nou met die kinders gepraat het: Die wet is nie iets wat ons inperk en ons pret bederf nie; die wet is daar om ons te help om die lewe in al sy rykdom ten volle te geniet soos God dit bedoel het. Dis hoekom Jakobus op 2 plekke (1:25 en 2:12) sê die wet maak ’n mens vry. Die wet is die spelreëls van die lewe, en net as jy jou aan die reëls hou, kan jy die lewe geniet. Buite die reëls werk die lewe net nie goed nie; nie vir jou nie, en ook nie vir ander nie.

Ek onthou goed hoe frustrerend dit vir ons kinders was om Scrabble te speel saam met my pa. Hy het gedink dis baie snaaks as hy kroek. Hy het letters stilletjies probeer omruil, of ekstra letters getrek, of met iemand anders uitgeruil. Vir ’n tydjie was dit pret, maar dit het die spel vinnig opgemors. As almal hulle nie aan die reëls van die spel hou nie, werk die speletjie nie. Maar as almal volgens die reëls speel, is dit ’n heerlike spel.

Dís wat die Tien Gebooie is: spelreëls vir die lewe, sodat ek en jy in vryheid en met oorgawe elke dag voor God kan leef.

In die tiende gebod gaan dit oor begeer. Ons kan dit ook noem: afguns of jaloesie. Dis wanneer jy iets wil hê wat nie joune is nie, of op ’n ander persoon jaloers is omdat hy het wat jy nie het nie.

Dis wat met Asaf in Psalm 73 gebeur het. Hy was jaloers op die voorspoed van ander, op hulle onverskillige lewenswyse. Hy het gedink, omdat hy volgens die reëls speel moet dit met hom goed gaan. En dit moet sleg gaan met die mense wat nie volgens die reëls speel nie. Maar soos hy die saak bekyk het, het dit nie gebeur nie. En dit het hom kwaad gemaak en in ’n geloofskrisis laat beland. Hy sê in vers 1-3: God is vir Israel baie goed, vir dié wat rein van hart is. Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien.

Kom ons wees maar eerlik: daar sal altyd mense wees met wie dit op die een of ander manier beter gaan as met jou. Daar sal altyd mense wees wat meer geld het as jy, of ’n spoggeriger kar ry, of ’n mooier huis, of ’n beter werk, of suksesvoller op die sportveld, of gewilder onder die kollegas, of mooier, of slimmer in die klas … God se seëninge is nou eenmaal nie beperk tot net ’n paar uitverkore enkelinge nie. Hy het té veel om uit te deel. Hy is té ruimhartig en oophand om net vir ’n paar gelukkiges sy seëninge te gee. Hoe het die Here Jesus nou weer gesê in Matt 5:45? Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.

Natuurlik: daar sal ook altyd mense wees met wie dit slegter gaan as jy, wat minder het as jy, ’n kleiner inkomste, ’n nederiger huis, swakker gesondheid … Want sien, jy het óók meer seëninge as party ander. Ander sou op jou óók jaloers kon wees.

Die moeilikheid wat Asaf gehad het, is dat hy só op ander gefokus het dat hy dit wat hyself gehad het, misgekyk het. Daarom was hy afgunstig en onvergenoegd met die lewe, en uiteindelik met God. Want dit is in die laaste instansie mos God wat dié dinge reël, dan nie?

Die tiende gebod, “Jy mag nie begeer nie,” wil ons help om op te hou om onsself met ander te vergelyk. In die woorde van Mark Twain: “Comparison is the death of joy.” Moenie kyk wat ander het nie. Geniet liewer die seëninge wat jyself ontvang het.

Dis baie insiggewend om te sien hoe Asaf by dié punt uitgekom het dat hy opgehou het om jaloers te wees op ander en begin waardeer het wat hy het. Hoor wat sê hy in vers 16-17: “… dit was vir my bitter moeilik totdat ek in die heiligdom van God ingegaan het …” Want daar, in die teenwoordigheid van God, het hy begin om anders na die lewe te kyk; het hy gesien dat die lewe méér is as net die uiterlike, én dat die lewe meer is as net die tydjie hier op aarde. Hy het in God se teenwoordigheid ’n groter prentjie begin sien en agtergekom dat niks, maar niks, vergelyk kan word met die weelde van aan God behoort nie.

Kom ek sê dit weer: niks, maar niks, kan vergelyk word met die weelde van kind van God te wees nie.

Toe Asaf dít eers besef het, het hy opgehou om hom moeg te maak met wat ander mense het, en het hy begin waardeer wat hyself het, en die seëninge wat hy elke dag uit God se hand ontvang, begin raaksien. Uiteindelik, sê hy, is dit al wat tel: Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie, sê hy in vers 25.

Dis mos wat Dawid ook sê in Ps 23: Die Here is my herder, ek kom niks kort nie, skryf hy.

Call Now ButtonSkakel die kantoor
%d bloggers like this: